Saterdag 31 Desember 2016

Die uurglas loop leeg

Tyd is...
Tydloos.
Elke einde is
die einde van
'n nuwe begin
en elke begin
die begin
van 'n nuwe einde

Soos die sandkorreltjies
van onthou
een-een val
en die uurglas
stadig, maar seker,
sy einde bereik
Versamel ons ervaring
wysheid, volwassenheid
rykdom...
vir more
Droom ons oor more
Werk ons vir more
Leef ons vir more

Maar tyd is...
Tydloos
want gister se more
is more se gister
Elke sandkorreltjie moet val
voordat die uurglas kan draai
want vandag se ervaring,
wysheid en volwassenheid
is nodig vir
more se ervaring
wysheid en volwassenheid-
Die uurglas moet leeg wees
voor hy volheid kan bereik
so

die uurglas loop leeg -
want vandag is die einde
van 'n nuwe begin
Die uurglas is vol -
want more is die begin
van 'n nuwe einde.

Maandag 19 Desember 2016

Silent scream

Innocence.
The curse of this child unborn.
It, who have not yet sinned,
trapped inside the womb
of the enemy sworn.

Too fragile to defend
against the cold tools
in a murderous hand
that takes away the warm flame
of life so pure by
torturing it to the end?

nowhere to run
nowhere to hide
as it opens its mouth
for the last silent scream
the heartless act takes its course.
DONE!
the flame has
died.

Dinsdag 06 Desember 2016

Aangeleerde spieëlbeeld-keuses

Plekke, gebeurtenisse en geleenthede; party fyn beplan en ander suiwer geluk –
Een en twintig jaar demokraties gegroei uit Afrikaner wortels, (stelselmatig onderdruk)
Raakvat ouers se gene, liefde en dissipline
Skoolgaan, kerk toe gaan, sosiale roetine
Ek sien die honger na kennis in my oë en die emosie-lyntjies van my gesig
Pragtig, dit is wat ek is!
Siele met lewenslesse kom en gaan, maar net ʼn klein handjievol bly my hartsmense
Ideale, drome, seerkry en wense.
Ek sien die wêreld soos wat ek is.



Sondag 27 November 2016

Yskasmagneet

 Benodighede:

  • Stukkie afvalhout
  • Tou
  • Lint
  • Magneet
  • Knope
  • Gom
  • Skêr





























Metode:

  1. Smeer die houtblokkie met gom en plak die lint eerste 
  2. Smeer die res van die hout met gom
  3. Plak die tou op die gesmeerde houtblokkie, sodat dit lyk asof dit net op die blokkie lê (in die patroon van jou keuse). Werk vanaf buite na binne
  4. Plak die knopies op die lint
  5. Plak 'n magneet agterop
Hierdie is 'n eenvoudige projek wat 'n mooi geskenk sal maak. Die tou-metode kan baie tyd vat, maar met bietjie kreatiwiteit is die moontlikhede oneindig!









Sondag 20 November 2016

Port Alfred se Strand


Begrawe my hart
op Port Alfred se strand
Waar die surfers se skouers
in die Kaapse son brand
en 'n meeu sweef
op 'n warm lugstroom
en die slanke bikini-lywe
die manne laat droom
Begrawe my hart
op Port Alfred se strand


Strooi my asoor die golflyn daar
as die laatmiddagson
die golwe bedaar
en die boepens omies
staan stokke in die hand
met die visvang-aas
in boksies in die sand
Strooi my as
oor die golflyn daar

Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse
waar die branders wit
ritmies klots
en klein seuntjies met nette
die vissies vang en
klein dogtertjies neus op trek
want die slakkies maak hul bang
Skryf my naam
op 'n skulpie by die rotse...

Maandag 14 November 2016

Reënboogrykdom

'n ligte sonstraal breek
deur spookasemwolke sag
en baai heuwels groen
in 'n goue prag
en verdryf die duisternis
wat die wêreld verniel
en gee aan Moeder Natuur
haar eie siel.

Sagte doudruppels bad
grashalms fyn
en streel liefderik
veldgesiggies klein.
'n Paar note uit 'n sirinks wat tril
verbreek die doodsheid
van die omgewing stil
en word beantwoord deur 'n kriek wat spring
en plek-plek stop om pragtig, vals te sing.

Aan die einde van die spektrum:
'n pot goud sonder finansiële waarde -
Die rykdom lê eintlik in
die skoonheid van ons aarde!

Maandag 07 November 2016

Stille afwagting...

Maanlig-getuie
en wind-waai blaartjies
dansend oor stil-straat

in liggloed gebaai

Laat-aand huiwering
wankel-woord praatjies
laggend vrede-stil

snelweg-ver lawaai...

Maandag 31 Oktober 2016

Terug koshuis toe


Kilometers snel verby
Maar my hart het agtergebly
Daar waar die son oor die berge vir my loer
Daar waar die beeste
in die goud-gras boer
Daar waar die hane vroegdag kraai
Daar waar my hartsmense staan en totsiens waai

Jou huis is waar jou hart is...

Sondag 23 Oktober 2016

Juffrou Martha is getrou

Hierdie is nou nie 'n oorspronklike staaltjie nie, maar so 'n kosbare storie dat ek net moes deel: Ek weet nie wie die oorspronklike karakters is nie, maar indien ek op tone trap bied ek maar byvoorbaat verskoning aan asook die waarborg om hierdie plasing te verwyder...

'n Klompie dekades terug was intercoms die nuutste tegnologiese trend wat by skole posgevat het. Die een skool na die ander het kommunikasiekanale oopgemaak direk vanaf die klas na die kantoor en andersom. Die oggend tydens die personeelvergadering kondig mnr. Vos aan dat hy gedurende die dag via die nuut geïnstalleerde intercoms met elke onderwyser gaan praat om te toets dat al die intercoms in albei rigtings werk.

Die dag het sy normale gang gegaan, Juffrou Martha het haar klasse aangebied soos gewoonlik. Wat wel bietjie anders was as gewoonlik, is dat Juffrou Martha 'n student gehad het wat by haar gekuier het. Juffrou Paulina het Juffrou Martha, wat naby aftree-ouderdom was, se kennis en ervaring ingesuig soos 'n spons en Juffrou Martha was gretig om die jong studente-juffroutjie tot die beste van haar vermoë voor te berei vir die onderwys.

Die middag laat sit die twee dames in die klas en gesels oor Wiskunde, dissipline en die onderwys in die algemeen. Skielik onderbreek 'n diep mansstem die ouer dame. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha bly stil en draai haar kop effens skuins om te luister. Die hoendervleis slaan uit op haar arms. Grootoog Juffrou Paulina wag in spanning dat Juffrou Martha moet antwoord, maar na 'n paar oomblikke van stilte maak Juffrou Martha net haar sin klaar. Juffrou Paulina gaan maar, uit ordentlikheid, aan met die geprek en sê niks oor die vreemde onderbreking nie.

