Donderdag 18 Augustus 2016

Spookmeisie van Spannervalley

'n Mens kry 2 tipes atlete. Die een groep is regtig ernstig oor hulle atletiek. Die ander groep is die lot met wie ek geassosieer het...

In my graad 8 jaar, het 11 van ons atlete, wat wissel tussen o/14 en o/19, saam op ‘n atletiekkursus gegaan. Ek kan nie onthou wat ons geleer het nie. Al wat ek kan onthou is dat ons was daar om sportprestasies te bevorder. En die matrieks was mooi gewees. 

Die "sports" het al begin toe ons agterkom dat die inwoners van Sasolburg hulle room “Spanners” noem. (In ons kontrei is die “Spanners” die spif vuilgatte wat ‘n Kips kan tune dat hy klink soos ‘n Harley op steroids.)

Daar gekom, word al 11 van ons, meisies en seuns deurmekaar, op dieselfde gang geplaas juis omdat ons so min is. Toe die organiseerder vir ons gids verduidelik dat ons bly op die boonste gang van die Wes-vleuel, toe hardloop die koue rillings op en af teen haar nek. Oppad boontoe, teen die duisende en duisende trappies op, vertel sy toe vir ons dat daardie gang spook. Die storie lui dat die dame het selfmoord gepleeg in die badkamer en tot vandag toe nog kom loer sy by die kamerdeure in opsoek na haar kamermaat.

Dit was volmaan gewees en die matriekseuns wou die dames beïndruk met hul manewales. Die hele lot van ons het uit die koshuis uitgeglip en op die maanverligte rugbyvelde gaan kuier. Die manne het getjank soos wolwe en dit "maankoors" genoem. Hulle het die meisies banggemaak en die fisiese kontak "ondersteuning" genoem. Die graad 8's moes gras pluk met 'n tweezer en hulle het dit "ontgroening" genoem. Die aand was 'n

belowende                                 geïsoleer van realiteit

                 legendariese            begin van die einde en einde van die begin         

nostalgiese               "Eye of the Tiger" 

tipe aand totdat ons vinnig-vinnig teruggejaag is kamers toe.

So vergeet ons van die girl, gaan stort en maak reg om te katel. Toe alles stil en donker is, vra my kamermaat vir my of ek dink die gang spook regtig. Natuurlik het ek die gedagte sommer dadelik afgeskiet en ons het tot ruste gekom.

Ek word wakker van ‘n nood wat voel soos ‘n damwal wat dreig om te breek. My selfoon wys dis presies 02:00. Ek hoor net my kamermaat se rustige, diep asemhaling. Ek staan op en loer by die deur uit. Die badkamer is aan die anderkant van die gang. Die gang het so sieklike, gelerige skynsel van die gloeilampe se lig en moontlik die kleur van die muur. Ek sluip in die gang af. Jy kan ‘n speld hoor val. In die badkamer kan jy net die egalige zzzzzzz geluid hoor van die buisligte. Toe my broek op my enkels lê, vang die lig so dip. Skielik is ek bewus van die spookstorie. En die penarie waarin ek myself nou bevind!

Ek loer by die badkamer se deur uit en besef meteens dat dit was maklik om hier te kom, want ek het in die lig in na die badkamer gestap. Nou moet ek in die donker in terug na my kamer toe stap. En dis ‘n laaaaaaang gang... Die gedagtes is nog nie koud nie, toe dryf die eerste staccato knal my nekhare regop en my oë wyd oop. Die lig die naaste aan die badkamer het sopas afgesit. Die tweede staccato knal het ‘n sprint my ontketen wat vir Usain Bolt trots sal maak. Die ligte sit nou af so vinnig soos wat ek verby hulle vlieg... en toe tref die paniek my: Ek weet nie watter kamer is myne nie!

