Donderdag 18 Augustus 2016

Spookmeisie van Spannervalley

'n Mens kry 2 tipes atlete. Die een groep is regtig ernstig oor hulle atletiek. Die ander groep is die lot met wie ek geassosieer het...

In my graad 8 jaar, het 11 van ons atlete, wat wissel tussen o/14 en o/19, saam op ‘n atletiekkursus gegaan. Ek kan nie onthou wat ons geleer het nie. Al wat ek kan onthou is dat ons was daar om sportprestasies te bevorder. En die matrieks was mooi gewees. 

Die "sports" het al begin toe ons agterkom dat die inwoners van Sasolburg hulle room “Spanners” noem. (In ons kontrei is die “Spanners” die spif vuilgatte wat ‘n Kips kan tune dat hy klink soos ‘n Harley op steroids.)

Daar gekom, word al 11 van ons, meisies en seuns deurmekaar, op dieselfde gang geplaas juis omdat ons so min is. Toe die organiseerder vir ons gids verduidelik dat ons bly op die boonste gang van die Wes-vleuel, toe hardloop die koue rillings op en af teen haar nek. Oppad boontoe, teen die duisende en duisende trappies op, vertel sy toe vir ons dat daardie gang spook. Die storie lui dat die dame het selfmoord gepleeg in die badkamer en tot vandag toe nog kom loer sy by die kamerdeure in opsoek na haar kamermaat.

Dit was volmaan gewees en die matriekseuns wou die dames beïndruk met hul manewales. Die hele lot van ons het uit die koshuis uitgeglip en op die maanverligte rugbyvelde gaan kuier. Die manne het getjank soos wolwe en dit "maankoors" genoem. Hulle het die meisies banggemaak en die fisiese kontak "ondersteuning" genoem. Die graad 8's moes gras pluk met 'n tweezer en hulle het dit "ontgroening" genoem. Die aand was 'n

belowende                                 geïsoleer van realiteit

                 legendariese            begin van die einde en einde van die begin         

nostalgiese               "Eye of the Tiger" 

tipe aand totdat ons vinnig-vinnig teruggejaag is kamers toe.

So vergeet ons van die girl, gaan stort en maak reg om te katel. Toe alles stil en donker is, vra my kamermaat vir my of ek dink die gang spook regtig. Natuurlik het ek die gedagte sommer dadelik afgeskiet en ons het tot ruste gekom.

Ek word wakker van ‘n nood wat voel soos ‘n damwal wat dreig om te breek. My selfoon wys dis presies 02:00. Ek hoor net my kamermaat se rustige, diep asemhaling. Ek staan op en loer by die deur uit. Die badkamer is aan die anderkant van die gang. Die gang het so sieklike, gelerige skynsel van die gloeilampe se lig en moontlik die kleur van die muur. Ek sluip in die gang af. Jy kan ‘n speld hoor val. In die badkamer kan jy net die egalige zzzzzzz geluid hoor van die buisligte. Toe my broek op my enkels lê, vang die lig so dip. Skielik is ek bewus van die spookstorie. En die penarie waarin ek myself nou bevind!

Ek loer by die badkamer se deur uit en besef meteens dat dit was maklik om hier te kom, want ek het in die lig in na die badkamer gestap. Nou moet ek in die donker in terug na my kamer toe stap. En dis ‘n laaaaaaang gang... Die gedagtes is nog nie koud nie, toe dryf die eerste staccato knal my nekhare regop en my oë wyd oop. Die lig die naaste aan die badkamer het sopas afgesit. Die tweede staccato knal het ‘n sprint my ontketen wat vir Usain Bolt trots sal maak. Die ligte sit nou af so vinnig soos wat ek verby hulle vlieg... en toe tref die paniek my: Ek weet nie watter kamer is myne nie!

Ek ruk aan die eerste deur, maar dit is gesluit. Ek pluk die volgende deur oop en stop dood voor die bed toe ek sien daar is klaar ‘n figuur onder die duvet. Teen hierdie tyd is die gang stikdonker. My paniekaanval begin grens aan dierlike instink. Soos ‘n vaartbelyne Jaguar wat sy prooi bespring, spring ek in die volgende kamer se bed in, hande-viervoet bo-oor ‘n blonde figuur wat lê in die bed wat ek gedink het is myne. Hy gil. Ek vlieg by die deur uit. Al wat ek kan hoor is my eie hartklop, rukkerige asemhaling en ‘n matriekseun wat gil. In die volgende kamer loer ek eers in die bed in voordat ek inklim. Sy gil so hard dat ek eers geskok staan en kyk vir ‘n paar sekondes voordat ek by die deur uitstrompel. Die kamer heel op die punt is myne. Ek weet dit want my kamermaat het klaar die lig aangesit as gevolg van al die gille en lyk asvaal daar waar sy op haar bed in haar kombers toegevou sit. Ek slaan die deur agter my toe. Ons kyk net vir mekaar. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is my asemhaling uiteindelik weer amper normaal.

Ek moes 'n paar keer vir haar verduidelik presies wat gebeur het. Ek het angsvrees beleef en so ook die ouer kinders. Sy wou haarself breek! Die ligte was egter 'n raaisel. Ons het daardie aand gepinkie-promise dat die waarheid nie "die lig sal sien" solank as wat ons minderjarig is nie. 

Die volgende oggend toe ek die lig aansit om te gaan tandeborsel, kom ek agter dat die ligte is in serie geskakel. Hulle sit aan soos wat die elektrisiteit deur hulle vloei en as jy dit afsit, kan jy sien hou die elektriese stroom onttrek: die ligte sit een vir een af! Iemand moes die lig afgesit het terwyl ek in die badkamer was. (Dat 'n mens tog nou jouself allerhande dinge kan wysmaak as daar spookstories betrokke is... gmf!) Die stories aan die ontbyttafel was egter die beste:

“Jislaaikit, ouens! Sy was bo-op my gewees! Haar oë is so rooi soos bloed en sy het met haar swart naels my oë probeer uitkrap.”

“Dis nog niks nie, sy het net langs my bed gestaan en vir my gestaar!”

“Wat?! Sy was saam met my in die bed gewees totdat ek begin gil het, toe verdwyn sy net!”

Ek en my kamermaat het maar net doodstil gesit en luister na die ouer kinders se ervarings met die spookmeisie. Die arme girl is nou ‘n verskriklike karakter. Sy het lang swart hare, rooi oë en lang, vuil vingernaels. Haar wit nagklere is geskeur en sy kom net uit as dit volmaan is.

In die proses het ek geleer dat ‘n mens trek nie wit nagklere op ‘n toer aan nie en jy gaan loop jou draaie voordat jy gaan slaap.


Tot volgende keer...