'n Paar minute gaan verby. Juffrou Martha het net begin om dissipline vir Juffrou Paulina te verduidelik, toe die diep mansstem haar weer in die rede val. "Juffrou Martha, kan jy my hoor?" Juffrou Martha se oë rek, sy draai haar kop skuins om te luister, maar sy sê niks nie. Juffrou Paulina sê ook maar niks nie. Die gesprek oor dissipline gaan aan, maar nie met dieselfde vlotheid as vroeër nie. Skielik kom die stem weer, hierdie keer bietjie meer ongeduldig.

"Juffrou. Martha. Kan. Jy. My. Hoor??"

Die volgende oomblik vlieg 'n statige ou dame uit haar stoel uit dat die stoel sommer so oor die vloer skiet. Langs haar tafel val sy op haar knieë neer, hande in die lug, trane wat oor die ou verrimpelde gesiggie loop.

"Hier's ek, Here, U getroue dienaar luister, praat met my!"

Daar heers 'n paar oomblikke van stilte. Juffrou Paulina staan op en stap na die intercom toe. Sy druk die rooi knoppie. "Dis Juffrou Paulina hier, ons kan Meneer hoor."

"Reg so Juffrou, geniet julle middag verder."

Blykbaar het Juffrou Paulina die verwarde Juffrou Martha eers van die vloer af opgehelp en gewag totdat hulle mekaar gegroet het voordat sy uitgebars het van die lag. Wie sal nou weet wat het werklik gebeur buiten vir die twee dames wat daar was daardie dag? Was ek maar 'n vlieg teen die muur!

Tot volgende keer...


Maandag 17 Oktober 2016

Vir Ma: Volstruis!

Daar's geen beter medisyne
as mamma-liefde nie
en geen lekkerder kos
as mamma-kos nie
geen beter beskerm
as mamma-gebede
geen groter ontferming
as 'n mamma-hart nie

Ek onthou nog al die lessies
wat mamma my geleer het
'n stoof se plaat is warm
en 'n spinnekop van die bose
Wysheid kom eers nadat
ervaring gebeur het
en koki's teen die mure het 'n pantoffel tot gevolg...


Volstruis, volstruis!
as sy skree
sy sien vir Christian Gray
Volstruis, Volstruis!
as sy my trouman uitwys
my ma is anders;
enig in haar soort
sy's stout en prim en proper
ek kan haar nie verwoord
sy's my gunsteling fight
maar dit is hoe dit hoort
sy's my vertroueling
my beste vriendin
my ma.


Met 'n hart van goud
en silwer op die wortels
en gewoontes van ouma
wat myne word ook
met die beste staaltjies
kombuis-verhaaltjies -
Mocktails is net so goed soos cocktails
as die waiter kook...


Ons kan dalk hard baklei
maar ons kan ook lekker kuier
ek het soveel om te leer
maar ek sal dit nooit erken
nou maak ek ma se wysheid
skelmpies my eie -
Edelseuns is oulik,
maar ydelseuns vry die lekkerste.
Edelseuns is oulik, maar ydelseuns....

Volstruis, volstruis!
as sy skree
sy sien vir Christian Gray
Volstruis, Volstruis!
as sy my trouman uitwys
my ma is anders;
enig in haar soort
sy's stout en prim en proper
ek kan haar nie verwoord
sy's my gunsteling fight
maar dit is hoe dit hoort
sy's my vertroueling
my beste vriendin 
my ma.

Sy's my vertroueling
My beste vriendin 
My ma.

Wurg hom Durkie, wurg hom!

Maandag 10 Oktober 2016

Inkhukhu koop is not for sussies

Dit gebeur baie dat mense soms bymekaar verby leef, al woon die betrokke partye onder dieselfde dak. Jou beroep en omstandighede bepaal die tipe ervarings wat jy, na ‘n rukkie, as normaal beskou. Tog kan dit wat vir jou normaal is, iets heeltemal buitengewoon wees vir selfs die mense wat die naaste aan jou is.

Vandag se storie begin op die oggend van die laaste dag van die skoolkwartaal en vir die eerste keer in 'n lang tyd is die gesin weer voltallig. Ma, Pa en Sakkelaan is by die skool tot 10h00 toe en die twee sussies slaap die roes af by die huis. Nie een van die selfone is aan nie, so toe die skoolgangers so net voor elf in die huis in stap, is sekere van ons nog in pajamas...

Mamma het probeer om ons te laat weet, maar die boodskap is nooit gelees nie. Pappa moet kringkantoor toe gaan vir papierwerk en dit sal vir hom baie beteken as ons saamgaan. Ek het 'n sê-ding waaraan my hartsmense my ken... As die wiele draai: Ek gat saam!

Binne 5min is die pajamas in die wasgoedmandjie en, vol geselsies en grappies, maak die vyf van ons ons tuis in Catriva, soos wat Ouma die Captiva noem. Nie ek of Kleinsus het ontbyt geëet nie en ter wille van sekere mense sal ek maar net my eie outfit beskryf: 'n groen rugbytrui en yogapants, hare in 'n los bolla en nul grimering. Ons gaan mos net saamry, nie uitklim nie...

Kamhlushwa is 'n redelike entjie vanaf Malelane, in die rigting van die Swazilandgrens. Pappa, in sy hoedanigheid as skoolhoof, ry die pad seker elke tweede dag, so vandag gebruik hy die geleentheid om 'n stukkie van sy wêreld vir ons te wys.

Mamma het so rukkie terug die idee gekry dat sy met Nguni-hoenders wil begin boer sodat sy kan kers-opsteek by die manne. Soos wat ons deur die township ry, skree sy net so elke nou en dan, "Kyk daai hoender!!". Dan ruk ons ons almal ons nekke af want Pappa ry nie teen 'n slakkepas nie. Bygesê, elke keer wat sy gegil het, was dit tog die moeite werd gewees om te kyk. In die middel van die township begin die sports toe "Kyk daai hoender!" vervang word met "STOP!!" Pappa stop. Mamma het 'n hen gesien waarvan sy hou, Pappa moet reverse. Hy sien nie die twee siele links agter Catriva nie en stoot hulle amper uit die pad uit. Ons smile maar net breed en waai vriendelik. Ek en Pappa klim vol bravade uit, ons gaan nou onderhandel!

Dis warm. Ons bekruip die shack amper, daar kleef ‘n vreemde reukie aan die erf. Die dame lyk amper vriendelik totdat sy hoor ons wil hoenders koop. Sy stuur ons dieper in die township in. Pappa stap na die huisie waar daar moontlik hoenders te koop kan wees en ek gaan vir Mamma-hulle haal. Soos ‘n kriek wat voor die ossewa uithardloop, wys ek vir Catriva die pad. Die amper-wit stofpad is meer rybaar as baie teerpaaie waarmee ek al kennis gemaak het.

Ons stop voor die huisie, dis netjies en verbasend skoon. Die omgewing is rustig, so asof tyd nie bestaan nie. Die grootpad klink ook maar ver. Daar is nie baie beweging om ons nie, al wat jy hoor is voëltjies en so hier en daar 'n hoender. Nie een hulle praat Afrikaans of Engels nie, ons moet wag vir iemand wat kan vertaal. Die jong seun bring vir ons plastiese stoele en ons gaan sit. Ons gesels oor die lewe en die kulture en oor Afrika in ons eie taal. Ons gasvrou en haar gesin gesels saggies in hulle taal terwyl hulle rustig hulle pap verder eet. 'n Uitgehongerde brak met Windhondbloed drentel in die straat af. Oorkant die straat speel daar orrelpypies onder die boom. Daar staan 'n mooi spieëlkas op die stoep. Stelselmatig word Afrika-tyd 'n realiteit.

Eventueel kom daar iemand wat ons taal verstaan. die onderhandeling is onsuksesvol, daar was vroeër 'n siekte onder die hoenders en die hennetjies is nie te koop nie. Ons klim terug in die lugverkoelde voertuig, die stilte hang in die kar ook. Catriva se neus draai pad se kant toe. Die mense langs die pad waai, ons waai terug. Mamma druk 'n muntstuk in een van die kleintjies se hande in. Pappa weet darem in watter rigting ons moet ry, want as dit van my afgehang het, het ons nooit daar uitgekom nie. Pappa het net so begin spoed vang, hoor ons net, "STOP! Ek soek daai enetjie!" Pappa rol sy oë en glimlag. Ons giggel. Pappa doen nie moeite om stadiger te ry nie.

 “Lief, dis dieselfde hoender as nou-nou wat nie te koop is nie, ons is net aan die ander kant van die shack.”

Dik van die lag stop ons by die kringkantore. Pappa is seker vir ‘n volle twee minute daar voordat hy uitkom en sy werk is vir eers afgehandel. Oppad terug, besluit Pappa hy wil vir ons Elangeni-Lodge gaan wys op die Jeppes Reef-pad. Dis nou die plek waar al die deftige funksies gehou word waarheen hy so gereeld moet gaan. Ek is eers skrikkerig om uit te klim, my outfit is nou nie juis gepas vir 'n drankie by 'n deftige lodge nie!Ons stap verby ‘n dammetjie met die mooiste wit en pers waterlelies, die bruggie is so bietjie lendelam. Die volgende oomblik gil my ma asof haar lewe daarvan afhang; daar is blykbaar ‘n likkewaan op die brug! Die res van ons is net betyds om ‘n akkedis so groot sy my hand onder die trappie in te sien verdwyn...

By die kroeg, stormloop sy die eetarea binne toe sy ‘n trappie mistrap. Teen hierdie tyd is ons almal se maagspiere al seer gelag. Pappa maak sommer vinnig-vinnig die kroegman bymekaar en bestel ons drankies. Net toe ons rustig raak, gil Mamma, “Kyk daai mooi hoenders!” Dit is werklike mooi hoenders, dit lyk soos die hane wat op kombuisblikke verskyn. Sy vra vir die kroegman of sy ‘n hoender kan koop. Die kroegman antwoord dat hoenders net vroeg in die oggend of laat in die aand bestel kan word. “But I want it alive!” Die kroegman is stilverbaas. Hy sê hy sal gou iemand gaan kry om die hoender te vang, dis R120. Nie te lank nie, toe kom die man met so vaal hennetjie daar aan. Tot ons almal se vermaak, laat die Engelse juffrou se Engels haar in die steek toe sy nie “rooster” kan onthou nie en sy nie vir ‘n man wil sê dat sy soek ‘n “cock” nie. Wat raak sy toe kwyt?

“Oh, no! I want the cock-one!”

Ons wil onsself doodlag. So tussendeur besef ons dat onder die vyf van ons, het ons nie genoeg kontant vir die hoender nie. Pappa onderhandel met die kroegman sodat hy kan swipe vir die hoender saam met die drankies. Eventueel kom die man met my ma se cock-one daar aan. Die strokie lyk heel interessant:

Single Whiskey & Water
Spiced Gold & Sprite
Spiced Gold & Coke
Passionfruit lemonade & Cane
Coke
Inkhukhu
TOTAL

En daar sit ons. Op ‘n nugter maag: Phiskey en pater in die een hand en my ma se cock-one in die ander, rustig by Elangeni Lodge terwyl Roxette oor die speakers die stilte verbreek.

Soms is dit nodig om net so bietjie weg te breek uit jou gemaksone uit en om die wêreld van die mense wat naby aan jou is te beleef. Dit bring ‘n anderste perspektief op die lewe. Avontuur kom vir die wat oop is vir vreemde ervarings. En hoenders kom vir die wat ver genoeg gaan soek!

Tot volgende keer...



Maandag 03 Oktober 2016

Pappa...


In stille afwagting het
pappa-hulle probeer beplan
gewonder hoe ek sou wees
enigmaties?

babadogtertjie, klein en fyn
peuter en kleuter
kind, rebelse tiener
elke treetjie saam my gestap
berispe, gekoester, geleer
liefde altyd gegee -
dit was wonderlike wondere
onthou pappa nog? 
weet en nie weet
se wonder

Jare se trane en lag
mamma my middelpunt
pappa my anker, as en dryfveer
wie my blinkoog drome
stukkie-stukkie waar laat word
wat nog altyd 
wag en wonder
op en oor my...

Sondag 25 September 2016

Die Juffrou en die Ranger

'n Mens se beroep (of toekomstige beroep, in my geval) bepaal nie werklik wie jy is nie, maar dit dra baie by tot die idee wat mense van jou vorm, veral in die vroeë stadium van 'n jong vriendskap.

So het die Juffrou (die uwe) en die Ranger (die nuwe vriend) besluit om ontbyt in die Wildtuin te gaan eet. Nonsens praat is aan albei kante 'n sterkpunt, so daar was darem nie awkward stiltes nie. Sommer vroeg-vroeg het ek geleer dat die woord "awkward" onsteltenis veroorsaak, juis omdat dit naby aan die Ranger se geboortenaam is en die geboortenaam is verbode terrein. 

Om saam met 'n Ranger in die Wildtuin rond te ry, kan nogals heel interessant raak... Ons het meer as een keer gerem dat die stof so staan om mis te bekyk of te ontleed hoe 'n bobbejaan gesterf het deur te kyk na die gedroogde vel. Ander kere kan dit heel frustrerend raak, want hy sien leeus wat jag en ek sien bome...

Dit daar gelos, kom ons so elfuur die oggend by die ruskamp aan, dood van die honger. Ranger moet eers sy hande gaan was, want hy het aan die bobbejaan se vel gevat en Juffrou vat nie nonsens nie. So loop ons en gesels met aaaaaallllll die besoekers wat tussen ons en 'n oop tafel sit. Al die mense waarsku ons teen die ape wat so 'n oorlas van hulself maak, maar elke keer verseker Ranger hulle dat die Juffrou net die aap 'n taai klap sal gee en dan sal hulle ons uitlos. Juffrou maak natuurlik 'n oorknoop... Die piekniekmandjie se inhoud was net op die tafel uitgepak toe die eerste aap 'n kans kom waag. Van die ander gaste het egter gehelp met 'n lang stok en die aap het spore gemaak.

