'n stukkie lap sleep in die sand;
my hart is gebroke -
die stukkies glas
verinneweer
my fyngewerkte some
Elke keer as ek val
vat die opstaan net langer
vuil watte en ou gare
merk my spoor –
verlore verwerpte drome
van onskuldige naïewe jare
Strompel uit teen die berge
vir die soveelste maal
op hierdie bekende pad
en steeds voel ek so verdwaal
Op my verweerde knieë
met gevlekte hande
ruk uit die skerwe
verstrengel in my flarde
woordelose pleidooie bloei
roos kraal-ogies swart
met die leegheid bemoei…
Dan vind ek kamma-rus in geveinsde sielstilte
prop in my gapende borskasholte 'n stuk rots
stop die gate, werk toe die nate
Staan op, kyk op
en dra hierdie letsels met trots.