Ek ruk aan die eerste deur, maar dit is gesluit. Ek pluk die volgende deur oop en stop dood voor die bed toe ek sien daar is klaar ‘n figuur onder die duvet. Teen hierdie tyd is die gang stikdonker. My paniekaanval begin grens aan dierlike instink. Soos ‘n vaartbelyne Jaguar wat sy prooi bespring, spring ek in die volgende kamer se bed in, hande-viervoet bo-oor ‘n blonde figuur wat lê in die bed wat ek gedink het is myne. Hy gil. Ek vlieg by die deur uit. Al wat ek kan hoor is my eie hartklop, rukkerige asemhaling en ‘n matriekseun wat gil. In die volgende kamer loer ek eers in die bed in voordat ek inklim. Sy gil so hard dat ek eers geskok staan en kyk vir ‘n paar sekondes voordat ek by die deur uitstrompel. Die kamer heel op die punt is myne. Ek weet dit want my kamermaat het klaar die lig aangesit as gevolg van al die gille en lyk asvaal daar waar sy op haar bed in haar kombers toegevou sit. Ek slaan die deur agter my toe. Ons kyk net vir mekaar. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is my asemhaling uiteindelik weer amper normaal.

Ek moes 'n paar keer vir haar verduidelik presies wat gebeur het. Ek het angsvrees beleef en so ook die ouer kinders. Sy wou haarself breek! Die ligte was egter 'n raaisel. Ons het daardie aand gepinkie-promise dat die waarheid nie "die lig sal sien" solank as wat ons minderjarig is nie. 

Die volgende oggend toe ek die lig aansit om te gaan tandeborsel, kom ek agter dat die ligte is in serie geskakel. Hulle sit aan soos wat die elektrisiteit deur hulle vloei en as jy dit afsit, kan jy sien hou die elektriese stroom onttrek: die ligte sit een vir een af! Iemand moes die lig afgesit het terwyl ek in die badkamer was. (Dat 'n mens tog nou jouself allerhande dinge kan wysmaak as daar spookstories betrokke is... gmf!) Die stories aan die ontbyttafel was egter die beste:

“Jislaaikit, ouens! Sy was bo-op my gewees! Haar oë is so rooi soos bloed en sy het met haar swart naels my oë probeer uitkrap.”

“Dis nog niks nie, sy het net langs my bed gestaan en vir my gestaar!”

“Wat?! Sy was saam met my in die bed gewees totdat ek begin gil het, toe verdwyn sy net!”

Ek en my kamermaat het maar net doodstil gesit en luister na die ouer kinders se ervarings met die spookmeisie. Die arme girl is nou ‘n verskriklike karakter. Sy het lang swart hare, rooi oë en lang, vuil vingernaels. Haar wit nagklere is geskeur en sy kom net uit as dit volmaan is.

In die proses het ek geleer dat ‘n mens trek nie wit nagklere op ‘n toer aan nie en jy gaan loop jou draaie voordat jy gaan slaap.


Tot volgende keer...

Sondag 03 Julie 2016

Aventure Nocturne


Want die son het gesak -
oor die bergtoppe verdwyn

die maan kruip dan nader

en die sterretjies begin te skyn

en die menslike geskarrel 
word tot vensterliggies beperk
en die samelewing sug saggies
na 'n lang dag se werk

So die kriekies kriek 
'n wiegieliedjie saam
die paddakoor hou tyd
en die nag roep my naam!

Dan verlaat ek die veiligheid
van my bed en komberse knus
en betree dan die donker
en word van my sintuie bewus

en dan ruik ek die koue 
wat sy arms om my vou
en met sagte liefkosings
adrenalien in my bou

en dan sien ek met my ruggraat
die skaduwees bly in pas:
op die ritme van die stilte
dans ons oor die doudruppelgras

en die nag kry dan lewe
en my hart kry dan rus
so is ek draaiend en swaaiend
tot 'n droomwêreld gesus...



Vrydag 24 Junie 2016

Boekmerk


Hierdie is 'n eenvoudige projek wat binne 5min 
afgehandel kan word.


Benodighede

  • Tang
  • ketting
  • charms
  • silwer ringetjies
  • Boekmerkpennetjie

Metode

  • buig die ringetjies oop soos op die foto.
  • Haak die charm en die ketting.
  • Buig die ringetjie toe
  • herhaal :)

Saterdag 18 Junie 2016

Tekenvaardigehede: Potlood #01 - Inleiding

Enige nuwe vaardigheid begin altyd met die basics. Meeste van die tyd is dit 'n shlep om dit aan te leer, maar dit is die moeite werd... Almal het êrens begin; min mense is 'n gebore Da Vinci!


"The master has failed more times than the beginner has even tried."

 - Stephen McCrainie


'n Mens kry 2 verskillende tipes potlode. 

Harde potlode word gemerk met die letter H voor die nommertjie, bv. H2, H3, H4. Harde potlode word gebruik vir sketse wat meer akkuraatheid verg, bv. tegniese tekeninge.

Tipes harde lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die H-reeks potlode geteken sal word




Die HB potlood is die potlood wat tussen die 2 uiterstes inpas.

Sagte potlode word gemerk met die letter B, bv. 2B, 3B, 9B. Hierdie tipe potlode is ideaal vir sketse waarmee die kunstenaar tekstuur skep of dalk diepte wil uitbeeld.

Tipes sagte lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die B-reeks potlode geteken sal word



Oefen daardie fyn motoriese vaardighede... Tot volgende keer!

Verwysings

Stanyer, P.  2003.  The Complete Book of drawing techniques - A professional guide for the artist.  London: Arcturus Publishing Ltd.

Woensdag 15 Junie 2016

Gym Junkies en Griekse Gode




Dit het my ‘n rukkie gevat voordat ek by die PUK se gym gaan aansluit het. Ek is nou nie die mooiste, maerste meisie nie, so om enigsins tussen ‘n klomp bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkies vir die eerste keer op ‘n treadmill te klim, kan nogals vreesaanjaend wees...

Dit het my ‘n rukkie gevat om vir die eerste keer gym toe te gaan nadat ek aangesluit het. Ek het myself gemotiveer met, “om vir vet mense by die gym te lag is soos om vir pasiënte by die hospitaal te lag. Niemand sal vir my lag nie. Hulle sal my nie eers raaksien nie. Ek sal maar net stilletjies in en uit glip.” Een oggend het ek net die besluit geneem. Vandag is die dag. Nou is die oomblik.

Ek kyk op my horlosie. Die lang armpie raak-raak net so aan die twaalf en die kort enetjie mik vir die vyf. Dit neem my ‘n rukkie om te registreer hoe laat dit is. My boekesak bevat vier handboeke en ‘n hoop notaboeke. Ek loop tussen die SS en die amfi deur. My sak raak swaar. ‘n Ligte waterlagie vorm op my voorkop. Om my gaan alles net normaal aan, asof daar niks vreemd besig is om te gebeur nie. My franse vlegsel wat perfek volgens die koshuis se voorskrifte vir eerstejaars gedoen is, is so styf dat dit voel of ek my haargroei probeer versnel. Met my R80 PEP tekkies bekruip ek amper die gym se eerste draaihek. Ek vleg deur die ry studente wat ongeduldig voor die deur by die kitsbank staan en wag.

Die gym ruik vreemd; amper soos ‘n mengsel van vars sweet, skoonmaakmiddels en rubber. Die gangetjie is effens donker. Elke man wat verby my stap is gebou om te hou en elke dame is ten minste kop en skouers langer as ek. Geluide wat spreek van pyn, motivering, oorwinning en telleurstelling ego vanuit die muurbalbane se rigting agter my aan. Daar staan drie Griekse Gode by die hek aan die linkerkant en ‘n ligte uriene reuk vanaf die regterkant sê sommer duidelik wie se kleedkamers aan die ander kant is. Dis my beurt om deur die hek te gaan.

Skielik begin ek twyfel of my grootte 14 broek regtig so klein is. Hierdie gym draaihek diskrimineer teen enigiemand wat groter is as dit. En ek het nog my sak ook by my! Met ‘n effense gespook kom ek deur die hek. Ek is in die gym. Hierdie gym diskrimineer teen meisies met ‘n lae selfbeeld. Ek moet eers deur ‘n hele vertrek vol Johnny Bravo’s stap om by die treadmills uit te kom. My moed is klaar in my skoene en ek het nog nie eers begin nie!

