Hierdie is nou nie 'n oorspronklike staaltjie nie, maar so 'n kosbare storie dat ek net moes deel: Ek weet nie wie die oorspronklike karakters is nie, maar indien ek op tone trap bied ek maar byvoorbaat verskoning aan asook die waarborg om hierdie plasing te verwyder...
'n Klompie dekades terug was intercoms die nuutste tegnologiese trend wat by skole posgevat het. Die een skool na die ander het kommunikasiekanale oopgemaak direk vanaf die klas na die kantoor en andersom. Die oggend tydens die personeelvergadering kondig mnr. Vos aan dat hy gedurende die dag via die nuut geïnstalleerde intercoms met elke onderwyser gaan praat om te toets dat al die intercoms in albei rigtings werk.
Die dag het sy normale gang gegaan, Juffrou Martha het haar klasse aangebied soos gewoonlik. Wat wel bietjie anders was as gewoonlik, is dat Juffrou Martha 'n student gehad het wat by haar gekuier het. Juffrou Paulina het Juffrou Martha, wat naby aftree-ouderdom was, se kennis en ervaring ingesuig soos 'n spons en Juffrou Martha was gretig om die jong studente-juffroutjie tot die beste van haar vermoë voor te berei vir die onderwys.
Die middag laat sit die twee dames in die klas en gesels oor Wiskunde, dissipline en die onderwys in die algemeen. Skielik onderbreek 'n diep mansstem die ouer dame. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha bly stil en draai haar kop effens skuins om te luister. Die hoendervleis slaan uit op haar arms. Grootoog Juffrou Paulina wag in spanning dat Juffrou Martha moet antwoord, maar na 'n paar oomblikke van stilte maak Juffrou Martha net haar sin klaar. Juffrou Paulina gaan maar, uit ordentlikheid, aan met die geprek en sê niks oor die vreemde onderbreking nie.
'n Paar minute gaan verby. Juffrou Martha het net begin om dissipline vir Juffrou Paulina te verduidelik, toe die diep mansstem haar weer in die rede val. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha se oë rek, sy draai haar kop skuins om te luister, maar sy sê niks nie. Juffrou Paulina sê ook maar niks nie. Die gesprek oor dissipline gaan aan, maar nie met dieselfde vlotheid as vroeër nie. Skielik kom die stem weer, hierdie keer bietjie meer ongeduldig.
"Juffrou. Martha. Kan. Jy. My. Hoor??"
Die volgende oomblik vlieg 'n statige ou dame uit haar stoel uit dat die stoel sommer so oor die vloer skiet. Langs haar tafel val sy op haar knieë neer, hande in die lug, trane wat oor die ou verrimpelde gesiggie loop.
"Hier's ek, Here, U getroue dienaar luister, praat met my!"
Daar heers 'n paar oomblikke van stilte. Juffrou Paulina staan op en stap na die intercom toe. Sy druk die rooi knoppie. "Dis Juffrou Paulina hier, ons kan Meneer hoor."
"Reg so Juffrou, geniet julle middag verder."
Blykbaar het Juffrou Paulina die verwarde Juffrou Martha eers van die vloer af opgehelp en gewag totdat hulle mekaar gegroet het voordat sy uitgebars het van die lag. Wie sal nou weet wat het werklik gebeur buiten vir die twee dames wat daar was daardie dag? Was ek maar 'n vlieg teen die muur!
Tot volgende keer...
Wys tans plasings met die etiket skool. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket skool. Wys alle plasings
Sondag 23 Oktober 2016
Donderdag 02 Junie 2016
Juffrou Sannah se Tackle
Amanuensis:
As ‘n kind te stadig skryf of sukkel om te lees tydens
die skryf van ‘n eksamenvraestel, dan kan die betrokke ouers aansoek doen vir
amanuensis; dit is ekstra tyd of iemand wat as ‘n skribeerder optree om die
kind te help
In die eksamentyd is orde van kardinale
belang. Daar moet stilte wees, skryfsessies moet met presiesheid hanteer word
en die betrokke leerlinge moet met ‘n ysterhand regeer word. Vir hierdie rol is
meneer Danie perfek – met sy militaristiese presiesheid en sy regop en fier
houding, is daar bittermin tye wat die eksamenregulasies nie tot op die jota
gevolg word nie.
