Saterdag 31 Desember 2016

Die uurglas loop leeg

Tyd is...
Tydloos.
Elke einde is
die einde van
'n nuwe begin
en elke begin
die begin
van 'n nuwe einde

Soos die sandkorreltjies
van onthou
een-een val
en die uurglas
stadig, maar seker,
sy einde bereik
Versamel ons ervaring
wysheid, volwassenheid
rykdom...
vir more
Droom ons oor more
Werk ons vir more
Leef ons vir more

Maar tyd is...
Tydloos
want gister se more
is more se gister
Elke sandkorreltjie moet val
voordat die uurglas kan draai
want vandag se ervaring,
wysheid en volwassenheid
is nodig vir
more se ervaring
wysheid en volwassenheid-
Die uurglas moet leeg wees
voor hy volheid kan bereik
so

die uurglas loop leeg -
want vandag is die einde
van 'n nuwe begin
Die uurglas is vol -
want more is die begin
van 'n nuwe einde.

Maandag 19 Desember 2016

Silent scream

Innocence.
The curse of this child unborn.
It, who have not yet sinned,
trapped inside the womb
of the enemy sworn.

Too fragile to defend
against the cold tools
in a murderous hand
that takes away the warm flame
of life so pure by
torturing it to the end?

nowhere to run
nowhere to hide
as it opens its mouth
for the last silent scream
the heartless act takes its course.
DONE!
the flame has
died.

Dinsdag 06 Desember 2016

Aangeleerde spieëlbeeld-keuses

Plekke, gebeurtenisse en geleenthede; party fyn beplan en ander suiwer geluk –
Een en twintig jaar demokraties gegroei uit Afrikaner wortels, (stelselmatig onderdruk)
Raakvat ouers se gene, liefde en dissipline
Skoolgaan, kerk toe gaan, sosiale roetine
Ek sien die honger na kennis in my oë en die emosie-lyntjies van my gesig
Pragtig, dit is wat ek is!
Siele met lewenslesse kom en gaan, maar net ʼn klein handjievol bly my hartsmense
Ideale, drome, seerkry en wense.
Ek sien die wêreld soos wat ek is.



Sondag 27 November 2016

Yskasmagneet

 Benodighede:

  • Stukkie afvalhout
  • Tou
  • Lint
  • Magneet
  • Knope
  • Gom
  • Skêr





























Metode:

  1. Smeer die houtblokkie met gom en plak die lint eerste 
  2. Smeer die res van die hout met gom
  3. Plak die tou op die gesmeerde houtblokkie, sodat dit lyk asof dit net op die blokkie lê (in die patroon van jou keuse). Werk vanaf buite na binne
  4. Plak die knopies op die lint
  5. Plak 'n magneet agterop
Hierdie is 'n eenvoudige projek wat 'n mooi geskenk sal maak. Die tou-metode kan baie tyd vat, maar met bietjie kreatiwiteit is die moontlikhede oneindig!









Sondag 20 November 2016

Port Alfred se Strand


Begrawe my hart
op Port Alfred se strand
Waar die surfers se skouers
in die Kaapse son brand
en 'n meeu sweef
op 'n warm lugstroom
en die slanke bikini-lywe
die manne laat droom
Begrawe my hart
op Port Alfred se strand


Strooi my asoor die golflyn daar
as die laatmiddagson
die golwe bedaar
en die boepens omies
staan stokke in die hand
met die visvang-aas
in boksies in die sand
Strooi my as
oor die golflyn daar

Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse
waar die branders wit
ritmies klots
en klein seuntjies met nette
die vissies vang en
klein dogtertjies neus op trek
want die slakkies maak hul bang
Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse...

Maandag 14 November 2016

Reënboogrykdom

'n ligte sonstraal breek
deur spookasemwolke sag
en baai heuwels groen
in 'n goue prag
en verdryf die duisternis
wat die wêreld verniel
en gee aan Moeder Natuur
haar eie siel.

Sagte doudruppels bad
grashalms fyn
en streel liefderik
veldgesiggies klein.
'n Paar note uit 'n sirinks wat tril
verbreek die doodsheid
van die omgewing stil
en word beantwoord deur 'n kriek wat spring
en plek-plek stop om pragtig, vals te sing.

Aan die einde van die spektrum:
'n pot goud sonder finansiële waarde -
Die rykdom lê eintlik in
die skoonheid van ons aarde!

Maandag 07 November 2016

Stille afwagting...

Maanlig-getuie
en wind-waai blaartjies
dansend oor stil-straat

in liggloed gebaai

Laat-aand huiwering
wankel-woord praatjies
laggend vrede-stil

snelweg-ver lawaai...