Vanaand sit ek, Eva,
voor my vriend van ivoor en snaar.
Ek wil speel, ek wil skep,
maar die wysie is net nie daar.
Pen en papier lê eenkant vergete -
die woorde bly afwesig...
Voor my venster staan ek, Eva,
in die middernagtelike ure
en soek vertroosting in koffie bitter, swart
maar vanaand vind ek die bekoring
gelykstaande
aan dié van my vier kaal mure -
ek voel 'n leemte...
Op en af stap ek, Eva,
soekend na iets na niks
versigtig om die spieël te vermy
want in hom ontbloot 'n broeiende blik
bestand teen logika en sin
gevaarlik,
'n protes teen die onrus...
Hier lê ek, Eva,
die plafon lyk bleek
en die ertjie steek tussen my blaaie
Rus is waar jou hart is
en vanaand, liewe Eva,
loop jou hart vreemde draaie.