Ek is ʼn
eerstejaar. Alles wat die PUK betref was tot dusver nog net wonderlik! So word
dit toe Lente en ek besef met ʼn skok dat ek elke faset van student wees al
uitgetoets het, maar die liefdeskraantjie was die hele jaar bottoe en dit is onaanvaarbaar.
Ek is ʼn ordentlike meisie, so ek besluit toe om vir my ʼn kêrel by die kerk te
gaan soek. (Die eerste slagoffer het sy verskyning baie vinniger gemaak as wat
ek verwag het). Meneer Derdejaar Onderwyser het my nogal beïndruk met sy sjarme
en algemene kennis en die eerste koffie-kuier is sommer vinnig-vinnig gereël.
ʼn Uur voordat die afspraak nou moes gebeur, laat weet die man my mos dat ek
word vriendelik versoek om kaalvoet en sonder grimering te kom. En ek moet
pienk aantrek. Ek besit nie eers pienk klere nie! En niemand sien my sonder
grimering nie! Vinnig verander ek toe die plan: Hy hoef my nie te kom haal nie.
Ek sal self, met my getroue Geel Gevaarte (bromponie), na hom toe ry (net vir
ingeval ek dalk uitkomkans nodig het).
Die tyd het aangebreek en so ry ek na Meneer Derdejaar Onderwyser toe. (Gedress
en gepress in swart van kop tot tone). Op pad soontoe ry ek deur ʼn slaggat,
maar dis nie te ernstig nie. Voor sy hek sluit ek die Geel Gevaarte af en stuur
via my swartbessie ʼn boodskap om my teenwoordigheid aan te kondig. Met die hek
oop, draai ek die sleutel... en daar laat my bromponie my lelik in die steek.
As jy nou gedink het dat die Geel Gevaarte nie wou aansluit nie, was jy
verkeerd. Ek wens nou nog hy’t net gevrek...
So skiet ʼn geel streep, met ʼn gillende eerstejaar op, die erf binne. Ja, my
bromponie het vir ʼn oomblik gedink hy is ʼn resiesperd. Trek ek my remme, toe
besluit die klein twak hy’s nou ʼn ysskaatser en swaai sy boude heen en weer
soos wat ons (nogsteeds regop) oor die stof en droë gras gly, reguit op die wit
heininkie voor die skuifdeur af. Dis toe nou waar ek die moeilikheid sien kom
en, uiters grasieus, my Geel Gevaarte in sy oomblik van waansin verlaat om
bollemakiesies in die tuin in te maak. In my geestesoog het ek ʼn pug in ʼn
tulpe-veld sien hardloop toe die wit plankies deur die lug vlieg, alles in
stadige aksie (soos in The Matrix) met sulke cheezy jazz musiek wat in die
agtergrond speel.
Daar het relatiewe stilte geheers terwyl my bromponie grondengele, al in die
rondte, voor Meneer Derdejaar Onderwyser se deur gemaak het. Net die gebrul van
die enjin kom ʼn myl ver gehoor word. Nie eers ʼn enkele voëltjie het met die
Geel Gevaarte probeer geraas-kompetisie hou nie.
Bleek van die skrik en met ʼn polsende hart wat uit my borskas wil klim, staan
ek op en begin die gras uit my hare haal. Meneer Derdejaar Onderwyser kon dit
net nie meer hou nie en bars toe uit van die lag. Die skaamte het van agter my
ore tot maklik in my kleintoontjie gekruip, want alles het gegloei. Daar glo
die man my nie toe ek sê die bromponie het vanself gery nie! Om die laaste
bietjie van my trots te probeer red, sê ek vir hom hy moet die ding optel en
die sleutel draai.
Al laggend tel hy die Geel Gevaarte op en draai die sleutel terwyl hy langs hom
staan... En daar trek die resiesperd volspoed in Meneer Derdejaar Onderwyser se
sitkamer in, met die arme man al slepend agterna. Gelukkig was briekmerke op
die teëlvloer (en moontlik in die man se onderbroek ook) al wat hierdie keer
agtergebly het.
Ek weet nie baie van bromponies af nie. Al wat ek weet is dat daar so klein
moertjie onder die versneller is wat die luierspoed beheer... En die ding het
heel moontlik losgekom toe ek deur die slaggat gery het. Nadat ons ons
maagspiere suf gelag het, was die res van die aand maar rustig. Of hy my weer
na sy huis toe gaan nooi, dit weet ek nou nie. Wat ek wel weet is dat, maak nie
saak wie Mr Right gaan wees nie, hierdie storie gaan ek nog eendag vir my
kleinkinders vertel.
Tot volgende keer...