Net toe ek so die eerste byt vat, sien ek in my bril se weerkaatsing net vier pote wat my van agter bespring. Die Ranger se oë was net so groot soos sy mond oop, maar daar was nie tyd om 'n geluid te maak nie. Veg of vlug skop toe in en almal weet tog dat ek nie vinnig genoeg is om weg te hardloop nie. Ek maak toe nou maar soos iemand wat weet wat sy doen en die Ranger het mos gesê die Juffrou sal klap... Die agterkant van my hand maak kontak met die aap se bek dat jy eers hoor hoe kraak sy kakebeen en toe die doef-doe-doe-doef geluid soos wat hy oor die grond rol. Dis net stof waar jy kyk. Die aap kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ranger kyk vir my. Ek kyk vir hom. Ek weet nie wie van ons drie die grootste geskrik het nie. Ek is ook nie seker wie is die meeste verbaas nie. 

"Ek het nie gedink jy sal dit regtig doen nie."

En dan tref die besef jou so hard soos wat jou hand die aap getref het: Die Ranger was nie ernstig oor die klappery en dit is nie die regte manier om van ape ontslae te raak nie, dit is die manier hoe jy hulle aanspoor om die "score te kom settle". Toe maak ons maar spore.

Ranger was maar stil gewees vir 'n redelike lang tyd. My ma het hom mos gewaarsku dat ek befoeterd kan raak. Dis nou maande later en hy koes nogsteeds as ek te vinnig beweeg terwyl hy in die omtrek is... So ry ons verder in Niemandsland in. 

Daar was niks gewees nie en die volgende oomblik is ons in die middel van 'n trop olifante. Ek is in die sewende hemel. Ranger is op sy stukke. Ek is nie seker of hy my probeer vermaak of bang maak deur so naby aan die olifante te kom nie. Hy praat met die olifante soos wat ek met my honde praat. En toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. (Die olifant was besig om ons te storm, as jy nou gewonder het wat aangaan). Ranger sluit nie die kar aan nie, hy gesels nog met die olifant langs ons. My binneste skree so hard dat ek nie besef daar kom nie 'n geluid by my mond uit nie. Die olifant was al amper op ons gewees, heel rustig, steek Ranger sy kop by die venster uit.

"Oi! Bos toe!"

En sal jy nou glo: Daar steek die olifant vas in sy spore dat die stof sommer so staan. Heel rustig draai hy om en draf terug in die bos in! My brein shortcircuit. Dit moes 'n lucky shot gewees het! Ranger gesels verder met die olifant langs hom asof daar niks weird sopas gebeur het nie. Ek besluit toe nou maar om eers niks te sê nie. Ek het in elk geval niks woorde nie. Ons ry so entjie en hy stop weer so reg onder die volgende olifant se neus, maar die keer aan my kant. Ek hou my maar braaf, die man weet mos wat hy doen. Ek laat toe dat die rustige manier wat hy met die olifant praat, my ook kalmeer. My hartklop het net rustig geraak, toe gebeur dit. My bloed raak yskoud. Weer. Ek kan nie weghardloop nie en wie veg nou teen 'n olifant? Toe vries ek maar. Weer. Ek sien my lewe voor my oë verby flits en dink ten minste gaan ek doodgaan op 'n plek waar ek gelukkig is. Weer. Heel nonchalant, steek Ranger sy kop by die venster uit.

"Oi! Bos toe!"

En daar hol die olifant!

Tot volgende keer...

Maandag 19 September 2016

'n Ousus se Hart

Vir Juandré



Ek onthou
"Liewe Jesus,
gee tog asseblief vir ons 'n boetie -
daardie een
wat ons gesien het op die kiekie"
Na 'n onseker wag in Something Fishy
'n waterpokkie-spikkel-gesiggie.
Dáárdie bruin-oog
pokkel-seëning-seuntjie
volgens wet nou
my nuwe boetie!

Ek belowe om
my mamma en pappa
met jou te deel
om elke dag met jou te speel
om jou te treiter, te kielie en te terg
(en so nou en dan te bederf)
om einas weg te piksoen
en om boetie-sussie dinge
saam met jou te doen.
Vir die klompie jaar al -
my harte-dief
Sakkie-lief
In my hart
vir altyd my boetie.

Ek ken nou
'n lank en lenige
toekomstige hartebreker -
'n broeiende bruin-oog
vol nonsens en streke
met raakvat sê-goed
maar effens onseker
Berispe, gekoester en geleer
Deur ONS ouers,
liefde altyd gegee.

Hier is jou ousus se hart:
Bloed is nie dikker as water
Dít was, is en sal jy 
altyd vir my wees:
my Sakkie-Lief
my hart se punt
my maatjie*

Sondag 11 September 2016

Maar die Grootste Hiervan is die Liefde

'n Facebook status van 'n vriend het my bietjie laat dink en ek kon net nie die rymwoorde vind om my gedagtes te verwoord nie...

"Wat die hart van seer is, loop die mond van leeg."

Soveel emosie opgesluit in presies elf woorde. Dis wyse woorde daardie: iets wat op ieder en elk van ons van toepassing is.

Elkeen van ons dra 'n bietjie seer saam met ons wat so diep weggesteek word, dat dit nie eers verwoord kan word nie. Die ding is net, as elkeen soveel seer met hom saamdra, hoekom steek ons dit dan weg agter maskers van valse geluk en voorspoed? Was 'n gedeelde smart nie maar nog altyd 'n halwe smart nie?

Aan die ander kant is alles maar 'n kwessie van siening. Ons hanterings-meganismes help dat die waters nooit te diep raak nie. Geloof het ons geleer dat alles gebeur met 'n doel en dat alles wat ons vandag moet deurmaak, ons sterker maak vir more.

Verder, as daar nie hartseer was nie, sou ons nie geweet het wat geluk is nie. As daar nie teenspoed was nie, sou ons nie voorspoed kon waardeer nie. As alles net maklik was, sou ons nooit die dryf gehad het om te werk vir 'n droom of ideaal nie. So, miskien is verwagtinge die oorsaak van alle seerkry, maar al wanneer ons verwagtinge skep is wanneer ons hoop het... En wat is ons sonder hoop?

'n Eenvoudige glimlag is genoeg om iemand se dag op te helder. Om iemand sterkte toe te wens, gee moed.  Net die gedagte dat daar iemand is wat omgee, iemand wat jou sal ondersteun maak nie saak wat nie, is dikwels al wat nodig is om daardie ekstra treetjie te gee in (dalk 'n onbekende) rigting van sukses.


Ons hoef nie mekaar se seerkry te weet nie. Ons hoef nie vir die wêreld te vertel van alles wat byt en wat stukkend is nie. Wat ons wel moet doen is om mekaar lief te hê. Onvoorwaardelik. En ons moet vir mekaar bid; bid soos wat ons nog nooit voorheen gedoen het nie, want vandag, meer as ooit van te vore, het ons mekaar nodig. Ek dank Vader elke dag vir my hartsmense waar liefde en gebed onvoorwaardelik vloei.

Liefde wat vloei uit ons monde en ons dade kan 'n seer hart genees. 'n Hart wat genees is, het 'n getuienis om te lewer. Seer los ons leeg, maar dit gee plek sodat ons met liefde gevul kan word.

"Wat die hart van vol is, loop die mond van oor..."

Liefde oorwin alles. Liefde maak geloof maklik. Liefde gee hoop. Liefde genees.

