Wys tans plasings met die etiket staaltjie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket staaltjie. Wys alle plasings

Sondag 23 Oktober 2016

Juffrou Martha is getrou

Hierdie is nou nie 'n oorspronklike staaltjie nie, maar so 'n kosbare storie dat ek net moes deel: Ek weet nie wie die oorspronklike karakters is nie, maar indien ek op tone trap bied ek maar byvoorbaat verskoning aan asook die waarborg om hierdie plasing te verwyder...

'n Klompie dekades terug was intercoms die nuutste tegnologiese trend wat by skole posgevat het. Die een skool na die ander het kommunikasiekanale oopgemaak direk vanaf die klas na die kantoor en andersom. Die oggend tydens die personeelvergadering kondig mnr. Vos aan dat hy gedurende die dag via die nuut geïnstalleerde intercoms met elke onderwyser gaan praat om te toets dat al die intercoms in albei rigtings werk.

Die dag het sy normale gang gegaan, Juffrou Martha het haar klasse aangebied soos gewoonlik. Wat wel bietjie anders was as gewoonlik, is dat Juffrou Martha 'n student gehad het wat by haar gekuier het. Juffrou Paulina het Juffrou Martha, wat naby aftree-ouderdom was, se kennis en ervaring ingesuig soos 'n spons en Juffrou Martha was gretig om die jong studente-juffroutjie tot die beste van haar vermoë voor te berei vir die onderwys.

Die middag laat sit die twee dames in die klas en gesels oor Wiskunde, dissipline en die onderwys in die algemeen. Skielik onderbreek 'n diep mansstem die ouer dame. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha bly stil en draai haar kop effens skuins om te luister. Die hoendervleis slaan uit op haar arms. Grootoog Juffrou Paulina wag in spanning dat Juffrou Martha moet antwoord, maar na 'n paar oomblikke van stilte maak Juffrou Martha net haar sin klaar. Juffrou Paulina gaan maar, uit ordentlikheid, aan met die geprek en sê niks oor die vreemde onderbreking nie.

'n Paar minute gaan verby. Juffrou Martha het net begin om dissipline vir Juffrou Paulina te verduidelik, toe die diep mansstem haar weer in die rede val. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha se oë rek, sy draai haar kop skuins om te luister, maar sy sê niks nie. Juffrou Paulina sê ook maar niks nie. Die gesprek oor dissipline gaan aan, maar nie met dieselfde vlotheid as vroeër nie. Skielik kom die stem weer, hierdie keer bietjie meer ongeduldig.

"Juffrou. Martha. Kan. Jy. My. Hoor??"

Die volgende oomblik vlieg 'n statige ou dame uit haar stoel uit dat die stoel sommer so oor die vloer skiet. Langs haar tafel val sy op haar knieë neer, hande in die lug, trane wat oor die ou verrimpelde gesiggie loop.

"Hier's ek, Here, U getroue dienaar luister, praat met my!"

Daar heers 'n paar oomblikke van stilte. Juffrou Paulina staan op en stap na die intercom toe. Sy druk die rooi knoppie. "Dis Juffrou Paulina hier, ons kan Meneer hoor."

"Reg so Juffrou, geniet julle middag verder."

Blykbaar het Juffrou Paulina die verwarde Juffrou Martha eers van die vloer af opgehelp en gewag totdat hulle mekaar gegroet het voordat sy uitgebars het van die lag. Wie sal nou weet wat het werklik gebeur buiten vir die twee dames wat daar was daardie dag? Was ek maar 'n vlieg teen die muur!

Tot volgende keer...


Maandag 10 Oktober 2016

Inkhukhu koop is not for sussies

Dit gebeur baie dat mense soms bymekaar verby leef, al woon die betrokke partye onder dieselfde dak. Jou beroep en omstandighede bepaal die tipe ervarings wat jy, na ‘n rukkie, as normaal beskou. Tog kan dit wat vir jou normaal is, iets heeltemal buitengewoon wees vir selfs die mense wat die naaste aan jou is.

Vandag se storie begin op die oggend van die laaste dag van die skoolkwartaal en vir die eerste keer in 'n lang tyd is die gesin weer voltallig. Ma, Pa en Sakkelaan is by die skool tot 10h00 toe en die twee sussies slaap die roes af by die huis. Nie een van die selfone is aan nie, so toe die skoolgangers so net voor elf in die huis in stap, is sekere van ons nog in pajamas...

Mamma het probeer om ons te laat weet, maar die boodskap is nooit gelees nie. Pappa moet kringkantoor toe gaan vir papierwerk en dit sal vir hom baie beteken as ons saamgaan. Ek het 'n sê-ding waaraan my hartsmense my ken... As die wiele draai: Ek gat saam!

Binne 5min is die pajamas in die wasgoedmandjie en, vol geselsies en grappies, maak die vyf van ons ons tuis in Catriva, soos wat Ouma die Captiva noem. Nie ek of Kleinsus het ontbyt geëet nie en ter wille van sekere mense sal ek maar net my eie outfit beskryf: 'n groen rugbytrui en yogapants, hare in 'n los bolla en nul grimering. Ons gaan mos net saamry, nie uitklim nie...

Kamhlushwa is 'n redelike entjie vanaf Malelane, in die rigting van die Swazilandgrens. Pappa, in sy hoedanigheid as skoolhoof, ry die pad seker elke tweede dag, so vandag gebruik hy die geleentheid om 'n stukkie van sy wêreld vir ons te wys.

Mamma het so rukkie terug die idee gekry dat sy met Nguni-hoenders wil begin boer sodat sy kan kers-opsteek by die manne. Soos wat ons deur die township ry, skree sy net so elke nou en dan, "Kyk daai hoender!!". Dan ruk ons ons almal ons nekke af want Pappa ry nie teen 'n slakkepas nie. Bygesê, elke keer wat sy gegil het, was dit tog die moeite werd gewees om te kyk. In die middel van die township begin die sports toe "Kyk daai hoender!" vervang word met "STOP!!" Pappa stop. Mamma het 'n hen gesien waarvan sy hou, Pappa moet reverse. Hy sien nie die twee siele links agter Catriva nie en stoot hulle amper uit die pad uit. Ons smile maar net breed en waai vriendelik. Ek en Pappa klim vol bravade uit, ons gaan nou onderhandel!

Dis warm. Ons bekruip die shack amper, daar kleef ‘n vreemde reukie aan die erf. Die dame lyk amper vriendelik totdat sy hoor ons wil hoenders koop. Sy stuur ons dieper in die township in. Pappa stap na die huisie waar daar moontlik hoenders te koop kan wees en ek gaan vir Mamma-hulle haal. Soos ‘n kriek wat voor die ossewa uithardloop, wys ek vir Catriva die pad. Die amper-wit stofpad is meer rybaar as baie teerpaaie waarmee ek al kennis gemaak het.

Ons stop voor die huisie, dis netjies en verbasend skoon. Die omgewing is rustig, so asof tyd nie bestaan nie. Die grootpad klink ook maar ver. Daar is nie baie beweging om ons nie, al wat jy hoor is voëltjies en so hier en daar 'n hoender. Nie een hulle praat Afrikaans of Engels nie, ons moet wag vir iemand wat kan vertaal. Die jong seun bring vir ons plastiese stoele en ons gaan sit. Ons gesels oor die lewe en die kulture en oor Afrika in ons eie taal. Ons gasvrou en haar gesin gesels saggies in hulle taal terwyl hulle rustig hulle pap verder eet. 'n Uitgehongerde brak met Windhondbloed drentel in die straat af. Oorkant die straat speel daar orrelpypies onder die boom. Daar staan 'n mooi spieëlkas op die stoep. Stelselmatig word Afrika-tyd 'n realiteit.

Eventueel kom daar iemand wat ons taal verstaan. die onderhandeling is onsuksesvol, daar was vroeër 'n siekte onder die hoenders en die hennetjies is nie te koop nie. Ons klim terug in die lugverkoelde voertuig, die stilte hang in die kar ook. Catriva se neus draai pad se kant toe. Die mense langs die pad waai, ons waai terug. Mamma druk 'n muntstuk in een van die kleintjies se hande in. Pappa weet darem in watter rigting ons moet ry, want as dit van my afgehang het, het ons nooit daar uitgekom nie. Pappa het net so begin spoed vang, hoor ons net, "STOP! Ek soek daai enetjie!" Pappa rol sy oë en glimlag. Ons giggel. Pappa doen nie moeite om stadiger te ry nie.

 “Lief, dis dieselfde hoender as nou-nou wat nie te koop is nie, ons is net aan die ander kant van die shack.”

Dik van die lag stop ons by die kringkantore. Pappa is seker vir ‘n volle twee minute daar voordat hy uitkom en sy werk is vir eers afgehandel. Oppad terug, besluit Pappa hy wil vir ons Elangeni-Lodge gaan wys op die Jeppes Reef-pad. Dis nou die plek waar al die deftige funksies gehou word waarheen hy so gereeld moet gaan. Ek is eers skrikkerig om uit te klim, my outfit is nou nie juis gepas vir 'n drankie by 'n deftige lodge nie!Ons stap verby ‘n dammetjie met die mooiste wit en pers waterlelies, die bruggie is so bietjie lendelam. Die volgende oomblik gil my ma asof haar lewe daarvan afhang; daar is blykbaar ‘n likkewaan op die brug! Die res van ons is net betyds om ‘n akkedis so groot sy my hand onder die trappie in te sien verdwyn...

By die kroeg, stormloop sy die eetarea binne toe sy ‘n trappie mistrap. Teen hierdie tyd is ons almal se maagspiere al seer gelag. Pappa maak sommer vinnig-vinnig die kroegman bymekaar en bestel ons drankies. Net toe ons rustig raak, gil Mamma, “Kyk daai mooi hoenders!” Dit is werklike mooi hoenders, dit lyk soos die hane wat op kombuisblikke verskyn. Sy vra vir die kroegman of sy ‘n hoender kan koop. Die kroegman antwoord dat hoenders net vroeg in die oggend of laat in die aand bestel kan word. “But I want it alive!” Die kroegman is stilverbaas. Hy sê hy sal gou iemand gaan kry om die hoender te vang, dis R120. Nie te lank nie, toe kom die man met so vaal hennetjie daar aan. Tot ons almal se vermaak, laat die Engelse juffrou se Engels haar in die steek toe sy nie “rooster” kan onthou nie en sy nie vir ‘n man wil sê dat sy soek ‘n “cock” nie. Wat raak sy toe kwyt?

“Oh, no! I want the cock-one!”

Ons wil onsself doodlag. So tussendeur besef ons dat onder die vyf van ons, het ons nie genoeg kontant vir die hoender nie. Pappa onderhandel met die kroegman sodat hy kan swipe vir die hoender saam met die drankies. Eventueel kom die man met my ma se cock-one daar aan. Die strokie lyk heel interessant:

Single Whiskey & Water
Spiced Gold & Sprite
Spiced Gold & Coke
Passionfruit lemonade & Cane
Coke
Inkhukhu
TOTAL

En daar sit ons. Op ‘n nugter maag: Phiskey en pater in die een hand en my ma se cock-one in die ander, rustig by Elangeni Lodge terwyl Roxette oor die speakers die stilte verbreek.

Soms is dit nodig om net so bietjie weg te breek uit jou gemaksone uit en om die wêreld van die mense wat naby aan jou is te beleef. Dit bring ‘n anderste perspektief op die lewe. Avontuur kom vir die wat oop is vir vreemde ervarings. En hoenders kom vir die wat ver genoeg gaan soek!

Tot volgende keer...



Sondag 25 September 2016

Die Juffrou en die Ranger

'n Mens se beroep (of toekomstige beroep, in my geval) bepaal nie werklik wie jy is nie, maar dit dra baie by tot die idee wat mense van jou vorm, veral in die vroeë stadium van 'n jong vriendskap.

So het die Juffrou (die uwe) en die Ranger (die nuwe vriend) besluit om ontbyt in die Wildtuin te gaan eet. Nonsens praat is aan albei kante 'n sterkpunt, so daar was darem nie awkward stiltes nie. Sommer vroeg-vroeg het ek geleer dat die woord "awkward" onsteltenis veroorsaak, juis omdat dit naby aan die Ranger se geboortenaam is en die geboortenaam is verbode terrein. 

Om saam met 'n Ranger in die Wildtuin rond te ry, kan nogals heel interessant raak... Ons het meer as een keer gerem dat die stof so staan om mis te bekyk of te ontleed hoe 'n bobbejaan gesterf het deur te kyk na die gedroogde vel. Ander kere kan dit heel frustrerend raak, want hy sien leeus wat jag en ek sien bome...

Dit daar gelos, kom ons so elfuur die oggend by die ruskamp aan, dood van die honger. Ranger moet eers sy hande gaan was, want hy het aan die bobbejaan se vel gevat en Juffrou vat nie nonsens nie. So loop ons en gesels met aaaaaallllll die besoekers wat tussen ons en 'n oop tafel sit. Al die mense waarsku ons teen die ape wat so 'n oorlas van hulself maak, maar elke keer verseker Ranger hulle dat die Juffrou net die aap 'n taai klap sal gee en dan sal hulle ons uitlos. Juffrou maak natuurlik 'n oorknoop... Die piekniekmandjie se inhoud was net op die tafel uitgepak toe die eerste aap 'n kans kom waag. Van die ander gaste het egter gehelp met 'n lang stok en die aap het spore gemaak.

Net toe ek so die eerste byt vat, sien ek in my bril se weerkaatsing net vier pote wat my van agter bespring. Die Ranger se oë was net so groot soos sy mond oop, maar daar was nie tyd om 'n geluid te maak nie. Veg of vlug skop toe in en almal weet tog dat ek nie vinnig genoeg is om weg te hardloop nie. Ek maak toe nou maar soos iemand wat weet wat sy doen en die Ranger het mos gesê die Juffrou sal klap... Die agterkant van my hand maak kontak met die aap se bek dat jy eers hoor hoe kraak sy kakebeen en toe die doef-doe-doe-doef geluid soos wat hy oor die grond rol. Dis net stof waar jy kyk. Die aap kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ranger kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ek weet nie wie van ons drie die grootste geskrik het nie. Ek is ook nie seker wie is die meeste verbaas nie. 

"Ek het nie gedink jy sal dit regtig doen nie."

En dan tref die besef jou so hard soos wat jou hand die aap getref het: Die Ranger was nie ernstig oor die klappery en dit is nie die regte manier om van ape ontslae te raak nie, dit is die manier hoe jy hulle aanspoor om die "score te kom settle". Toe maak ons maar spore.

Ranger was maar stil gewees vir 'n redelike lang tyd. My ma het hom mos gewaarsku dat ek befoeterd kan raak. Dis nou maande later en hy koes nogsteeds as ek te vinnig beweeg terwyl hy in die omtrek is... So ry ons verder in Niemandsland in. 

Daar was niks gewees nie en die volgende oomblik is ons in die middel van 'n trop olifante. Ek is in die sewende hemel. Ranger is op sy stukke. Ek is nie seker of hy my probeer vermaak of bang maak deur so naby aan die olifante te kom nie. Hy praat met die olifante soos wat ek met my honde praat. En toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. (Die olifant was besig om ons te storm, as jy nou gewonder het wat aangaan). Ranger sluit nie die kar aan nie, hy gesels nog met die olifant langs ons. My binneste skree so hard dat ek nie besef daar kom nie 'n geluid by my mond uit nie. Die olifant was al amper op ons gewees, heel rustig, steek Ranger sy kop by die venster uit.

"Oi! Bos toe!"

En sal jy nou glo: Daar steek die olifant vas in sy spore dat die stof sommer so staan. Heel rustig draai hy om en draf terug in die bos in! My brein shortcircuit. Dit moes 'n lucky shot gewees het! Ranger gesels verder met die olifant langs hom asof daar niks weird sopas gebeur het nie. Ek besluit toe nou maar om eers niks te sê nie. Ek het in elk geval niks woorde nie. Ons ry so entjie en hy stop weer so reg onder die volgende olifant se neus, maar die keer aan my kant. Ek hou my maar braaf, die man weet mos wat hy doen. Ek laat toe dat die rustige manier wat hy met die olifant praat, my ook kalmeer. My hartklop het net rustig geraak, toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Weer. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Weer. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. Weer. Heel nonchalant, steek Ranger sy kop by die venster uit.

"Oi! Bos toe!"

En daar hol die olifant!

Tot volgende keer...

Donderdag 18 Augustus 2016

Spookmeisie van Spannervalley

'n Mens kry 2 tipes atlete. Die een groep is regtig ernstig oor hulle atletiek. Die ander groep is die lot met wie ek geassosieer het...

In my graad 8 jaar, het 11 van ons atlete, wat wissel tussen o/14 en o/19, saam op ‘n atletiekkursus gegaan. Ek kan nie onthou wat ons geleer het nie. Al wat ek kan onthou is dat ons was daar om sportprestasies te bevorder. En die matrieks was mooi gewees. 

Die "sports" het al begin toe ons agterkom dat die inwoners van Sasolburg hulle room “Spanners” noem. (In ons kontrei is die “Spanners” die spif vuilgatte wat ‘n Kips kan tune dat hy klink soos ‘n Harley op steroids.)

Daar gekom, word al 11 van ons, meisies en seuns deurmekaar, op dieselfde gang geplaas juis omdat ons so min is. Toe die organiseerder vir ons gids verduidelik dat ons bly op die boonste gang van die Wes-vleuel, toe hardloop die koue rillings op en af teen haar nek. Oppad boontoe, teen die duisende en duisende trappies op, vertel sy toe vir ons dat daardie gang spook. Die storie lui dat die dame het selfmoord gepleeg in die badkamer en tot vandag toe nog kom loer sy by die kamerdeure in opsoek na haar kamermaat.

Dit was volmaan gewees en die matriekseuns wou die dames beïndruk met hul manewales. Die hele lot van ons het uit die koshuis uitgeglip en op die maanverligte rugbyvelde gaan kuier. Die manne het getjank soos wolwe en dit "maankoors" genoem. Hulle het die meisies banggemaak en die fisiese kontak "ondersteuning" genoem. Die graad 8's moes gras pluk met 'n tweezer en hulle het dit "ontgroening" genoem. Die aand was 'n

belowende                                 geïsoleer van realiteit

                 legendariese            begin van die einde en einde van die begin         

nostalgiese               "Eye of the Tiger" 

tipe aand totdat ons vinnig-vinnig teruggejaag is kamers toe.

So vergeet ons van die girl, gaan stort en maak reg om te katel. Toe alles stil en donker is, vra my kamermaat vir my of ek dink die gang spook regtig. Natuurlik het ek die gedagte sommer dadelik afgeskiet en ons het tot ruste gekom.

Ek word wakker van ‘n nood wat voel soos ‘n damwal wat dreig om te breek. My selfoon wys dis presies 02:00. Ek hoor net my kamermaat se rustige, diep asemhaling. Ek staan op en loer by die deur uit. Die badkamer is aan die anderkant van die gang. Die gang het so sieklike, gelerige skynsel van die gloeilampe se lig en moontlik die kleur van die muur. Ek sluip in die gang af. Jy kan ‘n speld hoor val. In die badkamer kan jy net die egalige zzzzzzz geluid hoor van die buisligte. Toe my broek op my enkels lê, vang die lig so dip. Skielik is ek bewus van die spookstorie. En die penarie waarin ek myself nou bevind!

Ek loer by die badkamer se deur uit en besef meteens dat dit was maklik om hier te kom, want ek het in die lig in na die badkamer gestap. Nou moet ek in die donker in terug na my kamer toe stap. En dis ‘n laaaaaaang gang... Die gedagtes is nog nie koud nie, toe dryf die eerste staccato knal my nekhare regop en my oë wyd oop. Die lig die naaste aan die badkamer het sopas afgesit. Die tweede staccato knal het ‘n sprint my ontketen wat vir Usain Bolt trots sal maak. Die ligte sit nou af so vinnig soos wat ek verby hulle vlieg... en toe tref die paniek my: Ek weet nie watter kamer is myne nie!

Ek ruk aan die eerste deur, maar dit is gesluit. Ek pluk die volgende deur oop en stop dood voor die bed toe ek sien daar is klaar ‘n figuur onder die duvet. Teen hierdie tyd is die gang stikdonker. My paniekaanval begin grens aan dierlike instink. Soos ‘n vaartbelyne Jaguar wat sy prooi bespring, spring ek in die volgende kamer se bed in, hande-viervoet bo-oor ‘n blonde figuur wat lê in die bed wat ek gedink het is myne. Hy gil. Ek vlieg by die deur uit. Al wat ek kan hoor is my eie hartklop, rukkerige asemhaling en ‘n matriekseun wat gil. In die volgende kamer loer ek eers in die bed in voordat ek inklim. Sy gil so hard dat ek eers geskok staan en kyk vir ‘n paar sekondes voordat ek by die deur uitstrompel. Die kamer heel op die punt is myne. Ek weet dit want my kamermaat het klaar die lig aangesit as gevolg van al die gille en lyk asvaal daar waar sy op haar bed in haar kombers toegevou sit. Ek slaan die deur agter my toe. Ons kyk net vir mekaar. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is my asemhaling uiteindelik weer amper normaal.

Ek moes 'n paar keer vir haar verduidelik presies wat gebeur het. Ek het angsvrees beleef en so ook die ouer kinders. Sy wou haarself breek! Die ligte was egter 'n raaisel. Ons het daardie aand gepinkie-promise dat die waarheid nie "die lig sal sien" solank as wat ons minderjarig is nie. 

Die volgende oggend toe ek die lig aansit om te gaan tandeborsel, kom ek agter dat die ligte is in serie geskakel. Hulle sit aan soos wat die elektrisiteit deur hulle vloei en as jy dit afsit, kan jy sien hou die elektriese stroom onttrek: die ligte sit een vir een af! Iemand moes die lig afgesit het terwyl ek in die badkamer was. (Dat 'n mens tog nou jouself allerhande dinge kan wysmaak as daar spookstories betrokke is... gmf!) Die stories aan die ontbyttafel was egter die beste:

“Jislaaikit, ouens! Sy was bo-op my gewees! Haar oë is so rooi soos bloed en sy het met haar swart naels my oë probeer uitkrap.”

