Vrydag 24 Junie 2016

Boekmerk


Hierdie is 'n eenvoudige projek wat binne 5min 
afgehandel kan word.


Benodighede

  • Tang
  • ketting
  • charms
  • silwer ringetjies
  • Boekmerkpennetjie

Metode

  • buig die ringetjies oop soos op die foto.
  • Haak die charm en die ketting.
  • Buig die ringetjie toe
  • herhaal :)

Saterdag 18 Junie 2016

Tekenvaardigehede: Potlood #01 - Inleiding

Enige nuwe vaardigheid begin altyd met die basics. Meeste van die tyd is dit 'n shlep om dit aan te leer, maar dit is die moeite werd... Almal het êrens begin; min mense is 'n gebore Da Vinci!


"The master has failed more times than the beginner has even tried."

 - Stephen McCrainie


'n Mens kry 2 verskillende tipes potlode. 

Harde potlode word gemerk met die letter H voor die nommertjie, bv. H2, H3, H4. Harde potlode word gebruik vir sketse wat meer akkuraatheid verg, bv. tegniese tekeninge.

Tipes harde lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die H-reeks potlode geteken sal word




Die HB potlood is die potlood wat tussen die 2 uiterstes inpas.

Sagte potlode word gemerk met die letter B, bv. 2B, 3B, 9B. Hierdie tipe potlode is ideaal vir sketse waarmee die kunstenaar tekstuur skep of dalk diepte wil uitbeeld.

Tipes sagte lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die B-reeks potlode geteken sal word



Oefen daardie fyn motoriese vaardighede... Tot volgende keer!

Verwysings

Stanyer, P.  2003.  The Complete Book of drawing techniques - A professional guide for the artist.  London: Arcturus Publishing Ltd.

Woensdag 15 Junie 2016

Gym Junkies en Griekse Gode




Dit het my ‘n rukkie gevat voordat ek by die PUK se gym gaan aansluit het. Ek is nou nie die mooiste, maerste meisie nie, so om enigsins tussen ‘n klomp bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkies vir die eerste keer op ‘n treadmill te klim, kan nogals vreesaanjaend wees...

Dit het my ‘n rukkie gevat om vir die eerste keer gym toe te gaan nadat ek aangesluit het. Ek het myself gemotiveer met, “om vir vet mense by die gym te lag is soos om vir pasiënte by die hospitaal te lag. Niemand sal vir my lag nie. Hulle sal my nie eers raaksien nie. Ek sal maar net stilletjies in en uit glip.” Een oggend het ek net die besluit geneem. Vandag is die dag. Nou is die oomblik.

Ek kyk op my horlosie. Die lang armpie raak-raak net so aan die twaalf en die kort enetjie mik vir die vyf. Dit neem my ‘n rukkie om te registreer hoe laat dit is. My boekesak bevat vier handboeke en ‘n hoop notaboeke. Ek loop tussen die SS en die amfi deur. My sak raak swaar. ‘n Ligte waterlagie vorm op my voorkop. Om my gaan alles net normaal aan, asof daar niks vreemd besig is om te gebeur nie. My franse vlegsel wat perfek volgens die koshuis se voorskrifte vir eerstejaars gedoen is, is so styf dat dit voel of ek my haargroei probeer versnel. Met my R80 PEP tekkies bekruip ek amper die gym se eerste draaihek. Ek vleg deur die ry studente wat ongeduldig voor die deur by die kitsbank staan en wag.

Die gym ruik vreemd; amper soos ‘n mengsel van vars sweet, skoonmaakmiddels en rubber. Die gangetjie is effens donker. Elke man wat verby my stap is gebou om te hou en elke dame is ten minste kop en skouers langer as ek. Geluide wat spreek van pyn, motivering, oorwinning en telleurstelling ego vanuit die muurbalbane se rigting agter my aan. Daar staan drie Griekse Gode by die hek aan die linkerkant en ‘n ligte uriene reuk vanaf die regterkant sê sommer duidelik wie se kleedkamers aan die ander kant is. Dis my beurt om deur die hek te gaan.