Tot volgende keer...

Sondag 04 September 2016

Malelane

My siel vind rus waar die mense-miernes grens

Aan olifant-buurt en soet tendens.

Laggend-stil dryf my gedagtes ver oor Krokodil kronkeldraaie

En die wildsbokke se watergatpaaie.

Laatmiddag roep 'n witkop-koning my tuis:

Anderkant seekoei se bad, dáár lê my huis!

Net 'n sifdraad tussen my voorstoep en die hel -

En dit is my hemel, kom muskiete, kruipende ongediertes of son fel. 

Donderdag 18 Augustus 2016

Spookmeisie van Spannervalley

'n Mens kry 2 tipes atlete. Die een groep is regtig ernstig oor hulle atletiek. Die ander groep is die lot met wie ek geassosieer het...

In my graad 8 jaar, het 11 van ons atlete, wat wissel tussen o/14 en o/19, saam op ‘n atletiekkursus gegaan. Ek kan nie onthou wat ons geleer het nie. Al wat ek kan onthou is dat ons was daar om sportprestasies te bevorder. En die matrieks was mooi gewees. 

Die "sports" het al begin toe ons agterkom dat die inwoners van Sasolburg hulle room “Spanners” noem. (In ons kontrei is die “Spanners” die spif vuilgatte wat ‘n Kips kan tune dat hy klink soos ‘n Harley op steroids.)

Daar gekom, word al 11 van ons, meisies en seuns deurmekaar, op dieselfde gang geplaas juis omdat ons so min is. Toe die organiseerder vir ons gids verduidelik dat ons bly op die boonste gang van die Wes-vleuel, toe hardloop die koue rillings op en af teen haar nek. Oppad boontoe, teen die duisende en duisende trappies op, vertel sy toe vir ons dat daardie gang spook. Die storie lui dat die dame het selfmoord gepleeg in die badkamer en tot vandag toe nog kom loer sy by die kamerdeure in opsoek na haar kamermaat.

Dit was volmaan gewees en die matriekseuns wou die dames beïndruk met hul manewales. Die hele lot van ons het uit die koshuis uitgeglip en op die maanverligte rugbyvelde gaan kuier. Die manne het getjank soos wolwe en dit "maankoors" genoem. Hulle het die meisies banggemaak en die fisiese kontak "ondersteuning" genoem. Die graad 8's moes gras pluk met 'n tweezer en hulle het dit "ontgroening" genoem. Die aand was 'n

belowende                                 geïsoleer van realiteit

                 legendariese            begin van die einde en einde van die begin         

nostalgiese               "Eye of the Tiger" 

tipe aand totdat ons vinnig-vinnig teruggejaag is kamers toe.

So vergeet ons van die girl, gaan stort en maak reg om te katel. Toe alles stil en donker is, vra my kamermaat vir my of ek dink die gang spook regtig. Natuurlik het ek die gedagte sommer dadelik afgeskiet en ons het tot ruste gekom.

Ek word wakker van ‘n nood wat voel soos ‘n damwal wat dreig om te breek. My selfoon wys dis presies 02:00. Ek hoor net my kamermaat se rustige, diep asemhaling. Ek staan op en loer by die deur uit. Die badkamer is aan die anderkant van die gang. Die gang het so sieklike, gelerige skynsel van die gloeilampe se lig en moontlik die kleur van die muur. Ek sluip in die gang af. Jy kan ‘n speld hoor val. In die badkamer kan jy net die egalige zzzzzzz geluid hoor van die buisligte. Toe my broek op my enkels lê, vang die lig so dip. Skielik is ek bewus van die spookstorie. En die penarie waarin ek myself nou bevind!

Ek loer by die badkamer se deur uit en besef meteens dat dit was maklik om hier te kom, want ek het in die lig in na die badkamer gestap. Nou moet ek in die donker in terug na my kamer toe stap. En dis ‘n laaaaaaang gang... Die gedagtes is nog nie koud nie, toe dryf die eerste staccato knal my nekhare regop en my oë wyd oop. Die lig die naaste aan die badkamer het sopas afgesit. Die tweede staccato knal het ‘n sprint my ontketen wat vir Usain Bolt trots sal maak. Die ligte sit nou af so vinnig soos wat ek verby hulle vlieg... en toe tref die paniek my: Ek weet nie watter kamer is myne nie!

Ek ruk aan die eerste deur, maar dit is gesluit. Ek pluk die volgende deur oop en stop dood voor die bed toe ek sien daar is klaar ‘n figuur onder die duvet. Teen hierdie tyd is die gang stikdonker. My paniekaanval begin grens aan dierlike instink. Soos ‘n vaartbelyne Jaguar wat sy prooi bespring, spring ek in die volgende kamer se bed in, hande-viervoet bo-oor ‘n blonde figuur wat lê in die bed wat ek gedink het is myne. Hy gil. Ek vlieg by die deur uit. Al wat ek kan hoor is my eie hartklop, rukkerige asemhaling en ‘n matriekseun wat gil. In die volgende kamer loer ek eers in die bed in voordat ek inklim. Sy gil so hard dat ek eers geskok staan en kyk vir ‘n paar sekondes voordat ek by die deur uitstrompel. Die kamer heel op die punt is myne. Ek weet dit want my kamermaat het klaar die lig aangesit as gevolg van al die gille en lyk asvaal daar waar sy op haar bed in haar kombers toegevou sit. Ek slaan die deur agter my toe. Ons kyk net vir mekaar. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, is my asemhaling uiteindelik weer amper normaal.

Ek moes 'n paar keer vir haar verduidelik presies wat gebeur het. Ek het angsvrees beleef en so ook die ouer kinders. Sy wou haarself breek! Die ligte was egter 'n raaisel. Ons het daardie aand gepinkie-promise dat die waarheid nie "die lig sal sien" solank as wat ons minderjarig is nie. 

Die volgende oggend toe ek die lig aansit om te gaan tandeborsel, kom ek agter dat die ligte is in serie geskakel. Hulle sit aan soos wat die elektrisiteit deur hulle vloei en as jy dit afsit, kan jy sien hou die elektriese stroom onttrek: die ligte sit een vir een af! Iemand moes die lig afgesit het terwyl ek in die badkamer was. (Dat 'n mens tog nou jouself allerhande dinge kan wysmaak as daar spookstories betrokke is... gmf!) Die stories aan die ontbyttafel was egter die beste:

“Jislaaikit, ouens! Sy was bo-op my gewees! Haar oë is so rooi soos bloed en sy het met haar swart naels my oë probeer uitkrap.”

“Dis nog niks nie, sy het net langs my bed gestaan en vir my gestaar!”

“Wat?! Sy was saam met my in die bed gewees totdat ek begin gil het, toe verdwyn sy net!”

Ek en my kamermaat het maar net doodstil gesit en luister na die ouer kinders se ervarings met die spookmeisie. Die arme girl is nou ‘n verskriklike karakter. Sy het lang swart hare, rooi oë en lang, vuil vingernaels. Haar wit nagklere is geskeur en sy kom net uit as dit volmaan is.