“Dis nog niks nie, sy het net langs my bed gestaan en vir my gestaar!”

“Wat?! Sy was saam met my in die bed gewees totdat ek begin gil het, toe verdwyn sy net!”

Ek en my kamermaat het maar net doodstil gesit en luister na die ouer kinders se ervarings met die spookmeisie. Die arme girl is nou ‘n verskriklike karakter. Sy het lang swart hare, rooi oë en lang, vuil vingernaels. Haar wit nagklere is geskeur en sy kom net uit as dit volmaan is.

In die proses het ek geleer dat ‘n mens trek nie wit nagklere op ‘n toer aan nie en jy gaan loop jou draaie voordat jy gaan slaap.


Tot volgende keer...

Woensdag 15 Junie 2016

Gym Junkies en Griekse Gode




Dit het my ‘n rukkie gevat voordat ek by die PUK se gym gaan aansluit het. Ek is nou nie die mooiste, maerste meisie nie, so om enigsins tussen ‘n klomp bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkies vir die eerste keer op ‘n treadmill te klim, kan nogals vreesaanjaend wees...

Dit het my ‘n rukkie gevat om vir die eerste keer gym toe te gaan nadat ek aangesluit het. Ek het myself gemotiveer met, “om vir vet mense by die gym te lag is soos om vir pasiënte by die hospitaal te lag. Niemand sal vir my lag nie. Hulle sal my nie eers raaksien nie. Ek sal maar net stilletjies in en uit glip.” Een oggend het ek net die besluit geneem. Vandag is die dag. Nou is die oomblik.

Ek kyk op my horlosie. Die lang armpie raak-raak net so aan die twaalf en die kort enetjie mik vir die vyf. Dit neem my ‘n rukkie om te registreer hoe laat dit is. My boekesak bevat vier handboeke en ‘n hoop notaboeke. Ek loop tussen die SS en die amfi deur. My sak raak swaar. ‘n Ligte waterlagie vorm op my voorkop. Om my gaan alles net normaal aan, asof daar niks vreemd besig is om te gebeur nie. My franse vlegsel wat perfek volgens die koshuis se voorskrifte vir eerstejaars gedoen is, is so styf dat dit voel of ek my haargroei probeer versnel. Met my R80 PEP tekkies bekruip ek amper die gym se eerste draaihek. Ek vleg deur die ry studente wat ongeduldig voor die deur by die kitsbank staan en wag.

Die gym ruik vreemd; amper soos ‘n mengsel van vars sweet, skoonmaakmiddels en rubber. Die gangetjie is effens donker. Elke man wat verby my stap is gebou om te hou en elke dame is ten minste kop en skouers langer as ek. Geluide wat spreek van pyn, motivering, oorwinning en telleurstelling ego vanuit die muurbalbane se rigting agter my aan. Daar staan drie Griekse Gode by die hek aan die linkerkant en ‘n ligte uriene reuk vanaf die regterkant sê sommer duidelik wie se kleedkamers aan die ander kant is. Dis my beurt om deur die hek te gaan.

Skielik begin ek twyfel of my grootte 14 broek regtig so klein is. Hierdie gym draaihek diskrimineer teen enigiemand wat groter is as dit. En ek het nog my sak ook by my! Met ‘n effense gespook kom ek deur die hek. Ek is in die gym. Hierdie gym diskrimineer teen meisies met ‘n lae selfbeeld. Ek moet eers deur ‘n hele vertrek vol Johnny Bravo’s stap om by die treadmills uit te kom. My moed is klaar in my skoene en ek het nog nie eers begin nie!

Liewe Jesus het geweet wat ek nodig het en terwyl ek nog besig is om knoppies willekeurig te druk met die hoop dat die ding begin, stap een van my hartsvriendinne in die gym in. Goose is van dieselfde kaliber as ek. En dis haar eerste keer ook! Ten minste weet sy hoe die nagmerrie-masjien werk. Sy sit myne vir my aan en klim op die een langs my. 200m later het ek nou genoeg gehad! Goose se wange is bloedrooi. Ek dink sy het ook nou genoeg gehad. Net toe ons wil afklim, klim Apollo en Poseidon weerskante van ons op die treadmills. En Zeus klim op die roeimasjien voor ons. Net een kyk in Goose se rigting, toe weet ek: Ons gaan nie binnekort ophou nie! Elke keer wat ek voel dat ek wil opgee, kyk ek net in Zeus se rigting en een van sy onnatuurlike wit glimlagte is sommer genoeg om my spoed te verdubbel. Elke keer as ek my gesig wil trek van die pyn, sien ek net Apollo uit die hoek van my oog en dan smile ek sommer weer breed! Die Griekse Gode gee aan Goose ook sommer bonatuurlike krag. Sy lyk gedetermineerd. En sy snol! Ek het nie eers geweet sy het dit in haar nie. Ek dink nie dat sy het eers geweet sy het dit in haar nie.

So vyf kilometer later begin ek sterretjies sien. Ek dink ek het nou regtig genoeg gehad. Goose slat neer op die vloer langs die treadmill. Sy is spierwit in haar gesig. Zeus en sy trawante hou ook op sprint. Hulle is nie eers kort van asem nie. Ek maak asof ek nie vir Goose ken nie. Sy lyk soos ‘n oormoeg, hardkoppige kleuter wat daarop aandring om verder in die sandput te speel lank nadat dit eintlik slaaptyd was.