Skielik begin ek twyfel of my grootte 14 broek regtig so klein is. Hierdie gym draaihek diskrimineer teen enigiemand wat groter is as dit. En ek het nog my sak ook by my! Met ‘n effense gespook kom ek deur die hek. Ek is in die gym. Hierdie gym diskrimineer teen meisies met ‘n lae selfbeeld. Ek moet eers deur ‘n hele vertrek vol Johnny Bravo’s stap om by die treadmills uit te kom. My moed is klaar in my skoene en ek het nog nie eers begin nie!

Liewe Jesus het geweet wat ek nodig het en terwyl ek nog besig is om knoppies willekeurig te druk met die hoop dat die ding begin, stap een van my hartsvriendinne in die gym in. Goose is van dieselfde kaliber as ek. En dis haar eerste keer ook! Ten minste weet sy hoe die nagmerrie-masjien werk. Sy sit myne vir my aan en klim op die een langs my. 200m later het ek nou genoeg gehad! Goose se wange is bloedrooi. Ek dink sy het ook nou genoeg gehad. Net toe ons wil afklim, klim Apollo en Poseidon weerskante van ons op die treadmills. En Zeus klim op die roeimasjien voor ons. Net een kyk in Goose se rigting, toe weet ek: Ons gaan nie binnekort ophou nie! Elke keer wat ek voel dat ek wil opgee, kyk ek net in Zeus se rigting en een van sy onnatuurlike wit glimlagte is sommer genoeg om my spoed te verdubbel. Elke keer as ek my gesig wil trek van die pyn, sien ek net Apollo uit die hoek van my oog en dan smile ek sommer weer breed! Die Griekse Gode gee aan Goose ook sommer bonatuurlike krag. Sy lyk gedetermineerd. En sy snol! Ek het nie eers geweet sy het dit in haar nie. Ek dink nie dat sy het eers geweet sy het dit in haar nie.

So vyf kilometer later begin ek sterretjies sien. Ek dink ek het nou regtig genoeg gehad. Goose slat neer op die vloer langs die treadmill. Sy is spierwit in haar gesig. Zeus en sy trawante hou ook op sprint. Hulle is nie eers kort van asem nie. Ek maak asof ek nie vir Goose ken nie. Sy lyk soos ‘n oormoeg, hardkoppige kleuter wat daarop aandring om verder in die sandput te speel lank nadat dit eintlik slaaptyd was.

Ek drentel terug na die hek toe. My sak weeg ‘n ton! Ek kyk nie eers vir die Johnny Bravo’s langs my nie. Ek tree in die hek in en....

Op een of ander manier het ek dit reggekry om my bene tussen die hek en my boeksak te laat vassit. Ek kan nie vorentoe of agtertoe nie! Agter my bars Goose uit van die lag. Die gym-reuk vou sy vingers om my keel en ek begin weer sterrietjies sien. Dit voel of my eie digtheid minder is as dié van die beknopte spasie waarin ek myself nou bevind. Ek probeer spring. Niks. Ek probeer skuifel. Niks. Ek raak benoud! En Goose lê soos wat sy lag! Uit die op en aanmerkings wat my laer as erdwurm afskeidings laat voel, verneem ek dat ek het nou ‘n gehoor wat my spektakel aanskou. Die trane brand vlak in my oë.

“Jy wou my mos alleen gelos het!”

“Bra! Check daai cherry sit in die hek vas!”

“Ag shame, sy’s seker maar ‘n wannabe plus-size model.”

“Ek wil jou lyf in ‘n bikini sien!”

