Sondag 27 November 2016

Yskasmagneet

 Benodighede:

  • Stukkie afvalhout
  • Tou
  • Lint
  • Magneet
  • Knope
  • Gom
  • Skêr





























Metode:

  1. Smeer die houtblokkie met gom en plak die lint eerste 
  2. Smeer die res van die hout met gom
  3. Plak die tou op die gesmeerde houtblokkie, sodat dit lyk asof dit net op die blokkie lê (in die patroon van jou keuse). Werk vanaf buite na binne
  4. Plak die knopies op die lint
  5. Plak 'n magneet agterop
Hierdie is 'n eenvoudige projek wat 'n mooi geskenk sal maak. Die tou-metode kan baie tyd vat, maar met bietjie kreatiwiteit is die moontlikhede oneindig!









Sondag 20 November 2016

Port Alfred se Strand


Begrawe my hart
op Port Alfred se strand
Waar die surfers se skouers
in die Kaapse son brand
en 'n meeu sweef
op 'n warm lugstroom
en die slanke bikini-lywe
die manne laat droom
Begrawe my hart
op Port Alfred se strand


Strooi my asoor die golflyn daar
as die laatmiddagson
die golwe bedaar
en die boepens omies
staan stokke in die hand
met die visvang-aas
in boksies in die sand
Strooi my as
oor die golflyn daar

Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse
waar die branders wit
ritmies klots
en klein seuntjies met nette
die vissies vang en
klein dogtertjies neus op trek
want die slakkies maak hul bang
Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse...

Maandag 14 November 2016

Reënboogrykdom

'n ligte sonstraal breek
deur spookasemwolke sag
en baai heuwels groen
in 'n goue prag
en verdryf die duisternis
wat die wêreld verniel
en gee aan Moeder Natuur
haar eie siel.

Sagte doudruppels bad
grashalms fyn
en streel liefderik
veldgesiggies klein.
'n Paar note uit 'n sirinks wat tril
verbreek die doodsheid
van die omgewing stil
en word beantwoord deur 'n kriek wat spring
en plek-plek stop om pragtig, vals te sing.

Aan die einde van die spektrum:
'n pot goud sonder finansiële waarde -
Die rykdom lê eintlik in
die skoonheid van ons aarde!

Maandag 07 November 2016

Stille afwagting...

Maanlig-getuie
en wind-waai blaartjies
dansend oor stil-straat

in liggloed gebaai

Laat-aand huiwering
wankel-woord praatjies
laggend vrede-stil

snelweg-ver lawaai...

Maandag 31 Oktober 2016

Terug koshuis toe


Kilometers snel verby
Maar my hart het agtergebly
Daar waar die son oor die berge vir my loer
Daar waar die beeste
in die goud-gras boer
Daar waar die hane vroegdag kraai
Daar waar my hartsmense staan en totsiens waai

Jou huis is waar jou hart is...

Sondag 23 Oktober 2016

Juffrou Martha is getrou

Hierdie is nou nie 'n oorspronklike staaltjie nie, maar so 'n kosbare storie dat ek net moes deel: Ek weet nie wie die oorspronklike karakters is nie, maar indien ek op tone trap bied ek maar byvoorbaat verskoning aan asook die waarborg om hierdie plasing te verwyder...

'n Klompie dekades terug was intercoms die nuutste tegnologiese trend wat by skole posgevat het. Die een skool na die ander het kommunikasiekanale oopgemaak direk vanaf die klas na die kantoor en andersom. Die oggend tydens die personeelvergadering kondig mnr. Vos aan dat hy gedurende die dag via die nuut geïnstalleerde intercoms met elke onderwyser gaan praat om te toets dat al die intercoms in albei rigtings werk.

Die dag het sy normale gang gegaan, Juffrou Martha het haar klasse aangebied soos gewoonlik. Wat wel bietjie anders was as gewoonlik, is dat Juffrou Martha 'n student gehad het wat by haar gekuier het. Juffrou Paulina het Juffrou Martha, wat naby aftree-ouderdom was, se kennis en ervaring ingesuig soos 'n spons en Juffrou Martha was gretig om die jong studente-juffroutjie tot die beste van haar vermoë voor te berei vir die onderwys.

