Donderdag 02 Junie 2016

Juffrou Sannah se Tackle

Amanuensis: As ‘n kind te stadig skryf of sukkel om te lees tydens die skryf van ‘n eksamenvraestel, dan kan die betrokke ouers aansoek doen vir amanuensis; dit is ekstra tyd of iemand wat as ‘n skribeerder optree om die kind te help


Die tye wat ‘n mens die lekkerste lag, is gewoonlik die tye wat ‘n mens juis nie moet lag nie...

In die eksamentyd is orde van kardinale belang. Daar moet stilte wees, skryfsessies moet met presiesheid hanteer word en die betrokke leerlinge moet met ‘n ysterhand regeer word. Vir hierdie rol is meneer Danie perfek – met sy militaristiese presiesheid en sy regop en fier houding, is daar bittermin tye wat die eksamenregulasies nie tot op die jota gevolg word nie.

Ongelukkig is militaristiese presiesheid nou nie juis ‘n karaktertrek wat baie van die skoner geslag deel nie. Gewoonlik wanneer dit by Eva kom, reguleer emosies gedrag en nie die eksamenregulasies nie. Juffrou Marlese is geen uitsondering nie. Sy het die rare talent om altyd die positief en die humor in enige gegewe situasie te sien. Om pakkies van tien vraestelle elk liniêr op ‘n tafel uit te pak met ‘n centimeter spasie tussen elk, is nou nie juis iets wat sy as belangrik ag nie.

Juis daarom is dit ideaal om tydens die skryf van ‘n eksamen twee mense soos meneer Danie en juffrou Marlese saam te laat toesig hou, een om te sorg vir die eksamenregulasies en een om te sorg vir die kinders... En wanneer jy gelukkig is genoeg is om so ‘n formidebale kombinasie te hê, dan is die kanse vir ‘n onvergeetlike oomblik baie goed... Veral as jy ‘n oujongnooi uit Zambië by die sommetjie voeg...

Een wintersoggend hou meneer Danie en juffrou Marlese saam toesig in ‘n eksamenlokaal vol graad sesse en sewes. Om die byt in die lug af te weer, staan meneer Danie in die lokaal se deur met sy rug in die son en bak terwyl hy die skrywende leerlinge met ‘n valkoog dophou. In hierdie spesifieke groep kinders, is daar ‘n seun wat amanuensis moet kry. Net so voordat die tyd verstreke raak, besluit juffrou Sannah, wat in die klas langsaan is, sy wil net kom kyk of hierdie kind sy vraestel klaargekry het en of hy nog ekstra tyd moet kry.

So stap sy doelgerig, n vrou op ‘n missie van omgee en besorgdheid, om na die kind se welstand te gaan omsien. Reg voordat sy by die klas instap, haak haar voet aan ‘n trappie vas en die volgende paar oomblikke het gevoel soos jare wat verbygaan.

Met haar grys krulhaartjies en bloes wapperend in die wind, besef juffrou Sannah meteens dat die vloer stadig maar seker, eintlik teen ‘n baie vinnige pas nader kom. Meneer Danie sê dat hy het dit sien kom, maar almal weet hy het nie... So gryp die oujongnooi vir meneer Danie van agteraf in ‘n ystergreep om die heupe. Met juffrou Marlese wat die petalje van binne aanskou stormloop die twee mense die klas binne met juffrou Sannah aan die stuur. Party sou sê dat hulle het gelyk soos ‘n stoomtrein sonder brieke. Ander sou sê dat juffrou Sannah ‘n tackle aan haar het wat vir Bryan Habana sal laat skaam kry. Meneer Danie sê dat hy al gesien het hoe gryp hy vir juffrou Marlese op dieselfde wyse wat juffrou Sannah hom gegryp het en hoe hulle al drie op ‘n bondel voor in die klas op die vloer beland. Gelukkig is hy nie ‘n man wat sommer deur ‘n oujongnooi platgetrek kan word nie...

Voordat juffrou Sannah die stilte verbreek, skuif sy eers, heel verleë, haar brilletjie reg met ‘n bleek meneer Danie en giggelende juffrou Marlese wat mekaar grootoog staan en aanskou.

“Skuus Meneer, hoe moer ek nou in die klas in.”

En toe is dit verby. Juffrou Marlese kon dit net nie meer beheer nie. Die lagbui wat haar oorval het, was heel moontlik een wat stories oor donderweer en reuse in Dwergieland sou inspireer. Teen hierdie tyd het die kinders hul belangstelling in die vraestel laaaannnnnkkkaaaaallll verloor. Almal wil net weet of juffrou Marlese orraait is. Om orde te herstel, vra meneer Danie haar om asseblief die lokaal te verlaat totdat sy haarself onder beheer het.

Sy het om die hoek gaan staan om haarself reg te ruk, maar die hele skoolterrein kon haar in elk geval hoor. Net as sy dink sy het alles onder beheer, vang sy ‘n glimps van meneer Danie se agterkop en dan is die hele proses maar net weer van vooraf terwyl die man geduldig staan en wag dat die storm oorwaai.

Eventueel daal ‘n rustigheid oor juffrou Marlese en sy kry die moed om weer terug te gaan in die klas in. Heel besorgd vra meneer Danie haar of sy orraait is. ‘n Beheersde, “Ja”, was al wat meneer Danie nodig gehad het...

“Reg so, Juffrou, kan ek asseblief nou my beurt kry om die klas te verlaat?”

En ‘n statige man staan en proes om die hoek.

Tot volgende keer...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking