Dit is alombekend dat ‘n troeteldier die
beste manier is om vir ‘n kind verantwoordelikheid te leer. Dit is ook alombekend
dat dit ‘n kind ‘n rukkie vat om verantwoordelikheid te leer.
As laerskoolkind het ek ‘n groot vistenk
met guppies gehad. Kleinsus het ‘n mannetjieskat met die naam “Bella” gehad.
Sakkie, my boetie, het ‘n hamster met die naam “Kuiken” gehad, maar dit was nou
al ‘n rukkie terug. Ons het onlangs Kuiken IV begrawe…
Die moeilikste deel van “verantwoordelikheid”
wat jy moontlik vir ‘n seuntjie kan leer, is dat ‘n mens nie met hamsters kan
speel op dieselfde manier as wat jy met jou speelgoed speel nie. Kuiken I het
per ongeluk in Bella se pens beland terwyl die drie maatjies “Touchers” gespeel
het. Kuiken II het in die speelgoedkas omgekom. Kuiken III het ongelukkig nie
die wasmasjien se siklusse oorleef in die kleinman se broeksak nie.
Op die dag wat Kuiken IV by die Van
Rensburg gesin aangesluit het, was daar ernstig bosberaad gehou. Hierdie was
nou die laaste een. Sakkie het land en sand belowe dat hy mooi na sy nuwe
maatjie sal kyk en hy het… vir so vier maande lank. Kuiken IV het uitgehou en
ons almal het gedink dat Sakkie nou begin verstaan wat beteken
verantwoordelikheid.
Die 10de Januarie het ons die seuntjie se
10de verjaarsdag gevier. Dit was natuurlik ‘n groot aangeleentheid en hy is
bederf met so groot skaalmodel Hummer waarvan die deurtjies kan oop en toe maak
en sulke ligte wat flits terwyl die wiele draai. Langs die swembad is daar so
lang stuk plaveisel van om en by dertig meter wat perfek is vir die toetsrit
van die nuwe speelding, maar almal weet tog dat geen voertuig kan ry sonder ‘n
bestuurder nie. En so begin die nagmerrie….
Eers was dit ‘n klein weermag mannetjie,
maar hy was nie die regte grootte vir die kajuit nie. Volgende aan die beurt was
‘n tor, maar die het ‘n lawaai op die enjin veroorsaak. Toe kom Kuiken IV aan
die beurt. Die eerste paar ritte het goed gegaan, maar Kuiken IV het vinnig
moeg geraak om so in die kajuit vasgekeer te wees en het vinnig ‘n manier
gevind om te ontsnap. Ongelukkig was dit ‘n dobbelspel wat die brawe klein hamstertjie
sy lewe gekos het. Albei die regterkantste wiele het oor sy ou pensie gery
voordat Sakkie kon remme aanslaan.
Gelukkig was daar nie bloed betrokke nie.
Die galante klein renjaertjie het nog vol moed probeer om te beweeg en het
sulke klein piep-geluidjies wat jou hart in ‘n knop getrek het. Die lyding het
nie lank geduur nie en Kuiken IV het sy laaste asempie uitgeblaas terwyl hy in
sy snikkende maatjie se handjies gelĂȘ het.
Die lewelose liggaampie is deur ‘n huilende
seuntjie in die mooiste stukkie lap toegedraai en Pappa het hom gehelp om ‘n
klein gemerkte graffie in die tuin te maak naby Sakkie se gunsteling speelplek.
Dit was ‘n grou dag in die Van Rensburg huis.
Laatmiddag het ons almal bymekaar gekom, gedress
en gepress, vir die teraardebestelling van Kuiken IV. Sakkie het stadig uit die
huis gestap gekom met die klein lyfie in sy hande. Ons was nie presies seker
hoe om die situasie te hanteer nie en het maar gestaan en rondvroetel. Sakkie
het besluit die begrafnis is nie dramaties genoeg nie en so 10 meter van ons af
het hy in sy mooiste engelstemmetjie (wat natuurlik nog nie gebreek het nie)
begin sing. Tum-tem-te-daaaaam, tum-tem-te-daaaam!
Ons neem maar aan dit was veronderstel om
die dodemars te wees, maar toe daardie betraande gesiggie doodernstig die
troumars begin sing, het ‘n paar van ons nie geweet waar om ons koppe in te
druk nie en net Pappa kon dit regkry om ‘n hartseer gesig te hou.
Dis nou bietjie meer as ‘n maand later en
Sakkie het nog nie weer vir ‘n hamster gevra nie. Ons dink hy het nou besef wat
dit beteken om vir ‘n troeteldier te sorg. Natuurlik het nog niemand ‘n woord
gesĂȘ oor die troumars nie. En ek het in stilte besluit dat ek eendag op my
troue in Canon in D in die kerk in sal stap. Die troumars het maar nou so
bietjie ‘n hartseer klankie…
Maar ai, tot volgende keer…