In die proses het ek geleer dat ‘n mens trek nie wit nagklere op ‘n toer aan nie en jy gaan loop jou draaie voordat jy gaan slaap.


Tot volgende keer...

Sondag 03 Julie 2016

Aventure Nocturne


Want die son het gesak -
oor die bergtoppe verdwyn

die maan kruip dan nader

en die sterretjies begin te skyn

en die menslike geskarrel 
word tot vensterliggies beperk
en die samelewing sug saggies
na 'n lang dag se werk

So die kriekies kriek 
'n wiegieliedjie saam
die paddakoor hou tyd
en die nag roep my naam!

Dan verlaat ek die veiligheid
van my bed en komberse knus
en betree dan die donker
en word van my sintuie bewus

en dan ruik ek die koue 
wat sy arms om my vou
en met sagte liefkosings
adrenalien in my bou

en dan sien ek met my ruggraat
die skaduwees bly in pas:
op die ritme van die stilte
dans ons oor die doudruppelgras

en die nag kry dan lewe
en my hart kry dan rus
so is ek draaiend en swaaiend
tot 'n droomwêreld gesus...



Vrydag 24 Junie 2016

Boekmerk


Hierdie is 'n eenvoudige projek wat binne 5min 
afgehandel kan word.


Benodighede

  • Tang
  • ketting
  • charms
  • silwer ringetjies
  • Boekmerkpennetjie

Metode

  • buig die ringetjies oop soos op die foto.
  • Haak die charm en die ketting.
  • Buig die ringetjie toe
  • herhaal :)

Saterdag 18 Junie 2016

Tekenvaardigehede: Potlood #01 - Inleiding

Enige nuwe vaardigheid begin altyd met die basics. Meeste van die tyd is dit 'n shlep om dit aan te leer, maar dit is die moeite werd... Almal het êrens begin; min mense is 'n gebore Da Vinci!


"The master has failed more times than the beginner has even tried."

 - Stephen McCrainie


'n Mens kry 2 verskillende tipes potlode. 

Harde potlode word gemerk met die letter H voor die nommertjie, bv. H2, H3, H4. Harde potlode word gebruik vir sketse wat meer akkuraatheid verg, bv. tegniese tekeninge.

Tipes harde lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die H-reeks potlode geteken sal word




Die HB potlood is die potlood wat tussen die 2 uiterstes inpas.

Sagte potlode word gemerk met die letter B, bv. 2B, 3B, 9B. Hierdie tipe potlode is ideaal vir sketse waarmee die kunstenaar tekstuur skep of dalk diepte wil uitbeeld.

Tipes sagte lyne



Voorbeeld van 'n tipiese skets wat met die B-reeks potlode geteken sal word



Oefen daardie fyn motoriese vaardighede... Tot volgende keer!

Verwysings

Stanyer, P.  2003.  The Complete Book of drawing techniques - A professional guide for the artist.  London: Arcturus Publishing Ltd.

Woensdag 15 Junie 2016

Gym Junkies en Griekse Gode




Dit het my ‘n rukkie gevat voordat ek by die PUK se gym gaan aansluit het. Ek is nou nie die mooiste, maerste meisie nie, so om enigsins tussen ‘n klomp bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkies vir die eerste keer op ‘n treadmill te klim, kan nogals vreesaanjaend wees...

Dit het my ‘n rukkie gevat om vir die eerste keer gym toe te gaan nadat ek aangesluit het. Ek het myself gemotiveer met, “om vir vet mense by die gym te lag is soos om vir pasiënte by die hospitaal te lag. Niemand sal vir my lag nie. Hulle sal my nie eers raaksien nie. Ek sal maar net stilletjies in en uit glip.” Een oggend het ek net die besluit geneem. Vandag is die dag. Nou is die oomblik.

Ek kyk op my horlosie. Die lang armpie raak-raak net so aan die twaalf en die kort enetjie mik vir die vyf. Dit neem my ‘n rukkie om te registreer hoe laat dit is. My boekesak bevat vier handboeke en ‘n hoop notaboeke. Ek loop tussen die SS en die amfi deur. My sak raak swaar. ‘n Ligte waterlagie vorm op my voorkop. Om my gaan alles net normaal aan, asof daar niks vreemd besig is om te gebeur nie. My franse vlegsel wat perfek volgens die koshuis se voorskrifte vir eerstejaars gedoen is, is so styf dat dit voel of ek my haargroei probeer versnel. Met my R80 PEP tekkies bekruip ek amper die gym se eerste draaihek. Ek vleg deur die ry studente wat ongeduldig voor die deur by die kitsbank staan en wag.

Die gym ruik vreemd; amper soos ‘n mengsel van vars sweet, skoonmaakmiddels en rubber. Die gangetjie is effens donker. Elke man wat verby my stap is gebou om te hou en elke dame is ten minste kop en skouers langer as ek. Geluide wat spreek van pyn, motivering, oorwinning en telleurstelling ego vanuit die muurbalbane se rigting agter my aan. Daar staan drie Griekse Gode by die hek aan die linkerkant en ‘n ligte uriene reuk vanaf die regterkant sê sommer duidelik wie se kleedkamers aan die ander kant is. Dis my beurt om deur die hek te gaan.

Skielik begin ek twyfel of my grootte 14 broek regtig so klein is. Hierdie gym draaihek diskrimineer teen enigiemand wat groter is as dit. En ek het nog my sak ook by my! Met ‘n effense gespook kom ek deur die hek. Ek is in die gym. Hierdie gym diskrimineer teen meisies met ‘n lae selfbeeld. Ek moet eers deur ‘n hele vertrek vol Johnny Bravo’s stap om by die treadmills uit te kom. My moed is klaar in my skoene en ek het nog nie eers begin nie!

Liewe Jesus het geweet wat ek nodig het en terwyl ek nog besig is om knoppies willekeurig te druk met die hoop dat die ding begin, stap een van my hartsvriendinne in die gym in. Goose is van dieselfde kaliber as ek. En dis haar eerste keer ook! Ten minste weet sy hoe die nagmerrie-masjien werk. Sy sit myne vir my aan en klim op die een langs my. 200m later het ek nou genoeg gehad! Goose se wange is bloedrooi. Ek dink sy het ook nou genoeg gehad. Net toe ons wil afklim, klim Apollo en Poseidon weerskante van ons op die treadmills. En Zeus klim op die roeimasjien voor ons. Net een kyk in Goose se rigting, toe weet ek: Ons gaan nie binnekort ophou nie! Elke keer wat ek voel dat ek wil opgee, kyk ek net in Zeus se rigting en een van sy onnatuurlike wit glimlagte is sommer genoeg om my spoed te verdubbel. Elke keer as ek my gesig wil trek van die pyn, sien ek net Apollo uit die hoek van my oog en dan smile ek sommer weer breed! Die Griekse Gode gee aan Goose ook sommer bonatuurlike krag. Sy lyk gedetermineerd. En sy snol! Ek het nie eers geweet sy het dit in haar nie. Ek dink nie dat sy het eers geweet sy het dit in haar nie.