Liewe Jesus het geweet wat ek nodig het en terwyl ek nog besig is om knoppies willekeurig te druk met die hoop dat die ding begin, stap een van my hartsvriendinne in die gym in. Goose is van dieselfde kaliber as ek. En dis haar eerste keer ook! Ten minste weet sy hoe die nagmerrie-masjien werk. Sy sit myne vir my aan en klim op die een langs my. 200m later het ek nou genoeg gehad! Goose se wange is bloedrooi. Ek dink sy het ook nou genoeg gehad. Net toe ons wil afklim, klim Apollo en Poseidon weerskante van ons op die treadmills. En Zeus klim op die roeimasjien voor ons. Net een kyk in Goose se rigting, toe weet ek: Ons gaan nie binnekort ophou nie! Elke keer wat ek voel dat ek wil opgee, kyk ek net in Zeus se rigting en een van sy onnatuurlike wit glimlagte is sommer genoeg om my spoed te verdubbel. Elke keer as ek my gesig wil trek van die pyn, sien ek net Apollo uit die hoek van my oog en dan smile ek sommer weer breed! Die Griekse Gode gee aan Goose ook sommer bonatuurlike krag. Sy lyk gedetermineerd. En sy snol! Ek het nie eers geweet sy het dit in haar nie. Ek dink nie dat sy het eers geweet sy het dit in haar nie.

So vyf kilometer later begin ek sterretjies sien. Ek dink ek het nou regtig genoeg gehad. Goose slat neer op die vloer langs die treadmill. Sy is spierwit in haar gesig. Zeus en sy trawante hou ook op sprint. Hulle is nie eers kort van asem nie. Ek maak asof ek nie vir Goose ken nie. Sy lyk soos ‘n oormoeg, hardkoppige kleuter wat daarop aandring om verder in die sandput te speel lank nadat dit eintlik slaaptyd was.

Ek drentel terug na die hek toe. My sak weeg ‘n ton! Ek kyk nie eers vir die Johnny Bravo’s langs my nie. Ek tree in die hek in en....

Op een of ander manier het ek dit reggekry om my bene tussen die hek en my boeksak te laat vassit. Ek kan nie vorentoe of agtertoe nie! Agter my bars Goose uit van die lag. Die gym-reuk vou sy vingers om my keel en ek begin weer sterrietjies sien. Dit voel of my eie digtheid minder is as dié van die beknopte spasie waarin ek myself nou bevind. Ek probeer spring. Niks. Ek probeer skuifel. Niks. Ek raak benoud! En Goose lê soos wat sy lag! Uit die op en aanmerkings wat my laer as erdwurm afskeidings laat voel, verneem ek dat ek het nou ‘n gehoor wat my spektakel aanskou. Die trane brand vlak in my oë.

“Jy wou my mos alleen gelos het!”

“Bra! Check daai cherry sit in die hek vas!”

“Ag shame, sy’s seker maar ‘n wannabe plus-size model.”

“Ek wil jou lyf in ‘n bikini sien!”

‘n Groot hand vat aan my skouer en ‘n stem wat klink soos Arabica koffie, heuning en ‘n kaggelvuur in die winter sê ‘n woord wat ek nie verstaan nie. My eie sinnelose hardop gebrabbel maak die woord onduidelik. Wag, dit is my naam. Die stem sê my naam! Ek bly stil en hou op met spartel. “Liz, klim bo-op die hek, dan sal ek hom draai.” Dit neem my ‘n rukkie om te registreer wat die stem sê. Ek is gehoorsaam. Die hek draai en toe daar genoeg spasie vir my is om uit te kom, tuimel ek gat-oor-kop in die gangetjie in. Dis net boeke wat waai en ‘n waterbottel wat rol, maar ek steur myself glad nie daaraan nie. Ek moet net hier wegkom!

