Wys tans plasings met die etiket see. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket see. Wys alle plasings

Sondag 20 November 2016

Port Alfred se Strand


Begrawe my hart
op Port Alfred se strand
Waar die surfers se skouers
in die Kaapse son brand
en 'n meeu sweef
op 'n warm lugstroom
en die slanke bikini-lywe
die manne laat droom
Begrawe my hart
op Port Alfred se strand


Strooi my asoor die golflyn daar
as die laatmiddagson
die golwe bedaar
en die boepens omies
staan stokke in die hand
met die visvang-aas
in boksies in die sand
Strooi my as
oor die golflyn daar

Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse
waar die branders wit
ritmies klots
en klein seuntjies met nette
die vissies vang en
klein dogtertjies neus op trek
want die slakkies maak hul bang
Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse...

Maandag 09 Mei 2016

Jy is die see...

Dit is soms oorverdowend -
die stilte na ‘n orkaan
ek vrees hierdie donker stiltes 
want ek weet waar my gedagtes heen gaan.

Vanaand skree jou fluisterstem weer
en ek hunker na jou rus
al poog ek om jou beeld weg te knip
bly ek van jou hele menswees bewus.

In stilte sal ek jou bewonder
dit is ‘n uitgemaakte saak.
Maar jy sien,  jy is die see.
En ek...
ek is die wind
wat jou golwe onstuimig gaan maak.

...Die wêreld het my verniel
En soms wil ek net,
soos ‘n wannabe Ingrid Jonker,
verdrink
in die dieptes van jou siel...

soms wil ek hê dat jy in my oë sien
hoe ek vir jou goedkeuring smeek
maar ek weet jy verdien beter;
want jy, jy is die see
en ek...
ek is ‘n liefdes-leek.

Dit is een van my storms:
Jou hele bestaan.
Was ek die see...
was jy my maan.