So vyf kilometer later begin ek sterretjies sien. Ek dink ek het nou regtig genoeg gehad. Goose slat neer op die vloer langs die treadmill. Sy is spierwit in haar gesig. Zeus en sy trawante hou ook op sprint. Hulle is nie eers kort van asem nie. Ek maak asof ek nie vir Goose ken nie. Sy lyk soos ‘n oormoeg, hardkoppige kleuter wat daarop aandring om verder in die sandput te speel lank nadat dit eintlik slaaptyd was.

Ek drentel terug na die hek toe. My sak weeg ‘n ton! Ek kyk nie eers vir die Johnny Bravo’s langs my nie. Ek tree in die hek in en....

Op een of ander manier het ek dit reggekry om my bene tussen die hek en my boeksak te laat vassit. Ek kan nie vorentoe of agtertoe nie! Agter my bars Goose uit van die lag. Die gym-reuk vou sy vingers om my keel en ek begin weer sterrietjies sien. Dit voel of my eie digtheid minder is as dié van die beknopte spasie waarin ek myself nou bevind. Ek probeer spring. Niks. Ek probeer skuifel. Niks. Ek raak benoud! En Goose lê soos wat sy lag! Uit die op en aanmerkings wat my laer as erdwurm afskeidings laat voel, verneem ek dat ek het nou ‘n gehoor wat my spektakel aanskou. Die trane brand vlak in my oë.

“Jy wou my mos alleen gelos het!”

“Bra! Check daai cherry sit in die hek vas!”

“Ag shame, sy’s seker maar ‘n wannabe plus-size model.”

“Ek wil jou lyf in ‘n bikini sien!”

‘n Groot hand vat aan my skouer en ‘n stem wat klink soos Arabica koffie, heuning en ‘n kaggelvuur in die winter sê ‘n woord wat ek nie verstaan nie. My eie sinnelose hardop gebrabbel maak die woord onduidelik. Wag, dit is my naam. Die stem sê my naam! Ek bly stil en hou op met spartel. “Liz, klim bo-op die hek, dan sal ek hom draai.” Dit neem my ‘n rukkie om te registreer wat die stem sê. Ek is gehoorsaam. Die hek draai en toe daar genoeg spasie vir my is om uit te kom, tuimel ek gat-oor-kop in die gangetjie in. Dis net boeke wat waai en ‘n waterbottel wat rol, maar ek steur myself glad nie daaraan nie. Ek moet net hier wegkom!

Ek strompel reguit vorentoe in die kleedkamers in. As die aarde my tog net kon insluk! EK het lanklaas my naam so gat gemaak. My sitvlak maak sommer so doef-geluid soos wat ek op die vloer neerplak. Moedeloos en seer, begin ek stadig die vervlakse vlegsel wat my hare so trek losmaak. Ek kastai myself sover as wat ek gaan. Hardop. “Flippen Griekse Gode met met heuningwarm stemme en elendige hekke en Goose lag seker nou nog en jy sit hier en...” Iemand maak langs my keelskoon. Ek kyk op...

Apollo staan by die urinaal. Rooi vlamme kruip in sy nek op tot by sy alreeds skarlaken-ore. Ek sit versteen teen die muur – hierdie dag kan nie erger raak nie! Toe kom Zeus in met al my boeke in sy hande. Daardie stem wat my gered het behoort aan hom! “Liz, ek het gehoor toe jou vriendin jou naam gesê het. Hier is jou boeke, maar hierdie is die manskleedkamer. Die dameskleedkamer is net so entjie in die gang af.” Hy glimlag weer. Dis naby aan die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sy stem is sag en vertroostend. Daar is geen spot daarin nie; dit klink soos opregte omgee. Sy goudbruin oë spreek egter van ‘n ander storie. Ek voel nog kleiner. Apollo maak weer keelskoon. Ek besef die man se nood is dalk groot! Ek glimlag braaf (al loop die trane) en vat my boeke by die engel.

Om by daardie deur uit te stap was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. My skare het gejuig... Goose se trane het geloop soos wat sy gelag het. Poseidon het nonchalant teen die deur geleun met my waterbottel in sy hand. Die terg het ook vlak in daardie twee oseane waaruit sy oë bestaan, gelê, maar hy het genadiglik niks gesê nie.

Nodeloos om te sê, ek het maar by Virgin Active gaan aansluit vir die res van die jaar en later eers weer by die PUK gym; ‘n paar kilogramme ligter en spiere wat net-net harde werk begin wys. Die motivering het gebrand met die herinnering aan twee goudbruin oë en ‘n stem wat melodieë skep vir oakmoss en sandalwood om te harmoniseer.

Vandag is die Griekse Gode my beste vriende... My dag van glorie was tog die moeite werd gewees.

Tot volgende keer...

Sondag 12 Junie 2016

Kleinsus se klavier


"... Haar vingers ken die pad
opgesluit in wit en swart - 
Die klavier se grootste vreugde,
hartseer en verlange;
Verstaan die hart se diepste smart..."

As haar melodieë so inmekaar vloei
soos wat haar vingers oor die ivoor dans
en balke met note in haar geestesoog vorm
om nooit deur ander gesien te word nie
maar wel gehoor te word;
gevoel te word...

Dan meng haar musiek 
met die wysie 
wat jou hartsnare speel.
Dan vir 'n oomblik,
net een oomblik,
sal sy haar diepste binneste
met jou deel.

O, my siel, vind rus;
my hoop kom van God.
Só spreek Hy sonder woorde
tot jou gees -
dra Sy stem in Sy dienaar se akkoorde
om jou te bemoedig as dit voel 
of alles net te veel wil wees.

As sy begin speel
word ek stil
en luister
-veral in my donkerste uur-
na die bemoedigende geluide
van my kleinsus se klavier....

Donderdag 09 Junie 2016

Piesang en Grondboontjiebotter smoothie


Vir hierdie resep het jy 'n blender nodig
1 Porsie

Bestandele


  • 1 piesang
  • 1 eetlepel grondboontjiebotter
  • 4 eetlepels joghurt 
  • 60ml melk
  • mespunt kaneel

Metode

  1. Gooi al die bestandele saam
  2. Blend totdat die piesang fyn is en die grondboontjiebotter mooi ingemeng het
  3. Hou dit koud totdat dit bedien word.
Minder melk en meer joghurt sal 'n meer 
romerige smoothie tot gevolg hê.


Maandag 06 Junie 2016

DIY: Decoupage Coasters

Moeilikheidsgraad: Medium
Tyd: dit vat nie so lank om te decoupage nie, maar dit vat lank om droog te word. Sit ten minste 2 dae uit vir hierdie projek.



Benodighede:


  • Plain coasters
  • Acrylic gel medium/ gel medium
  • Fotostate van jou gekose prentjies
  • Wit verf
  • Kwas
  • Opsioneel: swart verf
  • Opsioneel: vernis

Metode:

  • Let op dat die prentjies wat woorde by het, in spieëlbeeld geprint is (inverted).
  • Die oppervlak waarop die prent geplak word, moet 'n ligte kleur wees, want die Gel medium verplaas die ink vanaf die papier na die hout.
  • Ek hou van swart, so ek het die stukkies hout wat nie met die prente bedek is nie, swart geverf. Dit is opsioneel. 
  • Stukkies afval-hout werk net so goed, dis nie nodig om coasters ten duurste aan te koop nie.
  1. Verf die coasters wit en laat dit droog word.
  2. Verf 'n lagie Gel Medium oor die wit verf en plak die prentjie met die ink na onder vas.
  3. Vryf al die lugborrels uit en laat dit droog word.
  4. Wees geduldig vir hierdie stap. Maak die papier nat met 'n sponsie en vryf dit saggies sodat die papier afkom in sulke dun, opgerolde stukkies. Moenie te hard vryf nie, anders gaan die ink saam met die papier afvryf.
  5. Opsioneel: verf 'n lagie vernis oor sodat dit 'n blink afwerking het.






