Woensdag 29 Maart 2017

Trots


Naïef en onskuldig
       afwagting in die lug
  swart jas en stilettos blink
Breëbors-trots. Die kleur was kaneel
                       (ek dink) toe swaai die lewe:
     'n rottejag gestrewe
  na 'n sperdatum wat dreigend nader
                        terwyl ek hygend, verblind,
                                                                             soekend
                            deur die brand rondtas en
    na die breëbors-trots hunker.
My wynrooi band verpas
                                           vir agt glimlaggies, lemoene, son en sweet
- 'n warmbors-trots - 

en ek weet
Ek weet die mooiste rosie 
kort water om te groei.
Die mooiste rosie kan net blom
as die tuinier haarself bemoei.

Woensdag 22 Maart 2017

Floukoppie van Rensburg



Kalfyn, Kalfyn
versoekingsfontein
Totius het gesien
hoe ek my bynaam verdien
toe die dames met styl
speel in die water
so vuil...

Kalfyn stel 'n wip -
my voete het geglip!
My maermerrie gesny
en steke gekry.
Almal het geskrik
vir my slegte geluk
Maar toe ek bloed sien,
het ek my bynaam verdien.

Kalfyn, Kalfyn
versoekingsfontein
Gebind, jy en ek...
Die PUK bly tog 'n lekker plek!

Sondag 22 Januarie 2017

Lappop -letsels



'n stukkie lap sleep in die sand;
my hart is gebroke -
die stukkies glas 
verinneweer 
my fyngewerkte some

Elke keer as ek val
vat die opstaan net langer
vuil watte en ou gare 
merk my spoor – 
verlore verwerpte drome 
van onskuldige naïewe jare 

Strompel uit teen die berge
vir die soveelste maal
op hierdie bekende pad
en steeds voel ek so verdwaal

Op my verweerde knieë

met gevlekte hande
ruk uit die skerwe 
verstrengel in my flarde 
woordelose pleidooie bloei
roos kraal-ogies swart 
met die leegheid bemoei… 

Dan vind ek kamma-rus in geveinsde sielstilte 
prop in my gapende borskasholte 'n stuk rots
stop die gate, werk toe die nate
Staan op, kyk op
en dra hierdie letsels met trots.


Dinsdag 17 Januarie 2017

Wanderlust

ʼn Stukkie van hart trek
na geïsoleerde strande wit en golwe blou
anderkant Suid-Afrikaanse grense
met my snaarmelodieë wat langs kampvuur
onder sterrehemel na hartewense
vloei

ʼn stukkie van my hart trek
na die laataand miernes wat onder straatliggies ontvou
met kwas en rooi verf en goeie musiek
en gemaklike skoene ʼn wandeling sonder bestemming
twee siele wat saam, onbewus van die publiek,
groei

ʼn stukkie van my hart trek
na bosveldklanke en oggenddou
speel onder watervalstrome
met vriende-klets en -skater
en onder immergroen bome
stoei

ʼn stukkie van my hart trek
na kaggelvuur in die winterkou’
gesin-samesyn en warm sjokolade
en ligte oomblikke en hartsake oor ʼn pak kaarte
en sommer die alledaagse eskapades
waarmee ons onsself
bemoei

ʼn stukkie van my hart…

Maandag 09 Januarie 2017

'n gevoel

Ek wil vir jou die mag gee
om my vlinder- en blinkerhart
stukkie-stukkie te ontbloot
van sy gelapte flenterskil
en die lont spontaan te laat vlamvat
met die vuur in jou oë
totdat my hart se donkerste kuile
soos vuurwerke in 'n euforiese skouspel
in die atmosfeer uitbrand
sodat ek terug kan sweef
en my kop op jou borskas rus
waar jou hartklop een word
met myne

Saterdag 31 Desember 2016

Die uurglas loop leeg

Tyd is...
Tydloos.
Elke einde is
die einde van
'n nuwe begin
en elke begin
die begin
van 'n nuwe einde

Soos die sandkorreltjies
van onthou
een-een val
en die uurglas
stadig, maar seker,
sy einde bereik
Versamel ons ervaring
wysheid, volwassenheid
rykdom...
vir more
Droom ons oor more
Werk ons vir more
Leef ons vir more

Maar tyd is...
Tydloos
want gister se more
is more se gister
Elke sandkorreltjie moet val
voordat die uurglas kan draai
want vandag se ervaring,
wysheid en volwassenheid
is nodig vir
more se ervaring
wysheid en volwassenheid-
Die uurglas moet leeg wees
voor hy volheid kan bereik
so

die uurglas loop leeg -
want vandag is die einde
van 'n nuwe begin
Die uurglas is vol -
want more is die begin
van 'n nuwe einde.

Maandag 19 Desember 2016

Silent scream

Innocence.
The curse of this child unborn.
It, who have not yet sinned,
trapped inside the womb
of the enemy sworn.

Too fragile to defend
against the cold tools
in a murderous hand
that takes away the warm flame
of life so pure by
torturing it to the end?

nowhere to run
nowhere to hide
as it opens its mouth
for the last silent scream
the heartless act takes its course.
DONE!
the flame has
died.