‘n Groot hand vat aan my skouer en ‘n stem wat klink soos Arabica koffie, heuning en ‘n kaggelvuur in die winter sê ‘n woord wat ek nie verstaan nie. My eie sinnelose hardop gebrabbel maak die woord onduidelik. Wag, dit is my naam. Die stem sê my naam! Ek bly stil en hou op met spartel. “Liz, klim bo-op die hek, dan sal ek hom draai.” Dit neem my ‘n rukkie om te registreer wat die stem sê. Ek is gehoorsaam. Die hek draai en toe daar genoeg spasie vir my is om uit te kom, tuimel ek gat-oor-kop in die gangetjie in. Dis net boeke wat waai en ‘n waterbottel wat rol, maar ek steur myself glad nie daaraan nie. Ek moet net hier wegkom!

Ek strompel reguit vorentoe in die kleedkamers in. As die aarde my tog net kon insluk! EK het lanklaas my naam so gat gemaak. My sitvlak maak sommer so doef-geluid soos wat ek op die vloer neerplak. Moedeloos en seer, begin ek stadig die vervlakse vlegsel wat my hare so trek losmaak. Ek kastai myself sover as wat ek gaan. Hardop. “Flippen Griekse Gode met met heuningwarm stemme en elendige hekke en Goose lag seker nou nog en jy sit hier en...” Iemand maak langs my keelskoon. Ek kyk op...

Apollo staan by die urinaal. Rooi vlamme kruip in sy nek op tot by sy alreeds skarlaken-ore. Ek sit versteen teen die muur – hierdie dag kan nie erger raak nie! Toe kom Zeus in met al my boeke in sy hande. Daardie stem wat my gered het behoort aan hom! “Liz, ek het gehoor toe jou vriendin jou naam gesê het. Hier is jou boeke, maar hierdie is die manskleedkamer. Die dameskleedkamer is net so entjie in die gang af.” Hy glimlag weer. Dis naby aan die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sy stem is sag en vertroostend. Daar is geen spot daarin nie; dit klink soos opregte omgee. Sy goudbruin oë spreek egter van ‘n ander storie. Ek voel nog kleiner. Apollo maak weer keelskoon. Ek besef die man se nood is dalk groot! Ek glimlag braaf (al loop die trane) en vat my boeke by die engel.

Om by daardie deur uit te stap was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. My skare het gejuig... Goose se trane het geloop soos wat sy gelag het. Poseidon het nonchalant teen die deur geleun met my waterbottel in sy hand. Die terg het ook vlak in daardie twee oseane waaruit sy oë bestaan, gelê, maar hy het genadiglik niks gesê nie.

Nodeloos om te sê, ek het maar by Virgin Active gaan aansluit vir die res van die jaar en later eers weer by die PUK gym; ‘n paar kilogramme ligter en spiere wat net-net harde werk begin wys. Die motivering het gebrand met die herinnering aan twee goudbruin oë en ‘n stem wat melodieë skep vir oakmoss en sandalwood om te harmoniseer.

Vandag is die Griekse Gode my beste vriende... My dag van glorie was tog die moeite werd gewees.

Tot volgende keer...

Sondag 12 Junie 2016

Kleinsus se klavier


"... Haar vingers ken die pad
opgesluit in wit en swart - 
Die klavier se grootste vreugde,
hartseer en verlange;
Verstaan die hart se diepste smart..."

As haar melodieë so inmekaar vloei
soos wat haar vingers oor die ivoor dans
en balke met note in haar geestesoog vorm
om nooit deur ander gesien te word nie
maar wel gehoor te word;
gevoel te word...

Dan meng haar musiek 
met die wysie 
wat jou hartsnare speel.
Dan vir 'n oomblik,
net een oomblik,
sal sy haar diepste binneste
met jou deel.

O, my siel, vind rus;
my hoop kom van God.
Só spreek Hy sonder woorde
tot jou gees -
dra Sy stem in Sy dienaar se akkoorde
om jou te bemoedig as dit voel 
of alles net te veel wil wees.

As sy begin speel
word ek stil
en luister
-veral in my donkerste uur-
na die bemoedigende geluide
van my kleinsus se klavier....

