So het die Juffrou (die uwe) en die Ranger (die nuwe vriend) besluit om ontbyt in die Wildtuin te gaan eet. Nonsens praat is aan albei kante 'n sterkpunt, so daar was darem nie awkward stiltes nie. Sommer vroeg-vroeg het ek geleer dat die woord "awkward" onsteltenis veroorsaak, juis omdat dit naby aan die Ranger se geboortenaam is en die geboortenaam is verbode terrein.
Om saam met 'n Ranger in die Wildtuin rond te ry, kan nogals heel interessant raak... Ons het meer as een keer gerem dat die stof so staan om mis te bekyk of te ontleed hoe 'n bobbejaan gesterf het deur te kyk na die gedroogde vel. Ander kere kan dit heel frustrerend raak, want hy sien leeus wat jag en ek sien bome...
Dit daar gelos, kom ons so elfuur die oggend by die ruskamp aan, dood van die honger. Ranger moet eers sy hande gaan was, want hy het aan die bobbejaan se vel gevat en Juffrou vat nie nonsens nie. So loop ons en gesels met aaaaaallllll die besoekers wat tussen ons en 'n oop tafel sit. Al die mense waarsku ons teen die ape wat so 'n oorlas van hulself maak, maar elke keer verseker Ranger hulle dat die Juffrou net die aap 'n taai klap sal gee en dan sal hulle ons uitlos. Juffrou maak natuurlik 'n oorknoop... Die piekniekmandjie se inhoud was net op die tafel uitgepak toe die eerste aap 'n kans kom waag. Van die ander gaste het egter gehelp met 'n lang stok en die aap het spore gemaak.
Net toe ek so die eerste byt vat, sien ek in my bril se weerkaatsing net vier pote wat my van agter bespring. Die Ranger se oë was net so groot soos sy mond oop, maar daar was nie tyd om 'n geluid te maak nie. Veg of vlug skop toe in en almal weet tog dat ek nie vinnig genoeg is om weg te hardloop nie. Ek maak toe nou maar soos iemand wat weet wat sy doen en die Ranger het mos gesê die Juffrou sal klap... Die agterkant van my hand maak kontak met die aap se bek dat jy eers hoor hoe kraak sy kakebeen en toe die doef-doe-doe-doef geluid soos wat hy oor die grond rol. Dis net stof waar jy kyk. Die aap kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ranger kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ek weet nie wie van ons drie die grootste geskrik het nie. Ek is ook nie seker wie is die meeste verbaas nie.
"Ek het nie gedink jy sal dit regtig doen nie."
En dan tref die besef jou so hard soos wat jou hand die aap getref het: Die Ranger was nie ernstig oor die klappery en dit is nie die regte manier om van ape ontslae te raak nie, dit is die manier hoe jy hulle aanspoor om die "score te kom settle". Toe maak ons maar spore.
Ranger was maar stil gewees vir 'n redelike lang tyd. My ma het hom mos gewaarsku dat ek befoeterd kan raak. Dis nou maande later en hy koes nogsteeds as ek te vinnig beweeg terwyl hy in die omtrek is... So ry ons verder in Niemandsland in.
Daar was niks gewees nie en die volgende oomblik is ons in die middel van 'n trop olifante. Ek is in die sewende hemel. Ranger is op sy stukke. Ek is nie seker of hy my probeer vermaak of bang maak deur so naby aan die olifante te kom nie. Hy praat met die olifante soos wat ek met my honde praat. En toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. (Die olifant was besig om ons te storm, as jy nou gewonder het wat aangaan). Ranger sluit nie die kar aan nie, hy gesels nog met die olifant langs ons. My binneste skree so hard dat ek nie besef daar kom nie 'n geluid by my mond uit nie. Die olifant was al amper op ons gewees, heel rustig, steek Ranger sy kop by die venster uit.
"Oi! Bos toe!"
En sal jy nou glo: Daar steek die olifant vas in sy spore dat die stof sommer so staan. Heel rustig draai hy om en draf terug in die bos in! My brein shortcircuit. Dit moes 'n lucky shot gewees het! Ranger gesels verder met die olifant langs hom asof daar niks weird sopas gebeur het nie. Ek besluit toe nou maar om eers niks te sê nie. Ek het in elk geval niks woorde nie. Ons ry so entjie en hy stop weer so reg onder die volgende olifant se neus, maar die keer aan my kant. Ek hou my maar braaf, die man weet mos wat hy doen. Ek laat toe dat die rustige manier wat hy met die olifant praat, my ook kalmeer. My hartklop het net rustig geraak, toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Weer. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Weer. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. Weer. Heel nonchalant, steek Ranger sy kop by die venster uit.
"Oi! Bos toe!"
En daar hol die olifant!
Tot volgende keer...