Wys tans plasings met die etiket poësie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket poësie. Wys alle plasings

Woensdag 03 Mei 2017

Eva

Vanaand sit ek, Eva, 
voor my vriend van ivoor en snaar.
Ek wil speel, ek wil skep,
maar die wysie is net nie daar.
Pen en papier lê eenkant vergete -
die woorde bly afwesig...

Voor my venster staan ek, Eva,
in die middernagtelike ure
en soek vertroosting in koffie bitter, swart
maar vanaand vind ek die bekoring 
gelykstaande
aan dié van my vier kaal mure - 
ek voel 'n leemte...

Op en af stap ek, Eva,
soekend na iets na niks
versigtig om die spieël te vermy
want in hom ontbloot 'n broeiende blik
bestand teen logika en sin
gevaarlik, 
'n protes teen die onrus...

Hier lê ek, Eva,
die plafon lyk bleek
en die ertjie steek tussen my blaaie

Rus is waar jou hart is
en vanaand, liewe Eva,
loop jou hart vreemde draaie.


Woensdag 29 Maart 2017

Trots


Naïef en onskuldig
       afwagting in die lug
  swart jas en stilettos blink
Breëbors-trots. Die kleur was kaneel
                       (ek dink) toe swaai die lewe:
     'n rottejag gestrewe
  na 'n sperdatum wat dreigend nader
                        terwyl ek hygend, verblind,
                                                                             soekend
                            deur die brand rondtas en
    na die breëbors-trots hunker.
My wynrooi band verpas
                                           vir agt glimlaggies, lemoene, son en sweet
- 'n warmbors-trots - 

en ek weet
Ek weet die mooiste rosie 
kort water om te groei.
Die mooiste rosie kan net blom
as die tuinier haarself bemoei.

Sondag 22 Januarie 2017

Lappop -letsels



'n stukkie lap sleep in die sand;
my hart is gebroke -
die stukkies glas 
verinneweer 
my fyngewerkte some

Elke keer as ek val
vat die opstaan net langer
vuil watte en ou gare 
merk my spoor – 
verlore verwerpte drome 
van onskuldige naïewe jare 

Strompel uit teen die berge
vir die soveelste maal
op hierdie bekende pad
en steeds voel ek so verdwaal

Op my verweerde knieë

met gevlekte hande
ruk uit die skerwe 
verstrengel in my flarde 
woordelose pleidooie bloei
roos kraal-ogies swart 
met die leegheid bemoei… 

Dan vind ek kamma-rus in geveinsde sielstilte 
prop in my gapende borskasholte 'n stuk rots
stop die gate, werk toe die nate
Staan op, kyk op
en dra hierdie letsels met trots.


Dinsdag 17 Januarie 2017

Wanderlust

ʼn Stukkie van hart trek
na geïsoleerde strande wit en golwe blou
anderkant Suid-Afrikaanse grense
met my snaarmelodieë wat langs kampvuur
onder sterrehemel na hartewense
vloei

ʼn stukkie van my hart trek
na die laataand miernes wat onder straatliggies ontvou
met kwas en rooi verf en goeie musiek
en gemaklike skoene ʼn wandeling sonder bestemming
twee siele wat saam, onbewus van die publiek,
groei

ʼn stukkie van my hart trek
na bosveldklanke en oggenddou
speel onder watervalstrome
met vriende-klets en -skater
en onder immergroen bome
stoei

ʼn stukkie van my hart trek
na kaggelvuur in die winterkou’
gesin-samesyn en warm sjokolade
en ligte oomblikke en hartsake oor ʼn pak kaarte
en sommer die alledaagse eskapades
waarmee ons onsself
bemoei

ʼn stukkie van my hart…

Maandag 09 Januarie 2017

'n gevoel

Ek wil vir jou die mag gee
om my vlinder- en blinkerhart
stukkie-stukkie te ontbloot
van sy gelapte flenterskil
en die lont spontaan te laat vlamvat
met die vuur in jou oë
totdat my hart se donkerste kuile
soos vuurwerke in 'n euforiese skouspel
in die atmosfeer uitbrand
sodat ek terug kan sweef
en my kop op jou borskas rus
waar jou hartklop een word
met myne

Saterdag 31 Desember 2016

Die uurglas loop leeg

Tyd is...
Tydloos.
Elke einde is
die einde van
'n nuwe begin
en elke begin
die begin
van 'n nuwe einde

Soos die sandkorreltjies
van onthou
een-een val
en die uurglas
stadig, maar seker,
sy einde bereik
Versamel ons ervaring
wysheid, volwassenheid
rykdom...
vir more
Droom ons oor more
Werk ons vir more
Leef ons vir more

Maar tyd is...
Tydloos
want gister se more
is more se gister
Elke sandkorreltjie moet val
voordat die uurglas kan draai
want vandag se ervaring,
wysheid en volwassenheid
is nodig vir
more se ervaring
wysheid en volwassenheid-
Die uurglas moet leeg wees
voor hy volheid kan bereik
so

die uurglas loop leeg -
want vandag is die einde
van 'n nuwe begin
Die uurglas is vol -
want more is die begin
van 'n nuwe einde.