Ek drentel terug na die hek toe. My sak weeg ‘n ton! Ek kyk nie eers vir die Johnny Bravo’s langs my nie. Ek tree in die hek in en....

Op een of ander manier het ek dit reggekry om my bene tussen die hek en my boeksak te laat vassit. Ek kan nie vorentoe of agtertoe nie! Agter my bars Goose uit van die lag. Die gym-reuk vou sy vingers om my keel en ek begin weer sterrietjies sien. Dit voel of my eie digtheid minder is as dié van die beknopte spasie waarin ek myself nou bevind. Ek probeer spring. Niks. Ek probeer skuifel. Niks. Ek raak benoud! En Goose lê soos wat sy lag! Uit die op en aanmerkings wat my laer as erdwurm afskeidings laat voel, verneem ek dat ek het nou ‘n gehoor wat my spektakel aanskou. Die trane brand vlak in my oë.

“Jy wou my mos alleen gelos het!”

“Bra! Check daai cherry sit in die hek vas!”

“Ag shame, sy’s seker maar ‘n wannabe plus-size model.”

“Ek wil jou lyf in ‘n bikini sien!”

‘n Groot hand vat aan my skouer en ‘n stem wat klink soos Arabica koffie, heuning en ‘n kaggelvuur in die winter sê ‘n woord wat ek nie verstaan nie. My eie sinnelose hardop gebrabbel maak die woord onduidelik. Wag, dit is my naam. Die stem sê my naam! Ek bly stil en hou op met spartel. “Liz, klim bo-op die hek, dan sal ek hom draai.” Dit neem my ‘n rukkie om te registreer wat die stem sê. Ek is gehoorsaam. Die hek draai en toe daar genoeg spasie vir my is om uit te kom, tuimel ek gat-oor-kop in die gangetjie in. Dis net boeke wat waai en ‘n waterbottel wat rol, maar ek steur myself glad nie daaraan nie. Ek moet net hier wegkom!

Ek strompel reguit vorentoe in die kleedkamers in. As die aarde my tog net kon insluk! EK het lanklaas my naam so gat gemaak. My sitvlak maak sommer so doef-geluid soos wat ek op die vloer neerplak. Moedeloos en seer, begin ek stadig die vervlakse vlegsel wat my hare so trek losmaak. Ek kastai myself sover as wat ek gaan. Hardop. “Flippen Griekse Gode met met heuningwarm stemme en elendige hekke en Goose lag seker nou nog en jy sit hier en...” Iemand maak langs my keelskoon. Ek kyk op...

Apollo staan by die urinaal. Rooi vlamme kruip in sy nek op tot by sy alreeds skarlaken-ore. Ek sit versteen teen die muur – hierdie dag kan nie erger raak nie! Toe kom Zeus in met al my boeke in sy hande. Daardie stem wat my gered het behoort aan hom! “Liz, ek het gehoor toe jou vriendin jou naam gesê het. Hier is jou boeke, maar hierdie is die manskleedkamer. Die dameskleedkamer is net so entjie in die gang af.” Hy glimlag weer. Dis naby aan die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sy stem is sag en vertroostend. Daar is geen spot daarin nie; dit klink soos opregte omgee. Sy goudbruin oë spreek egter van ‘n ander storie. Ek voel nog kleiner. Apollo maak weer keelskoon. Ek besef die man se nood is dalk groot! Ek glimlag braaf (al loop die trane) en vat my boeke by die engel.

Om by daardie deur uit te stap was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. My skare het gejuig... Goose se trane het geloop soos wat sy gelag het. Poseidon het nonchalant teen die deur geleun met my waterbottel in sy hand. Die terg het ook vlak in daardie twee oseane waaruit sy oë bestaan, gelê, maar hy het genadiglik niks gesê nie.

Nodeloos om te sê, ek het maar by Virgin Active gaan aansluit vir die res van die jaar en later eers weer by die PUK gym; ‘n paar kilogramme ligter en spiere wat net-net harde werk begin wys. Die motivering het gebrand met die herinnering aan twee goudbruin oë en ‘n stem wat melodieë skep vir oakmoss en sandalwood om te harmoniseer.

Vandag is die Griekse Gode my beste vriende... My dag van glorie was tog die moeite werd gewees.

Tot volgende keer...

Donderdag 02 Junie 2016

Juffrou Sannah se Tackle

Amanuensis: As ‘n kind te stadig skryf of sukkel om te lees tydens die skryf van ‘n eksamenvraestel, dan kan die betrokke ouers aansoek doen vir amanuensis; dit is ekstra tyd of iemand wat as ‘n skribeerder optree om die kind te help


Die tye wat ‘n mens die lekkerste lag, is gewoonlik die tye wat ‘n mens juis nie moet lag nie...

In die eksamentyd is orde van kardinale belang. Daar moet stilte wees, skryfsessies moet met presiesheid hanteer word en die betrokke leerlinge moet met ‘n ysterhand regeer word. Vir hierdie rol is meneer Danie perfek – met sy militaristiese presiesheid en sy regop en fier houding, is daar bittermin tye wat die eksamenregulasies nie tot op die jota gevolg word nie.

Ongelukkig is militaristiese presiesheid nou nie juis ‘n karaktertrek wat baie van die skoner geslag deel nie. Gewoonlik wanneer dit by Eva kom, reguleer emosies gedrag en nie die eksamenregulasies nie. Juffrou Marlese is geen uitsondering nie. Sy het die rare talent om altyd die positief en die humor in enige gegewe situasie te sien. Om pakkies van tien vraestelle elk liniêr op ‘n tafel uit te pak met ‘n centimeter spasie tussen elk, is nou nie juis iets wat sy as belangrik ag nie.

