Maandag 16 Mei 2016

DIY Kombuisvensterblikkie

Hierdie is 'n vinnige en maklike projek wat ideaal is vir 'n moedersdaggeskenk of sommer om die kinders vir 'n rukkie lank besig te hou.

Tyd: kort - omtrent 10min
Moeilikheidsgraad: maklik

Benodighede

  • Leë tunablikkie
  • witlym
  • 23 wasgoedpennetjies
  • 'n afval stukkie lap
  • 'n stukkie kant
  • fokuspunt bv. 'n knopie of 'n blommetjie

Metode

  1. Plak die afval stukkie lap om die rand van die blikkie
  2. Steek die wasgoedpennetjies bo-oor die lap en blikkie reg in die rondte vas
  3. Plak die stukkie kant aan die onderkant van die wasgoedpennetjies vas
  4. Rond af met 'n mooi fokuspunt






Vrydag 13 Mei 2016

Pers Pasta

... Wyn maak alles lekkerder...

Vir 4-6 mense

Bestandele

  • 400g droë pasta
  • 500g maalvleis
  • 250g gekapte sampioene
  • 1 koppie rooiwyn
  • 1 teelepel roosmaryn
  • sout en peper na smaak

Metode

  1. Maak pasta soos gewoonlik...
  2. Braai die maalvleis tot gaar in bietjie olie met sout en peper na smaak.
  3. Skep die maalvleis uit en braai die sampioene tot gaar.
  4. Voeg die maalvleis weer terug by die sampioene.
  5. Gooi die rooiwyn en roosmaryn by. Meer rooiwyn en roosmaryn maak die vleis ryker en vice versa.
  6. Laat die wyn toe om weg te kook.

Variasies

  • Vervang die maalvleis met steak. Maak dan slegs 'n sous van die sampioene en rooiwyn. Moenie toelaat dat al die sous wegkook nie. Gooi bo-oor die steak.
  • Gebruik blokkies/repies vleis.



Maandag 09 Mei 2016

Jy is die see...

Dit is soms oorverdowend -
die stilte na ‘n orkaan
ek vrees hierdie donker stiltes 
want ek weet waar my gedagtes heen gaan.

Vanaand skree jou fluisterstem weer
en ek hunker na jou rus
al poog ek om jou beeld weg te knip
bly ek van jou hele menswees bewus.

In stilte sal ek jou bewonder
dit is ‘n uitgemaakte saak.
Maar jy sien,  jy is die see.
En ek...
ek is die wind
wat jou golwe onstuimig gaan maak.

...Die wêreld het my verniel
En soms wil ek net,
soos ‘n wannabe Ingrid Jonker,
verdrink
in die dieptes van jou siel...

soms wil ek hê dat jy in my oë sien
hoe ek vir jou goedkeuring smeek
maar ek weet jy verdien beter;
want jy, jy is die see
en ek...
ek is ‘n liefdes-leek.

Dit is een van my storms:
Jou hele bestaan.
Was ek die see...
was jy my maan.


Saterdag 07 Mei 2016

Geel Gevaarte

Ek is ʼn eerstejaar. Alles wat die PUK betref was tot dusver nog net wonderlik! So word dit toe Lente en ek besef met ʼn skok dat ek elke faset van student wees al uitgetoets het, maar die liefdeskraantjie was die hele jaar bottoe en dit is onaanvaarbaar.

Ek is ʼn ordentlike meisie, so ek besluit toe om vir my ʼn kêrel by die kerk te gaan soek. (Die eerste slagoffer het sy verskyning baie vinniger gemaak as wat ek verwag het). Meneer Derdejaar Onderwyser het my nogal beïndruk met sy sjarme en algemene kennis en die eerste koffie-kuier is sommer vinnig-vinnig gereël.

ʼn Uur voordat die afspraak nou moes gebeur, laat weet die man my mos dat ek word vriendelik versoek om kaalvoet en sonder grimering te kom. En ek moet pienk aantrek. Ek besit nie eers pienk klere nie! En niemand sien my sonder grimering nie! Vinnig verander ek toe die plan: Hy hoef my nie te kom haal nie. Ek sal self, met my getroue Geel Gevaarte (bromponie), na hom toe ry (net vir ingeval ek dalk uitkomkans nodig het).

Die tyd het aangebreek en so ry ek na Meneer Derdejaar Onderwyser toe. (Gedress en gepress in swart van kop tot tone). Op pad soontoe ry ek deur ʼn slaggat, maar dis nie te ernstig nie. Voor sy hek sluit ek die Geel Gevaarte af en stuur via my swartbessie ʼn boodskap om my teenwoordigheid aan te kondig. Met die hek oop, draai ek die sleutel... en daar laat my bromponie my lelik in die steek.

As jy nou gedink het dat die Geel Gevaarte nie wou aansluit nie, was jy verkeerd. Ek wens nou nog hy’t net gevrek...

So skiet ʼn geel streep, met ʼn gillende eerstejaar op, die erf binne. Ja, my bromponie het vir ʼn oomblik gedink hy is ʼn resiesperd. Trek ek my remme, toe besluit die klein twak hy’s nou ʼn ysskaatser en swaai sy boude heen en weer soos wat ons (nogsteeds regop) oor die stof en droë gras gly, reguit op die wit heininkie voor die skuifdeur af. Dis toe nou waar ek die moeilikheid sien kom en, uiters grasieus, my Geel Gevaarte in sy oomblik van waansin verlaat om bollemakiesies in die tuin in te maak. In my geestesoog het ek ʼn pug in ʼn tulpe-veld sien hardloop toe die wit plankies deur die lug vlieg, alles in stadige aksie (soos in The Matrix) met sulke cheezy jazz musiek wat in die agtergrond speel.

Daar het relatiewe stilte geheers terwyl my bromponie grondengele, al in die rondte, voor Meneer Derdejaar Onderwyser se deur gemaak het. Net die gebrul van die enjin kom ʼn myl ver gehoor word. Nie eers ʼn enkele voëltjie het met die Geel Gevaarte probeer geraas-kompetisie hou nie.

Bleek van die skrik en met ʼn polsende hart wat uit my borskas wil klim, staan ek op en begin die gras uit my hare haal. Meneer Derdejaar Onderwyser kon dit net nie meer hou nie en bars toe uit van die lag. Die skaamte het van agter my ore tot maklik in my kleintoontjie gekruip, want alles het gegloei. Daar glo die man my nie toe ek sê die bromponie het vanself gery nie! Om die laaste bietjie van my trots te probeer red, sê ek vir hom hy moet die ding optel en die sleutel draai.

Al laggend tel hy die Geel Gevaarte op en draai die sleutel terwyl hy langs hom staan... En daar trek die resiesperd volspoed in Meneer Derdejaar Onderwyser se sitkamer in, met die arme man al slepend agterna. Gelukkig was briekmerke op die teëlvloer (en moontlik in die man se onderbroek ook) al wat hierdie keer agtergebly het.

Ek weet nie baie van bromponies af nie. Al wat ek weet is dat daar so klein moertjie onder die versneller is wat die luierspoed beheer... En die ding het heel moontlik losgekom toe ek deur die slaggat gery het. Nadat ons ons maagspiere suf gelag het, was die res van die aand maar rustig. Of hy my weer na sy huis toe gaan nooi, dit weet ek nou nie. Wat ek wel weet is dat, maak nie saak wie Mr Right gaan wees nie, hierdie storie gaan ek nog eendag vir my kleinkinders vertel.


Tot volgende keer...

Woensdag 04 Mei 2016

Spinasie pizza

Want party groentes het so bietjie ekstra hulp nodig om eetbaar te wees...
4-6 mense

Bestandele:

  • 2 koppies bruismeel
  • 1 koppie plain yoghurt
  • bondel gesnipperde spinasie
  • 250g gekapte sampioene
  • 5-10 kersie tamaties
  • sout na smaak
  • 2 knippies sweet basil
  • 1 ring feta
  • omtrent 15ml olie om in te braai
  • tamatiesous
Metode:
  1. Voorverhit die oond tot op 180 grade Celsius.
  2. Meng die bruismeel en yoghurt totdat dit 'n sagte deeg vorm.
    1. Meel op die hande sal voorkom dat die deeg aan jou hande vassit.
    2. As daar nog meel oor is in die bak, voeg nog so bietjie yoghurt by.
    3. as dit loperig is, voeg nog so bietjie meel by.
  3. Rol die deeg uit in 'n gesmeerde pan.
  4. Smeer 'n dun lagie tamatiesous oor die deeg en sit eenkant.

  1. Verhit die olie in 'n braaipan.
  2. Braai die sampioene totdat dit begin verkleur.
  3. Voeg die spinasie by en braai totdat dit gaar is.
  4. Gooi sout en sweet basil by.
  5. Voeg kersie tamaties by.
  6. Hou die pan net lank genoeg op die stoof sodat die tamaties warm word.
  7. Skep die mengsel bo-op die deeg.
  8. Bak in die oond vir so 30min of totdat die deeg gaar is.
  9. Sprinkel feta bo-oor.
Variasies:
  • Voeg gaar eiergeel by.
  • Sit die spinasiemengsel in 'n omelet.
  • Voeg gerasperde cheddar en mozzarella kaas by in plaas van feta.





Sondag 01 Mei 2016

Glimlag, Vrou!



Vrou,

vesteek jou flenterhart

en glimlag vir jou geliefdes - 
die los legkaartstukkies van 
jou gebrokenheid
kan ander voltooi
weer af die vuurpyle
wat die wêreld vir jou gooi

Kyk verby die maskers
wat ander se rouheid bedek - 
genees dit met `n moederlike aanraking
en vertroostende woord
op die regte tyd
en regte plek

Wandel in geloof,
nederig
pantser met liefde!
verdedig met jou hart -
vergeet altyddeur 
van jou eie smart

Glimlag, Vrou!
Wees sterk en vol moed...