Dinsdag 06 Desember 2016

Aangeleerde spieëlbeeld-keuses

Plekke, gebeurtenisse en geleenthede; party fyn beplan en ander suiwer geluk –
Een en twintig jaar demokraties gegroei uit Afrikaner wortels, (stelselmatig onderdruk)
Raakvat ouers se gene, liefde en dissipline
Skoolgaan, kerk toe gaan, sosiale roetine
Ek sien die honger na kennis in my oë en die emosie-lyntjies van my gesig
Pragtig, dit is wat ek is!
Siele met lewenslesse kom en gaan, maar net ʼn klein handjievol bly my hartsmense
Ideale, drome, seerkry en wense.
Ek sien die wêreld soos wat ek is.



Sondag 20 November 2016

Port Alfred se Strand


Begrawe my hart
op Port Alfred se strand
Waar die surfers se skouers
in die Kaapse son brand
en 'n meeu sweef
op 'n warm lugstroom
en die slanke bikini-lywe
die manne laat droom
Begrawe my hart
op Port Alfred se strand


Strooi my asoor die golflyn daar
as die laatmiddagson
die golwe bedaar
en die boepens omies
staan stokke in die hand
met die visvang-aas
in boksies in die sand
Strooi my as
oor die golflyn daar

Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse
waar die branders wit
ritmies klots
en klein seuntjies met nette
die vissies vang en
klein dogtertjies neus op trek
want die slakkies maak hul bang
Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse...

Maandag 14 November 2016

Reënboogrykdom

'n ligte sonstraal breek
deur spookasemwolke sag
en baai heuwels groen
in 'n goue prag
en verdryf die duisternis
wat die wêreld verniel
en gee aan Moeder Natuur
haar eie siel.

Sagte doudruppels bad
grashalms fyn
en streel liefderik
veldgesiggies klein.
'n Paar note uit 'n sirinks wat tril
verbreek die doodsheid
van die omgewing stil
en word beantwoord deur 'n kriek wat spring
en plek-plek stop om pragtig, vals te sing.

Aan die einde van die spektrum:
'n pot goud sonder finansiële waarde -
Die rykdom lê eintlik in
die skoonheid van ons aarde!

Maandag 07 November 2016

Stille afwagting...

Maanlig-getuie
en wind-waai blaartjies
dansend oor stil-straat

in liggloed gebaai

Laat-aand huiwering
wankel-woord praatjies
laggend vrede-stil

snelweg-ver lawaai...

Maandag 31 Oktober 2016

Terug koshuis toe


Kilometers snel verby
Maar my hart het agtergebly
Daar waar die son oor die berge vir my loer
Daar waar die beeste
in die goud-gras boer
Daar waar die hane vroegdag kraai
Daar waar my hartsmense staan en totsiens waai

Jou huis is waar jou hart is...

Maandag 03 Oktober 2016

Pappa...


In stille afwagting het
pappa-hulle probeer beplan
gewonder hoe ek sou wees
enigmaties?

babadogtertjie, klein en fyn
peuter en kleuter
kind, rebelse tiener
elke treetjie saam my gestap
berispe, gekoester, geleer
liefde altyd gegee -
dit was wonderlike wondere
onthou pappa nog? 
weet en nie weet
se wonder

Jare se trane en lag
mamma my middelpunt
pappa my anker, as en dryfveer
wie my blinkoog drome
stukkie-stukkie waar laat word
wat nog altyd 
wag en wonder
op en oor my...

Maandag 19 September 2016

'n Ousus se Hart

Vir Juandré



Ek onthou
"Liewe Jesus,
gee tog asseblief vir ons 'n boetie -
daardie een
wat ons gesien het op die kiekie"
Na 'n onseker wag in Something Fishy
'n waterpokkie-spikkel-gesiggie.
Dáárdie bruin-oog
pokkel-seëning-seuntjie
volgens wet nou
my nuwe boetie!

Ek belowe om
my mamma en pappa
met jou te deel
om elke dag met jou te speel
om jou te treiter, te kielie en te terg
(en so nou en dan te bederf)
om einas weg te piksoen
en om boetie-sussie dinge
saam met jou te doen.
Vir die klompie jaar al -
my harte-dief
Sakkie-lief
In my hart
vir altyd my boetie.

Ek ken nou
'n lank en lenige
toekomstige hartebreker -
'n broeiende bruin-oog
vol nonsens en streke
met raakvat sê-goed
maar effens onseker
Berispe, gekoester en geleer
Deur ONS ouers,
liefde altyd gegee.

Hier is jou ousus se hart:
Bloed is nie dikker as water
Dít was, is en sal jy 
altyd vir my wees:
my Sakkie-Lief
my hart se punt
my maatjie*

Sondag 04 September 2016

Malelane

My siel vind rus waar die mense-miernes grens

Aan olifant-buurt en soet tendens.

Laggend-stil dryf my gedagtes ver oor Krokodil kronkeldraaie

En die wildsbokke se watergatpaaie.

Laatmiddag roep 'n witkop-koning my tuis:

Anderkant seekoei se bad, dáár lê my huis!

Net 'n sifdraad tussen my voorstoep en die hel -

En dit is my hemel, kom muskiete, kruipende ongediertes of son fel. 

Sondag 03 Julie 2016

Aventure Nocturne


Want die son het gesak -
oor die bergtoppe verdwyn

die maan kruip dan nader

en die sterretjies begin te skyn

en die menslike geskarrel 
word tot vensterliggies beperk
en die samelewing sug saggies
na 'n lang dag se werk

So die kriekies kriek 
'n wiegieliedjie saam
die paddakoor hou tyd
en die nag roep my naam!

Dan verlaat ek die veiligheid
van my bed en komberse knus
en betree dan die donker
en word van my sintuie bewus

en dan ruik ek die koue 
wat sy arms om my vou
en met sagte liefkosings
adrenalien in my bou

en dan sien ek met my ruggraat
die skaduwees bly in pas:
op die ritme van die stilte
dans ons oor die doudruppelgras

en die nag kry dan lewe
en my hart kry dan rus
so is ek draaiend en swaaiend
tot 'n droomwêreld gesus...



Dinsdag 31 Mei 2016

Stuiwer vir 'n platsak student


Rinkink, plesier en jolyt
Op maanbepoeierde aande
elke geleentheid uitbuit
om jonkwees te vier
-en heel moontlik te vergeet
die lewe is duur-
maar so sal ons, besonke in
ons jeugdige naïewiteit,
leer om te lééf
en vriendskappe te sluit.

Dan makeer middelmaand
en ons sit met 'n kompleksie
want plat beursie gaar stof
en die koskas kry voete,
of so blyk dit uit die inspeksie.
Dinge gaan rof
en 'n tekort aan fondse
raak soos 'n algemene studente-infeksie...

Dit is dan so beslote
Pa sal moet weet!
met gemoed befloers
en hande wat sweet
en bewerige arpeggio-note
sing ons die bekende deuntjie
wat geen ouer kan vergeet: 

Ag Pa, 
boeke kos mos
'n arm en 'n been
kan ek asseblief 'n stuiwer
tot die einde van die maand leen? 

Sondag 22 Mei 2016

Kinky Koffie

Versoeking

het my verbeelding gevang
in die eksotiese aromas
wat om my hang

My weggevoer 
na 'n verre land
'n land van sonskyn
'n land van sand.

Jou donker dieptes
bly my by
swart en bitter-
jy't my verlei

Ek smaak jou bystand
deur die dag
en stomende vertroosting
in die nag.

Na elke ontmoeting
as jou geheimenisse om my dans
as jou geure aan my kleef
en jou herkoms
in my oë brand
Vroeg in die oggend
en baie laat saans
dis hoe ek die lewe oorleef:
'n ryk verbeelding en 'n 
beker in die hand.

Sondag 01 Mei 2016

Glimlag, Vrou!



Vrou,

vesteek jou flenterhart

en glimlag vir jou geliefdes - 
die los legkaartstukkies van 
jou gebrokenheid
kan ander voltooi
weer af die vuurpyle
wat die wêreld vir jou gooi

Kyk verby die maskers
wat ander se rouheid bedek - 
genees dit met `n moederlike aanraking
en vertroostende woord
op die regte tyd
en regte plek

Wandel in geloof,
nederig
pantser met liefde!
verdedig met jou hart -
vergeet altyddeur 
van jou eie smart

Glimlag, Vrou!
Wees sterk en vol moed...