Woensdag 18 Mei 2016

Ouma Gaan vir 'n Dip

Ek het ʼn ouma Mart. Sy is alles wat ʼn ouma moet wees: Effe mollig, kort haartjies met ʼn bril. Sy is amper te liefdevol, bederf vreeslik, ʼn gasvrou van formaat, kook die lekkerste kos en brei enigiets met haar kromgetrekte, artritis vingers. Tog is daar een ding wat ouma Mart spesiaal maak – sy is ʼn bok vir sports...

So gaan kamp ʼn klomp van ons langs Klaserie Dam naby Hoedspruit. Oom Christo, ʼn vriend van Ouma, het sy boot saamgevat. In die bloedige hitte het die jongklomp (en ʼn paar van die ouer garde wat dink hulle is nog jonk) die tyd verwyl deur te kyk wie kan die langste op die binneband bly wat oom Christo met die boot gesleep het. Ouma is vreeslik heilig op haar kapsel, so toe sy nou uiteindelik klaar getease en gespray is, stap sy in haar oorgroot kortbroek en ou uitgewasde hemp na oom Christo toe. “Trek my ook?” En oom Christo se antwoord was iets waaroor niemand van ons ooit spyt sal wees nie: “Dis reg so, Tannie, klim!”

In die begin was daar ʼn paar...komplikasies. Om mee te begin, daar was nie ʼn life jacket wat groot genoeg was vir Ouma nie en Ouma het nog nooit leer swem nie. Om hierdie probleempie te omseil, knip en zip die uwe en kleinsus toe twee life jackets aan mekaar vas en dit pas toe perfek vir Ouma. Al wat Ouma die hele tyd gesê het, is: “Christo, jy gooi nie dougnuts met my nie, neh?” Toe gril Ouma vreeslik baie vir die modder op die dam se rand, so toe die kleinkinders, Oupa en oom Christo haar uiteindelik oortuig kry om in die boot te klim, lyk dit omtrent of sy op water loop soos wat sy oor die modder trippel, maar klim, klim sy! En daar trek die vyf van ons na die middel van die dam.

Die moeilikste gedeelte is gewoonlik om op die binneband te kom. Dis toe nou waar die moeilikheid begin. Oom Christo het vir Ouma verduidelik dat sy agteroor, boude eerste, in die binneband in moet val. Op die vraag hoekom dit agteroor moet wees, was die antwoord dat as jy vooroor val, val jy in die boot in. Dit het Ouma so ietwat ontstel. So, hoog verontwaardig, klim sy toe met ʼn gestoei en ʼn geknak van knieë op die boot se rand en, met die aanmoediging van haar kleinkinders, val sy agteroor, maar sy vergeet om haar knieë te buig... En daar skiet die binneband onder haar uit!

Vir ʼn paar oomblikke het sy vas geglo dat sy is besig om te verdrink, totdat ons dit reggekry het om haar te oortuig dat die life jackets haar laat dryf. Toe sy besef sy kan nie sink nie, spartel sy tot by die binneband, draai die binneband om, trek hom oor haar kop en daar sit sy. Kwaad vir alles en almal. Met ʼn gepaai en mooi verduidelik van die “reusagtige babers” in die dam, kry ons haar uiteindelik om die band vas te hou sodat Oupa kon begin om haar in te katrol; op die maat van ʼn deuntjie met ietsie van “Jy is my vissie en ek is so bly”.

Langs die boot, tel Kleinsus toe die band van Ouma se kop af en die uwe spring langs Ouma in die water in vir morele ondersteuning. Oupa het die werk om vir Ouma terug in die boot te kry op hom geneem so, op die telling van drie, probeer Oupa vir Ouma in die boot in tel... Maar toe klink dit of iemand trigger-happy raak met ʼn AK-47 soos wat Oupa winde los dat jy hom waar kan hoor. In die proses sak Ouma toe nou sommer weer terug in die water en die uwe verstik amper soos wat sy sukkel om nie te lag nie. Met Oupa se safety clip op, probeer ons toe nou vir die tweede keer, maar die eerste keer se trauma maak toe dat Ouma weier om die kant van die boot te los, so toe Oupa haar oplig, lig hy sommer die kant van die boot so effens op, maar Ouma kom nie uit die water uit nie. En daar trek die AK-47 weer... Op hierdie oomblik van die geveg, tel oom Christo my toe uit die water uit, uit vrees dat ek myself dalk mag verdrink...

Na die vierde probeerslag reken oom Christo dat hierdie kite nie gaan vlieg nie, ons moet maar stadig terug ry na die naaste kant toe. Oppad soontoe, verduidelik oom Christo vir Ouma dat sy vir hom moet sê die oomblik as haar voete die grond tref, want hy wil nie sy boot tot op die wal ry nie. So kom die wal al hoe nader en as ons haar vra, sê Ouma sy voel nog nie die grond nie. Die volgende oomblik trek Ouma los en sy gil! Teen die tyd, toe is die boot se neus al gelyk met die water se rand...

Ouma het toe al die tyd haar lyf in ʼn L-vorm onder die boot ingevou, so toe haar voete die grond tref, tref haar boude ook... en haar bene... En daar sit Ouma vas tussen die boot en die slymerige bodem van Klaserie Dam. Op daardie stadium toe voel sy alles van reuse babers tot waterslange teen haar been opseil terwyl die waterskerpioene haar rug steek en goggas in haar klere klim en sy sien krokodille na haar toe swem en toe word dit sommer watermonsters... Oom Christo stoot toe die boot bietjie agteruit en Ouma kom toe los. Oupa buk toe nou om Ouma op te help en toe trek hy los met sy vyfde rondte patrone, al mompelend dat hy nie weer baked beans vir ontbyt gaan eet nie.

Toe Ouma opstaan, bly haar broek in die water agter en toe verhoed die twee life jackets dat Ouma ver genoeg kan buk om hom op te trek. Toe is dit verby. Daar op die oewer van die volbespreekte Klaserie Dam, draai Ouma soos ʼn pikkewyn al in die rondte sonder sukses, haar broek bly op haar enkels. Oupa staan en hou oorlog langs die boot sonder sukses, hy kon nie die safety clip opkry nie en sy krag raak toe bietjie min. Kleinkinders lê soos wat hulle lag, sonder sukses, hulle kan niemand help nie en oom Christo lê toe met sy rooi gesig op sy boot se stuurwiel.

Na wat soos ʼn ewigheid gevoel het, kom haal Pappa ons toe met die bakkie. Hy help toe nou vir Ouma in haar broek in, uit die life jackets uit. Hy help toe nou vir oom Christo om die boot terug in die water te kry en vat ons almal terug kamp toe.

Terug by die kamp moes ons eers verduidelik wat alles gebeur het en toe oom Christo langs die wal stop, toe is Ouma reg om weer te klim. Hierdie keer het sy egter net in die binneband geklim op die kant en nie van die boot af in die middel van die dam nie. Die kleinkinders het naderhand begin kla omdat hulle nie ʼn beurt kry nie!

Die beste van alles was - met die eerste probeerslag se petalje het Ouma se hare nie eers natgeword nie!

Tot volgende keer...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking