Hierdie is nou nie 'n oorspronklike staaltjie nie, maar so 'n kosbare storie dat ek net moes deel: Ek weet nie wie die oorspronklike karakters is nie, maar indien ek op tone trap bied ek maar byvoorbaat verskoning aan asook die waarborg om hierdie plasing te verwyder...
'n Klompie dekades terug was intercoms die nuutste tegnologiese trend wat by skole posgevat het. Die een skool na die ander het kommunikasiekanale oopgemaak direk vanaf die klas na die kantoor en andersom. Die oggend tydens die personeelvergadering kondig mnr. Vos aan dat hy gedurende die dag via die nuut geïnstalleerde intercoms met elke onderwyser gaan praat om te toets dat al die intercoms in albei rigtings werk.
Die dag het sy normale gang gegaan, Juffrou Martha het haar klasse aangebied soos gewoonlik. Wat wel bietjie anders was as gewoonlik, is dat Juffrou Martha 'n student gehad het wat by haar gekuier het. Juffrou Paulina het Juffrou Martha, wat naby aftree-ouderdom was, se kennis en ervaring ingesuig soos 'n spons en Juffrou Martha was gretig om die jong studente-juffroutjie tot die beste van haar vermoë voor te berei vir die onderwys.
Die middag laat sit die twee dames in die klas en gesels oor Wiskunde, dissipline en die onderwys in die algemeen. Skielik onderbreek 'n diep mansstem die ouer dame. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha bly stil en draai haar kop effens skuins om te luister. Die hoendervleis slaan uit op haar arms. Grootoog Juffrou Paulina wag in spanning dat Juffrou Martha moet antwoord, maar na 'n paar oomblikke van stilte maak Juffrou Martha net haar sin klaar. Juffrou Paulina gaan maar, uit ordentlikheid, aan met die geprek en sê niks oor die vreemde onderbreking nie.
'n Paar minute gaan verby. Juffrou Martha het net begin om dissipline vir Juffrou Paulina te verduidelik, toe die diep mansstem haar weer in die rede val. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha se oë rek, sy draai haar kop skuins om te luister, maar sy sê niks nie. Juffrou Paulina sê ook maar niks nie. Die gesprek oor dissipline gaan aan, maar nie met dieselfde vlotheid as vroeër nie. Skielik kom die stem weer, hierdie keer bietjie meer ongeduldig.
"Juffrou. Martha. Kan. Jy. My. Hoor??"
Die volgende oomblik vlieg 'n statige ou dame uit haar stoel uit dat die stoel sommer so oor die vloer skiet. Langs haar tafel val sy op haar knieë neer, hande in die lug, trane wat oor die ou verrimpelde gesiggie loop.
"Hier's ek, Here, U getroue dienaar luister, praat met my!"
Daar heers 'n paar oomblikke van stilte. Juffrou Paulina staan op en stap na die intercom toe. Sy druk die rooi knoppie. "Dis Juffrou Paulina hier, ons kan Meneer hoor."
"Reg so Juffrou, geniet julle middag verder."
Blykbaar het Juffrou Paulina die verwarde Juffrou Martha eers van die vloer af opgehelp en gewag totdat hulle mekaar gegroet het voordat sy uitgebars het van die lag. Wie sal nou weet wat het werklik gebeur buiten vir die twee dames wat daar was daardie dag? Was ek maar 'n vlieg teen die muur!
Tot volgende keer...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking