Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings

Dinsdag 17 Januarie 2017

Wanderlust

ʼn Stukkie van hart trek
na geïsoleerde strande wit en golwe blou
anderkant Suid-Afrikaanse grense
met my snaarmelodieë wat langs kampvuur
onder sterrehemel na hartewense
vloei

ʼn stukkie van my hart trek
na die laataand miernes wat onder straatliggies ontvou
met kwas en rooi verf en goeie musiek
en gemaklike skoene ʼn wandeling sonder bestemming
twee siele wat saam, onbewus van die publiek,
groei

ʼn stukkie van my hart trek
na bosveldklanke en oggenddou
speel onder watervalstrome
met vriende-klets en -skater
en onder immergroen bome
stoei

ʼn stukkie van my hart trek
na kaggelvuur in die winterkou’
gesin-samesyn en warm sjokolade
en ligte oomblikke en hartsake oor ʼn pak kaarte
en sommer die alledaagse eskapades
waarmee ons onsself
bemoei

ʼn stukkie van my hart…

Sondag 11 September 2016

Maar die Grootste Hiervan is die Liefde

'n Facebook status van 'n vriend het my bietjie laat dink en ek kon net nie die rymwoorde vind om my gedagtes te verwoord nie...

"Wat die hart van seer is, loop die mond van leeg."

Soveel emosie opgesluit in presies elf woorde. Dis wyse woorde daardie: iets wat op ieder en elk van ons van toepassing is.

Elkeen van ons dra 'n bietjie seer saam met ons wat so diep weggesteek word, dat dit nie eers verwoord kan word nie. Die ding is net, as elkeen soveel seer met hom saamdra, hoekom steek ons dit dan weg agter maskers van valse geluk en voorspoed? Was 'n gedeelde smart nie maar nog altyd 'n halwe smart nie?

Aan die ander kant is alles maar 'n kwessie van siening. Ons hanterings-meganismes help dat die waters nooit te diep raak nie. Geloof het ons geleer dat alles gebeur met 'n doel en dat alles wat ons vandag moet deurmaak, ons sterker maak vir more.

Verder, as daar nie hartseer was nie, sou ons nie geweet het wat geluk is nie. As daar nie teenspoed was nie, sou ons nie voorspoed kon waardeer nie. As alles net maklik was, sou ons nooit die dryf gehad het om te werk vir 'n droom of ideaal nie. So, miskien is verwagtinge die oorsaak van alle seerkry, maar al wanneer ons verwagtinge skep is wanneer ons hoop het... En wat is ons sonder hoop?

'n Eenvoudige glimlag is genoeg om iemand se dag op te helder. Om iemand sterkte toe te wens, gee moed.  Net die gedagte dat daar iemand is wat omgee, iemand wat jou sal ondersteun maak nie saak wat nie, is dikwels al wat nodig is om daardie ekstra treetjie te gee in (dalk 'n onbekende) rigting van sukses.


Ons hoef nie mekaar se seerkry te weet nie. Ons hoef nie vir die wêreld te vertel van alles wat byt en wat stukkend is nie. Wat ons wel moet doen is om mekaar lief te hê. Onvoorwaardelik. En ons moet vir mekaar bid; bid soos wat ons nog nooit voorheen gedoen het nie, want vandag, meer as ooit van te vore, het ons mekaar nodig. Ek dank Vader elke dag vir my hartsmense waar liefde en gebed onvoorwaardelik vloei.

Liefde wat vloei uit ons monde en ons dade kan 'n seer hart genees. 'n Hart wat genees is, het 'n getuienis om te lewer. Seer los ons leeg, maar dit gee plek sodat ons met liefde gevul kan word.

"Wat die hart van vol is, loop die mond van oor..."

Liefde oorwin alles. Liefde maak geloof maklik. Liefde gee hoop. Liefde genees.

Tot volgende keer...

Maandag 09 Mei 2016

Jy is die see...

Dit is soms oorverdowend -
die stilte na ‘n orkaan
ek vrees hierdie donker stiltes 
want ek weet waar my gedagtes heen gaan.

Vanaand skree jou fluisterstem weer
en ek hunker na jou rus
al poog ek om jou beeld weg te knip
bly ek van jou hele menswees bewus.

In stilte sal ek jou bewonder
dit is ‘n uitgemaakte saak.
Maar jy sien,  jy is die see.
En ek...
ek is die wind
wat jou golwe onstuimig gaan maak.

...Die wêreld het my verniel
En soms wil ek net,
soos ‘n wannabe Ingrid Jonker,
verdrink
in die dieptes van jou siel...

soms wil ek hê dat jy in my oë sien
hoe ek vir jou goedkeuring smeek
maar ek weet jy verdien beter;
want jy, jy is die see
en ek...
ek is ‘n liefdes-leek.

Dit is een van my storms:
Jou hele bestaan.
Was ek die see...
was jy my maan.