Die middag laat sit die twee dames in die klas en gesels oor Wiskunde, dissipline en die onderwys in die algemeen. Skielik onderbreek 'n diep mansstem die ouer dame. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha bly stil en draai haar kop effens skuins om te luister. Die hoendervleis slaan uit op haar arms. Grootoog Juffrou Paulina wag in spanning dat Juffrou Martha moet antwoord, maar na 'n paar oomblikke van stilte maak Juffrou Martha net haar sin klaar. Juffrou Paulina gaan maar, uit ordentlikheid, aan met die geprek en sê niks oor die vreemde onderbreking nie.

'n Paar minute gaan verby. Juffrou Martha het net begin om dissipline vir Juffrou Paulina te verduidelik, toe die diep mansstem haar weer in die rede val. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha se oë rek, sy draai haar kop skuins om te luister, maar sy sê niks nie. Juffrou Paulina sê ook maar niks nie. Die gesprek oor dissipline gaan aan, maar nie met dieselfde vlotheid as vroeër nie. Skielik kom die stem weer, hierdie keer bietjie meer ongeduldig.

"Juffrou. Martha. Kan. Jy. My. Hoor??"

Die volgende oomblik vlieg 'n statige ou dame uit haar stoel uit dat die stoel sommer so oor die vloer skiet. Langs haar tafel val sy op haar knieë neer, hande in die lug, trane wat oor die ou verrimpelde gesiggie loop.

"Hier's ek, Here, U getroue dienaar luister, praat met my!"

Daar heers 'n paar oomblikke van stilte. Juffrou Paulina staan op en stap na die intercom toe. Sy druk die rooi knoppie. "Dis Juffrou Paulina hier, ons kan Meneer hoor."

"Reg so Juffrou, geniet julle middag verder."

Blykbaar het Juffrou Paulina die verwarde Juffrou Martha eers van die vloer af opgehelp en gewag totdat hulle mekaar gegroet het voordat sy uitgebars het van die lag. Wie sal nou weet wat het werklik gebeur buiten vir die twee dames wat daar was daardie dag? Was ek maar 'n vlieg teen die muur!

Tot volgende keer...


Maandag 17 Oktober 2016

Vir Ma: Volstruis!

Daar's geen beter medisyne
as mamma-liefde nie
en geen lekkerder kos
as mamma-kos nie
geen beter beskerm
as mamma-gebede
geen groter ontferming
as 'n mamma-hart nie

Ek onthou nog al die lessies
wat mamma my geleer het
'n stoof se plaat is warm
en 'n spinnekop van die bose
Wysheid kom eers nadat
ervaring gebeur het
en koki's teen die mure het 'n pantoffel tot gevolg...


Volstruis, volstruis!
as sy skree
sy sien vir Christian Gray
Volstruis, Volstruis!
as sy my trouman uitwys
my ma is anders;
enig in haar soort
sy's stout en prim en proper
ek kan haar nie verwoord
sy's my gunsteling fight
maar dit is hoe dit hoort
sy's my vertroueling
my beste vriendin
my ma.


Met 'n hart van goud
en silwer op die wortels
en gewoontes van ouma
wat myne word ook
met die beste staaltjies
kombuis-verhaaltjies -
Mocktails is net so goed soos cocktails
as die waiter kook...


Ons kan dalk hard baklei
maar ons kan ook lekker kuier
ek het soveel om te leer
maar ek sal dit nooit erken
nou maak ek ma se wysheid
skelmpies my eie -
Edelseuns is oulik,
maar ydelseuns vry die lekkerste.
Edelseuns is oulik, maar ydelseuns....

Volstruis, volstruis!
as sy skree
sy sien vir Christian Gray
Volstruis, Volstruis!
as sy my trouman uitwys
my ma is anders;
enig in haar soort
sy's stout en prim en proper
ek kan haar nie verwoord
sy's my gunsteling fight
maar dit is hoe dit hoort
sy's my vertroueling
my beste vriendin 
my ma.

Sy's my vertroueling
My beste vriendin 
My ma.

Wurg hom Durkie, wurg hom!