Donderdag 09 Junie 2016

Piesang en Grondboontjiebotter smoothie


Vir hierdie resep het jy 'n blender nodig
1 Porsie

Bestandele


  • 1 piesang
  • 1 eetlepel grondboontjiebotter
  • 4 eetlepels joghurt 
  • 60ml melk
  • mespunt kaneel

Metode

  1. Gooi al die bestandele saam
  2. Blend totdat die piesang fyn is en die grondboontjiebotter mooi ingemeng het
  3. Hou dit koud totdat dit bedien word.
Minder melk en meer joghurt sal 'n meer 
romerige smoothie tot gevolg hê.


Maandag 06 Junie 2016

DIY: Decoupage Coasters

Moeilikheidsgraad: Medium
Tyd: dit vat nie so lank om te decoupage nie, maar dit vat lank om droog te word. Sit ten minste 2 dae uit vir hierdie projek.



Benodighede:


  • Plain coasters
  • Acrylic gel medium/ gel medium
  • Fotostate van jou gekose prentjies
  • Wit verf
  • Kwas
  • Opsioneel: swart verf
  • Opsioneel: vernis

Metode:

  • Let op dat die prentjies wat woorde by het, in spieëlbeeld geprint is (inverted).
  • Die oppervlak waarop die prent geplak word, moet 'n ligte kleur wees, want die Gel medium verplaas die ink vanaf die papier na die hout.
  • Ek hou van swart, so ek het die stukkies hout wat nie met die prente bedek is nie, swart geverf. Dit is opsioneel. 
  • Stukkies afval-hout werk net so goed, dis nie nodig om coasters ten duurste aan te koop nie.
  1. Verf die coasters wit en laat dit droog word.
  2. Verf 'n lagie Gel Medium oor die wit verf en plak die prentjie met die ink na onder vas.
  3. Vryf al die lugborrels uit en laat dit droog word.
  4. Wees geduldig vir hierdie stap. Maak die papier nat met 'n sponsie en vryf dit saggies sodat die papier afkom in sulke dun, opgerolde stukkies. Moenie te hard vryf nie, anders gaan die ink saam met die papier afvryf.
  5. Opsioneel: verf 'n lagie vernis oor sodat dit 'n blink afwerking het.






Donderdag 02 Junie 2016

Juffrou Sannah se Tackle

Amanuensis: As ‘n kind te stadig skryf of sukkel om te lees tydens die skryf van ‘n eksamenvraestel, dan kan die betrokke ouers aansoek doen vir amanuensis; dit is ekstra tyd of iemand wat as ‘n skribeerder optree om die kind te help


Die tye wat ‘n mens die lekkerste lag, is gewoonlik die tye wat ‘n mens juis nie moet lag nie...

In die eksamentyd is orde van kardinale belang. Daar moet stilte wees, skryfsessies moet met presiesheid hanteer word en die betrokke leerlinge moet met ‘n ysterhand regeer word. Vir hierdie rol is meneer Danie perfek – met sy militaristiese presiesheid en sy regop en fier houding, is daar bittermin tye wat die eksamenregulasies nie tot op die jota gevolg word nie.

Ongelukkig is militaristiese presiesheid nou nie juis ‘n karaktertrek wat baie van die skoner geslag deel nie. Gewoonlik wanneer dit by Eva kom, reguleer emosies gedrag en nie die eksamenregulasies nie. Juffrou Marlese is geen uitsondering nie. Sy het die rare talent om altyd die positief en die humor in enige gegewe situasie te sien. Om pakkies van tien vraestelle elk liniêr op ‘n tafel uit te pak met ‘n centimeter spasie tussen elk, is nou nie juis iets wat sy as belangrik ag nie.