Donderdag 02 Junie 2016

Juffrou Sannah se Tackle

Amanuensis: As ‘n kind te stadig skryf of sukkel om te lees tydens die skryf van ‘n eksamenvraestel, dan kan die betrokke ouers aansoek doen vir amanuensis; dit is ekstra tyd of iemand wat as ‘n skribeerder optree om die kind te help


Die tye wat ‘n mens die lekkerste lag, is gewoonlik die tye wat ‘n mens juis nie moet lag nie...

In die eksamentyd is orde van kardinale belang. Daar moet stilte wees, skryfsessies moet met presiesheid hanteer word en die betrokke leerlinge moet met ‘n ysterhand regeer word. Vir hierdie rol is meneer Danie perfek – met sy militaristiese presiesheid en sy regop en fier houding, is daar bittermin tye wat die eksamenregulasies nie tot op die jota gevolg word nie.

Ongelukkig is militaristiese presiesheid nou nie juis ‘n karaktertrek wat baie van die skoner geslag deel nie. Gewoonlik wanneer dit by Eva kom, reguleer emosies gedrag en nie die eksamenregulasies nie. Juffrou Marlese is geen uitsondering nie. Sy het die rare talent om altyd die positief en die humor in enige gegewe situasie te sien. Om pakkies van tien vraestelle elk liniêr op ‘n tafel uit te pak met ‘n centimeter spasie tussen elk, is nou nie juis iets wat sy as belangrik ag nie.

Juis daarom is dit ideaal om tydens die skryf van ‘n eksamen twee mense soos meneer Danie en juffrou Marlese saam te laat toesig hou, een om te sorg vir die eksamenregulasies en een om te sorg vir die kinders... En wanneer jy gelukkig is genoeg is om so ‘n formidebale kombinasie te hê, dan is die kanse vir ‘n onvergeetlike oomblik baie goed... Veral as jy ‘n oujongnooi uit Zambië by die sommetjie voeg...

Een wintersoggend hou meneer Danie en juffrou Marlese saam toesig in ‘n eksamenlokaal vol graad sesse en sewes. Om die byt in die lug af te weer, staan meneer Danie in die lokaal se deur met sy rug in die son en bak terwyl hy die skrywende leerlinge met ‘n valkoog dophou. In hierdie spesifieke groep kinders, is daar ‘n seun wat amanuensis moet kry. Net so voordat die tyd verstreke raak, besluit juffrou Sannah, wat in die klas langsaan is, sy wil net kom kyk of hierdie kind sy vraestel klaargekry het en of hy nog ekstra tyd moet kry.

So stap sy doelgerig, n vrou op ‘n missie van omgee en besorgdheid, om na die kind se welstand te gaan omsien. Reg voordat sy by die klas instap, haak haar voet aan ‘n trappie vas en die volgende paar oomblikke het gevoel soos jare wat verbygaan.

Met haar grys krulhaartjies en bloes wapperend in die wind, besef juffrou Sannah meteens dat die vloer stadig maar seker, eintlik teen ‘n baie vinnige pas nader kom. Meneer Danie sê dat hy het dit sien kom, maar almal weet hy het nie... So gryp die oujongnooi vir meneer Danie van agteraf in ‘n ystergreep om die heupe. Met juffrou Marlese wat die petalje van binne aanskou stormloop die twee mense die klas binne met juffrou Sannah aan die stuur. Party sou sê dat hulle het gelyk soos ‘n stoomtrein sonder brieke. Ander sou sê dat juffrou Sannah ‘n tackle aan haar het wat vir Bryan Habana sal laat skaam kry. Meneer Danie sê dat hy al gesien het hoe gryp hy vir juffrou Marlese op dieselfde wyse wat juffrou Sannah hom gegryp het en hoe hulle al drie op ‘n bondel voor in die klas op die vloer beland. Gelukkig is hy nie ‘n man wat sommer deur ‘n oujongnooi platgetrek kan word nie...

Voordat juffrou Sannah die stilte verbreek, skuif sy eers, heel verleë, haar brilletjie reg met ‘n bleek meneer Danie en giggelende juffrou Marlese wat mekaar grootoog staan en aanskou.

“Skuus Meneer, hoe moer ek nou in die klas in.”

En toe is dit verby. Juffrou Marlese kon dit net nie meer beheer nie. Die lagbui wat haar oorval het, was heel moontlik een wat stories oor donderweer en reuse in Dwergieland sou inspireer. Teen hierdie tyd het die kinders hul belangstelling in die vraestel laaaannnnnkkkaaaaallll verloor. Almal wil net weet of juffrou Marlese orraait is. Om orde te herstel, vra meneer Danie haar om asseblief die lokaal te verlaat totdat sy haarself onder beheer het.

Sy het om die hoek gaan staan om haarself reg te ruk, maar die hele skoolterrein kon haar in elk geval hoor. Net as sy dink sy het alles onder beheer, vang sy ‘n glimps van meneer Danie se agterkop en dan is die hele proses maar net weer van vooraf terwyl die man geduldig staan en wag dat die storm oorwaai.

Eventueel daal ‘n rustigheid oor juffrou Marlese en sy kry die moed om weer terug te gaan in die klas in. Heel besorgd vra meneer Danie haar of sy orraait is. ‘n Beheersde, “Ja”, was al wat meneer Danie nodig gehad het...

“Reg so, Juffrou, kan ek asseblief nou my beurt kry om die klas te verlaat?”

En ‘n statige man staan en proes om die hoek.

Tot volgende keer...

Dinsdag 31 Mei 2016

Stuiwer vir 'n platsak student


Rinkink, plesier en jolyt
Op maanbepoeierde aande
elke geleentheid uitbuit
om jonkwees te vier
-en heel moontlik te vergeet
die lewe is duur-
maar so sal ons, besonke in
ons jeugdige naïewiteit,
leer om te lééf
en vriendskappe te sluit.

Dan makeer middelmaand
en ons sit met 'n kompleksie
want plat beursie gaar stof
en die koskas kry voete,
of so blyk dit uit die inspeksie.
Dinge gaan rof
en 'n tekort aan fondse
raak soos 'n algemene studente-infeksie...

Dit is dan so beslote
Pa sal moet weet!
met gemoed befloers
en hande wat sweet
en bewerige arpeggio-note
sing ons die bekende deuntjie
wat geen ouer kan vergeet: 

Ag Pa, 
boeke kos mos
'n arm en 'n been
kan ek asseblief 'n stuiwer
tot die einde van die maand leen?