Ek strompel reguit vorentoe in die kleedkamers in. As die aarde my tog net kon insluk! EK het lanklaas my naam so gat gemaak. My sitvlak maak sommer so doef-geluid soos wat ek op die vloer neerplak. Moedeloos en seer, begin ek stadig die vervlakse vlegsel wat my hare so trek losmaak. Ek kastai myself sover as wat ek gaan. Hardop. “Flippen Griekse Gode met met heuningwarm stemme en elendige hekke en Goose lag seker nou nog en jy sit hier en...” Iemand maak langs my keelskoon. Ek kyk op...

Apollo staan by die urinaal. Rooi vlamme kruip in sy nek op tot by sy alreeds skarlaken-ore. Ek sit versteen teen die muur – hierdie dag kan nie erger raak nie! Toe kom Zeus in met al my boeke in sy hande. Daardie stem wat my gered het behoort aan hom! “Liz, ek het gehoor toe jou vriendin jou naam gesê het. Hier is jou boeke, maar hierdie is die manskleedkamer. Die dameskleedkamer is net so entjie in die gang af.” Hy glimlag weer. Dis naby aan die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sy stem is sag en vertroostend. Daar is geen spot daarin nie; dit klink soos opregte omgee. Sy goudbruin oë spreek egter van ‘n ander storie. Ek voel nog kleiner. Apollo maak weer keelskoon. Ek besef die man se nood is dalk groot! Ek glimlag braaf (al loop die trane) en vat my boeke by die engel.

Om by daardie deur uit te stap was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. My skare het gejuig... Goose se trane het geloop soos wat sy gelag het. Poseidon het nonchalant teen die deur geleun met my waterbottel in sy hand. Die terg het ook vlak in daardie twee oseane waaruit sy oë bestaan, gelê, maar hy het genadiglik niks gesê nie.

Nodeloos om te sê, ek het maar by Virgin Active gaan aansluit vir die res van die jaar en later eers weer by die PUK gym; ‘n paar kilogramme ligter en spiere wat net-net harde werk begin wys. Die motivering het gebrand met die herinnering aan twee goudbruin oë en ‘n stem wat melodieë skep vir oakmoss en sandalwood om te harmoniseer.

Vandag is die Griekse Gode my beste vriende... My dag van glorie was tog die moeite werd gewees.

Tot volgende keer...

Sondag 12 Junie 2016

Kleinsus se klavier


"... Haar vingers ken die pad
opgesluit in wit en swart - 
Die klavier se grootste vreugde,
hartseer en verlange;
Verstaan die hart se diepste smart..."

As haar melodieë so inmekaar vloei
soos wat haar vingers oor die ivoor dans
en balke met note in haar geestesoog vorm
om nooit deur ander gesien te word nie
maar wel gehoor te word;
gevoel te word...

Dan meng haar musiek 
met die wysie 
wat jou hartsnare speel.
Dan vir 'n oomblik,
net een oomblik,
sal sy haar diepste binneste
met jou deel.

O, my siel, vind rus;
my hoop kom van God.
Só spreek Hy sonder woorde
tot jou gees -
dra Sy stem in Sy dienaar se akkoorde
om jou te bemoedig as dit voel 
of alles net te veel wil wees.

As sy begin speel
word ek stil
en luister
-veral in my donkerste uur-
na die bemoedigende geluide
van my kleinsus se klavier....

Donderdag 09 Junie 2016

Piesang en Grondboontjiebotter smoothie


Vir hierdie resep het jy 'n blender nodig
1 Porsie

Bestandele


  • 1 piesang
  • 1 eetlepel grondboontjiebotter
  • 4 eetlepels joghurt 
  • 60ml melk
  • mespunt kaneel

Metode

  1. Gooi al die bestandele saam
  2. Blend totdat die piesang fyn is en die grondboontjiebotter mooi ingemeng het
  3. Hou dit koud totdat dit bedien word.
Minder melk en meer joghurt sal 'n meer 
romerige smoothie tot gevolg hê.