Juis daarom is dit ideaal om tydens die skryf van ‘n eksamen twee mense soos meneer Danie en juffrou Marlese saam te laat toesig hou, een om te sorg vir die eksamenregulasies en een om te sorg vir die kinders... En wanneer jy gelukkig is genoeg is om so ‘n formidebale kombinasie te hê, dan is die kanse vir ‘n onvergeetlike oomblik baie goed... Veral as jy ‘n oujongnooi uit Zambië by die sommetjie voeg...

Een wintersoggend hou meneer Danie en juffrou Marlese saam toesig in ‘n eksamenlokaal vol graad sesse en sewes. Om die byt in die lug af te weer, staan meneer Danie in die lokaal se deur met sy rug in die son en bak terwyl hy die skrywende leerlinge met ‘n valkoog dophou. In hierdie spesifieke groep kinders, is daar ‘n seun wat amanuensis moet kry. Net so voordat die tyd verstreke raak, besluit juffrou Sannah, wat in die klas langsaan is, sy wil net kom kyk of hierdie kind sy vraestel klaargekry het en of hy nog ekstra tyd moet kry.

So stap sy doelgerig, n vrou op ‘n missie van omgee en besorgdheid, om na die kind se welstand te gaan omsien. Reg voordat sy by die klas instap, haak haar voet aan ‘n trappie vas en die volgende paar oomblikke het gevoel soos jare wat verbygaan.

Met haar grys krulhaartjies en bloes wapperend in die wind, besef juffrou Sannah meteens dat die vloer stadig maar seker, eintlik teen ‘n baie vinnige pas nader kom. Meneer Danie sê dat hy het dit sien kom, maar almal weet hy het nie... So gryp die oujongnooi vir meneer Danie van agteraf in ‘n ystergreep om die heupe. Met juffrou Marlese wat die petalje van binne aanskou stormloop die twee mense die klas binne met juffrou Sannah aan die stuur. Party sou sê dat hulle het gelyk soos ‘n stoomtrein sonder brieke. Ander sou sê dat juffrou Sannah ‘n tackle aan haar het wat vir Bryan Habana sal laat skaam kry. Meneer Danie sê dat hy al gesien het hoe gryp hy vir juffrou Marlese op dieselfde wyse wat juffrou Sannah hom gegryp het en hoe hulle al drie op ‘n bondel voor in die klas op die vloer beland. Gelukkig is hy nie ‘n man wat sommer deur ‘n oujongnooi platgetrek kan word nie...

Voordat juffrou Sannah die stilte verbreek, skuif sy eers, heel verleë, haar brilletjie reg met ‘n bleek meneer Danie en giggelende juffrou Marlese wat mekaar grootoog staan en aanskou.

“Skuus Meneer, hoe moer ek nou in die klas in.”

En toe is dit verby. Juffrou Marlese kon dit net nie meer beheer nie. Die lagbui wat haar oorval het, was heel moontlik een wat stories oor donderweer en reuse in Dwergieland sou inspireer. Teen hierdie tyd het die kinders hul belangstelling in die vraestel laaaannnnnkkkaaaaallll verloor. Almal wil net weet of juffrou Marlese orraait is. Om orde te herstel, vra meneer Danie haar om asseblief die lokaal te verlaat totdat sy haarself onder beheer het.

Sy het om die hoek gaan staan om haarself reg te ruk, maar die hele skoolterrein kon haar in elk geval hoor. Net as sy dink sy het alles onder beheer, vang sy ‘n glimps van meneer Danie se agterkop en dan is die hele proses maar net weer van vooraf terwyl die man geduldig staan en wag dat die storm oorwaai.

Eventueel daal ‘n rustigheid oor juffrou Marlese en sy kry die moed om weer terug te gaan in die klas in. Heel besorgd vra meneer Danie haar of sy orraait is. ‘n Beheersde, “Ja”, was al wat meneer Danie nodig gehad het...

“Reg so, Juffrou, kan ek asseblief nou my beurt kry om die klas te verlaat?”

En ‘n statige man staan en proes om die hoek.

Tot volgende keer...

Woensdag 18 Mei 2016

Ouma Gaan vir 'n Dip

Ek het ʼn ouma Mart. Sy is alles wat ʼn ouma moet wees: Effe mollig, kort haartjies met ʼn bril. Sy is amper te liefdevol, bederf vreeslik, ʼn gasvrou van formaat, kook die lekkerste kos en brei enigiets met haar kromgetrekte, artritis vingers. Tog is daar een ding wat ouma Mart spesiaal maak – sy is ʼn bok vir sports...

So gaan kamp ʼn klomp van ons langs Klaserie Dam naby Hoedspruit. Oom Christo, ʼn vriend van Ouma, het sy boot saamgevat. In die bloedige hitte het die jongklomp (en ʼn paar van die ouer garde wat dink hulle is nog jonk) die tyd verwyl deur te kyk wie kan die langste op die binneband bly wat oom Christo met die boot gesleep het. Ouma is vreeslik heilig op haar kapsel, so toe sy nou uiteindelik klaar getease en gespray is, stap sy in haar oorgroot kortbroek en ou uitgewasde hemp na oom Christo toe. “Trek my ook?” En oom Christo se antwoord was iets waaroor niemand van ons ooit spyt sal wees nie: “Dis reg so, Tannie, klim!”