Juis daarom is dit ideaal om tydens die skryf van ‘n eksamen twee mense soos meneer Danie en juffrou Marlese saam te laat toesig hou, een om te sorg vir die eksamenregulasies en een om te sorg vir die kinders... En wanneer jy gelukkig is genoeg is om so ‘n formidebale kombinasie te hê, dan is die kanse vir ‘n onvergeetlike oomblik baie goed... Veral as jy ‘n oujongnooi uit Zambië by die sommetjie voeg...

Een wintersoggend hou meneer Danie en juffrou Marlese saam toesig in ‘n eksamenlokaal vol graad sesse en sewes. Om die byt in die lug af te weer, staan meneer Danie in die lokaal se deur met sy rug in die son en bak terwyl hy die skrywende leerlinge met ‘n valkoog dophou. In hierdie spesifieke groep kinders, is daar ‘n seun wat amanuensis moet kry. Net so voordat die tyd verstreke raak, besluit juffrou Sannah, wat in die klas langsaan is, sy wil net kom kyk of hierdie kind sy vraestel klaargekry het en of hy nog ekstra tyd moet kry.

So stap sy doelgerig, n vrou op ‘n missie van omgee en besorgdheid, om na die kind se welstand te gaan omsien. Reg voordat sy by die klas instap, haak haar voet aan ‘n trappie vas en die volgende paar oomblikke het gevoel soos jare wat verbygaan.

Met haar grys krulhaartjies en bloes wapperend in die wind, besef juffrou Sannah meteens dat die vloer stadig maar seker, eintlik teen ‘n baie vinnige pas nader kom. Meneer Danie sê dat hy het dit sien kom, maar almal weet hy het nie... So gryp die oujongnooi vir meneer Danie van agteraf in ‘n ystergreep om die heupe. Met juffrou Marlese wat die petalje van binne aanskou stormloop die twee mense die klas binne met juffrou Sannah aan die stuur. Party sou sê dat hulle het gelyk soos ‘n stoomtrein sonder brieke. Ander sou sê dat juffrou Sannah ‘n tackle aan haar het wat vir Bryan Habana sal laat skaam kry. Meneer Danie sê dat hy al gesien het hoe gryp hy vir juffrou Marlese op dieselfde wyse wat juffrou Sannah hom gegryp het en hoe hulle al drie op ‘n bondel voor in die klas op die vloer beland. Gelukkig is hy nie ‘n man wat sommer deur ‘n oujongnooi platgetrek kan word nie...

Voordat juffrou Sannah die stilte verbreek, skuif sy eers, heel verleë, haar brilletjie reg met ‘n bleek meneer Danie en giggelende juffrou Marlese wat mekaar grootoog staan en aanskou.

“Skuus Meneer, hoe moer ek nou in die klas in.”

En toe is dit verby. Juffrou Marlese kon dit net nie meer beheer nie. Die lagbui wat haar oorval het, was heel moontlik een wat stories oor donderweer en reuse in Dwergieland sou inspireer. Teen hierdie tyd het die kinders hul belangstelling in die vraestel laaaannnnnkkkaaaaallll verloor. Almal wil net weet of juffrou Marlese orraait is. Om orde te herstel, vra meneer Danie haar om asseblief die lokaal te verlaat totdat sy haarself onder beheer het.

Sy het om die hoek gaan staan om haarself reg te ruk, maar die hele skoolterrein kon haar in elk geval hoor. Net as sy dink sy het alles onder beheer, vang sy ‘n glimps van meneer Danie se agterkop en dan is die hele proses maar net weer van vooraf terwyl die man geduldig staan en wag dat die storm oorwaai.

Eventueel daal ‘n rustigheid oor juffrou Marlese en sy kry die moed om weer terug te gaan in die klas in. Heel besorgd vra meneer Danie haar of sy orraait is. ‘n Beheersde, “Ja”, was al wat meneer Danie nodig gehad het...

“Reg so, Juffrou, kan ek asseblief nou my beurt kry om die klas te verlaat?”

En ‘n statige man staan en proes om die hoek.

Tot volgende keer...