Ongelukkig is militaristiese presiesheid nou
nie juis ‘n karaktertrek wat baie van die skoner geslag deel nie. Gewoonlik
wanneer dit by Eva kom, reguleer emosies gedrag en nie die eksamenregulasies
nie. Juffrou Marlese is geen uitsondering nie. Sy het die rare talent om altyd
die positief en die humor in enige gegewe situasie te sien. Om pakkies van tien
vraestelle elk liniêr op ‘n tafel uit te pak met ‘n centimeter spasie tussen
elk, is nou nie juis iets wat sy as belangrik ag nie.
Juis daarom is dit ideaal om tydens die skryf
van ‘n eksamen twee mense soos meneer Danie en juffrou Marlese saam te laat
toesig hou, een om te sorg vir die eksamenregulasies en een om te sorg vir die
kinders... En wanneer jy gelukkig is genoeg is om so ‘n formidebale kombinasie
te hê, dan is die kanse vir ‘n onvergeetlike oomblik baie goed... Veral as jy
‘n oujongnooi uit Zambië by die sommetjie voeg...
Een wintersoggend hou meneer Danie en juffrou
Marlese saam toesig in ‘n eksamenlokaal vol graad sesse en sewes. Om die byt in
die lug af te weer, staan meneer Danie in die lokaal se deur met sy rug in die
son en bak terwyl hy die skrywende leerlinge met ‘n valkoog dophou. In hierdie
spesifieke groep kinders, is daar ‘n seun wat amanuensis moet kry. Net so
voordat die tyd verstreke raak, besluit juffrou Sannah, wat in die klas
langsaan is, sy wil net kom kyk of hierdie kind sy vraestel klaargekry het en
of hy nog ekstra tyd moet kry.
So stap sy doelgerig, n vrou op ‘n missie van
omgee en besorgdheid, om na die kind se welstand te gaan omsien. Reg voordat sy
by die klas instap, haak haar voet aan ‘n trappie vas en die volgende paar
oomblikke het gevoel soos jare wat verbygaan.
Met haar grys krulhaartjies en bloes wapperend
in die wind, besef juffrou Sannah meteens dat die vloer stadig maar seker,
eintlik teen ‘n baie vinnige pas nader kom. Meneer Danie sê dat hy het dit sien
kom, maar almal weet hy het nie... So gryp die oujongnooi vir meneer Danie van
agteraf in ‘n ystergreep om die heupe. Met juffrou Marlese wat die petalje van
binne aanskou stormloop die twee mense die klas binne met juffrou Sannah aan
die stuur. Party sou sê dat hulle het gelyk soos ‘n stoomtrein sonder brieke.
Ander sou sê dat juffrou Sannah ‘n tackle aan haar het wat vir Bryan Habana sal
laat skaam kry. Meneer Danie sê dat hy al gesien het hoe gryp hy vir juffrou
Marlese op dieselfde wyse wat juffrou Sannah hom gegryp het en hoe hulle al
drie op ‘n bondel voor in die klas op die vloer beland. Gelukkig is hy nie ‘n
man wat sommer deur ‘n oujongnooi platgetrek kan word nie...
Voordat juffrou Sannah die stilte verbreek,
skuif sy eers, heel verleë, haar brilletjie reg met ‘n bleek meneer Danie en
giggelende juffrou Marlese wat mekaar grootoog staan en aanskou.
“Skuus Meneer, hoe moer ek nou in die klas
in.”
En toe is dit verby. Juffrou Marlese kon dit
net nie meer beheer nie. Die lagbui wat haar oorval het, was heel moontlik een
wat stories oor donderweer en reuse in Dwergieland sou inspireer. Teen hierdie
tyd het die kinders hul belangstelling in die vraestel laaaannnnnkkkaaaaallll
verloor. Almal wil net weet of juffrou Marlese orraait is. Om orde te herstel,
vra meneer Danie haar om asseblief die lokaal te verlaat totdat sy haarself
onder beheer het.
Sy het om die hoek gaan staan om haarself reg
te ruk, maar die hele skoolterrein kon haar in elk geval hoor. Net as sy dink
sy het alles onder beheer, vang sy ‘n glimps van meneer Danie se agterkop en
dan is die hele proses maar net weer van vooraf terwyl die man geduldig staan
en wag dat die storm oorwaai.
Eventueel daal ‘n rustigheid oor juffrou
Marlese en sy kry die moed om weer terug te gaan in die klas in. Heel besorgd
vra meneer Danie haar of sy orraait is. ‘n Beheersde, “Ja”, was al wat meneer
Danie nodig gehad het...
“Reg so, Juffrou, kan ek asseblief nou my
beurt kry om die klas te verlaat?”
En ‘n statige man staan en proes om die hoek.
Tot
volgende keer...
Teken in op:
Plasings (Atom)