In die begin was daar ʼn paar...komplikasies. Om mee te begin, daar was nie ʼn life jacket wat groot genoeg was vir Ouma nie en Ouma het nog nooit leer swem nie. Om hierdie probleempie te omseil, knip en zip die uwe en kleinsus toe twee life jackets aan mekaar vas en dit pas toe perfek vir Ouma. Al wat Ouma die hele tyd gesê het, is: “Christo, jy gooi nie dougnuts met my nie, neh?” Toe gril Ouma vreeslik baie vir die modder op die dam se rand, so toe die kleinkinders, Oupa en oom Christo haar uiteindelik oortuig kry om in die boot te klim, lyk dit omtrent of sy op water loop soos wat sy oor die modder trippel, maar klim, klim sy! En daar trek die vyf van ons na die middel van die dam.

Die moeilikste gedeelte is gewoonlik om op die binneband te kom. Dis toe nou waar die moeilikheid begin. Oom Christo het vir Ouma verduidelik dat sy agteroor, boude eerste, in die binneband in moet val. Op die vraag hoekom dit agteroor moet wees, was die antwoord dat as jy vooroor val, val jy in die boot in. Dit het Ouma so ietwat ontstel. So, hoog verontwaardig, klim sy toe met ʼn gestoei en ʼn geknak van knieë op die boot se rand en, met die aanmoediging van haar kleinkinders, val sy agteroor, maar sy vergeet om haar knieë te buig... En daar skiet die binneband onder haar uit!

Vir ʼn paar oomblikke het sy vas geglo dat sy is besig om te verdrink, totdat ons dit reggekry het om haar te oortuig dat die life jackets haar laat dryf. Toe sy besef sy kan nie sink nie, spartel sy tot by die binneband, draai die binneband om, trek hom oor haar kop en daar sit sy. Kwaad vir alles en almal. Met ʼn gepaai en mooi verduidelik van die “reusagtige babers” in die dam, kry ons haar uiteindelik om die band vas te hou sodat Oupa kon begin om haar in te katrol; op die maat van ʼn deuntjie met ietsie van “Jy is my vissie en ek is so bly”.

Langs die boot, tel Kleinsus toe die band van Ouma se kop af en die uwe spring langs Ouma in die water in vir morele ondersteuning. Oupa het die werk om vir Ouma terug in die boot te kry op hom geneem so, op die telling van drie, probeer Oupa vir Ouma in die boot in tel... Maar toe klink dit of iemand trigger-happy raak met ʼn AK-47 soos wat Oupa winde los dat jy hom waar kan hoor. In die proses sak Ouma toe nou sommer weer terug in die water en die uwe verstik amper soos wat sy sukkel om nie te lag nie. Met Oupa se safety clip op, probeer ons toe nou vir die tweede keer, maar die eerste keer se trauma maak toe dat Ouma weier om die kant van die boot te los, so toe Oupa haar oplig, lig hy sommer die kant van die boot so effens op, maar Ouma kom nie uit die water uit nie. En daar trek die AK-47 weer... Op hierdie oomblik van die geveg, tel oom Christo my toe uit die water uit, uit vrees dat ek myself dalk mag verdrink...

Na die vierde probeerslag reken oom Christo dat hierdie kite nie gaan vlieg nie, ons moet maar stadig terug ry na die naaste kant toe. Oppad soontoe, verduidelik oom Christo vir Ouma dat sy vir hom moet sê die oomblik as haar voete die grond tref, want hy wil nie sy boot tot op die wal ry nie. So kom die wal al hoe nader en as ons haar vra, sê Ouma sy voel nog nie die grond nie. Die volgende oomblik trek Ouma los en sy gil! Teen die tyd, toe is die boot se neus al gelyk met die water se rand...

Ouma het toe al die tyd haar lyf in ʼn L-vorm onder die boot ingevou, so toe haar voete die grond tref, tref haar boude ook... en haar bene... En daar sit Ouma vas tussen die boot en die slymerige bodem van Klaserie Dam. Op daardie stadium toe voel sy alles van reuse babers tot waterslange teen haar been opseil terwyl die waterskerpioene haar rug steek en goggas in haar klere klim en sy sien krokodille na haar toe swem en toe word dit sommer watermonsters... Oom Christo stoot toe die boot bietjie agteruit en Ouma kom toe los. Oupa buk toe nou om Ouma op te help en toe trek hy los met sy vyfde rondte patrone, al mompelend dat hy nie weer baked beans vir ontbyt gaan eet nie.

Toe Ouma opstaan, bly haar broek in die water agter en toe verhoed die twee life jackets dat Ouma ver genoeg kan buk om hom op te trek. Toe is dit verby. Daar op die oewer van die volbespreekte Klaserie Dam, draai Ouma soos ʼn pikkewyn al in die rondte sonder sukses, haar broek bly op haar enkels. Oupa staan en hou oorlog langs die boot sonder sukses, hy kon nie die safety clip opkry nie en sy krag raak toe bietjie min. Kleinkinders lê soos wat hulle lag, sonder sukses, hulle kan niemand help nie en oom Christo lê toe met sy rooi gesig op sy boot se stuurwiel.

Na wat soos ʼn ewigheid gevoel het, kom haal Pappa ons toe met die bakkie. Hy help toe nou vir Ouma in haar broek in, uit die life jackets uit. Hy help toe nou vir oom Christo om die boot terug in die water te kry en vat ons almal terug kamp toe.

Terug by die kamp moes ons eers verduidelik wat alles gebeur het en toe oom Christo langs die wal stop, toe is Ouma reg om weer te klim. Hierdie keer het sy egter net in die binneband geklim op die kant en nie van die boot af in die middel van die dam nie. Die kleinkinders het naderhand begin kla omdat hulle nie ʼn beurt kry nie!

Die beste van alles was - met die eerste probeerslag se petalje het Ouma se hare nie eers natgeword nie!

Tot volgende keer...